God rig jou treë

2018-08-13
Psalm 37:23 NLV

Elia se lotsbestemming was om op Karmelberg te staan, vuur uit die hemel af te roep en Israel van afgodery te red. Hy kon egter met net een tree op ‘n slag daar kom. Dis hoe God werk. Eers het God hom na die Kritspruit gestuur (Krit beteken ‘verbond’). Op ‘n punt in jou geestelike reis moes jy al ontdek het dat God ‘n God is wat verbonde maak en dit nakom. Hy het die Jordaanrivier wonderbaarlik laat opdroog, ‘n byl laat dryf en visse in ‘n leë net laat inswem – bewyse dat Hy sy beloftes hou. Toe God vir Elia na die Kritspruit gestuur het, het Hy vir hom gesê, ‘…Ek sal die kraaie beveel om vir jou kos te bring’ (1 Konings 17:4 NLV). As Elia elders gegaan het, sou God nie aan sy behoeftes voldoen het nie. Omdat ‘n verbond tweesydig is; wanneer jy jou deel doen, sal God syne doen. Vervolgens het God vir Elia na Sarfat gestuur en gesê, ‘…Daar woon ‘n weduwee. Ek het aan haar opdrag gegee om vir jou te sorg’ (vers 8 NLV). Dink daaroor: God het ‘n vleis-etende voël en ‘n arm weduwee gebruik om vir Elia te sorg, hou dus op om in Hom te twyfel! Die Bybel sê, ‘Die Here bepaal die rigting van ‘n mens…’ As jy waarlik in die Skrif glo, hoekom kla jy, bekommer jy jouself en probeer alles uitpluis in plaas daarvan om op Hom te vertrou? ‘Sarfat’ beteken ‘n ‘smeltkroes,’ ‘n plek waar metale gesuiwer word. As jy dus vandag deur ‘n vurige toets gaan, wees bly – God is besig om die goud in jou karakter van die onsuiwerhede te skei. Wanneer jy die toets by die Kritspruit en Sarfat geslaag het, sal jy gereed wees vir die seën by Karmelberg!

Sielskos: 1 Kro 12:23-15:29; Luk 12:35-48; Ps 119:33-40; Spr 20:28-30