Laat dit gaan!
2018-08-10Genesis 21:10 NLV
Toe Abraham probeer het om God se plan te verhaas en dit deur goed-bedoelde, maar ondeurdenkte menslike pogings probeer vervul het, is Ismael gebore. Miskien het jy al self iets soortgelyk probeer. Ons almal het ons ‘Ismael’ – ‘n goeie idee wat nie God se idee was nie. Dit kan jou lewe kompliseer. Dus het God vir Abraham gesê, ‘…Raak ontslae van die slavin en haar seun!..’ Met ander woorde: ‘Dis tyd om jou verlede te hanteer. Hierdie ding hou jou terug en totdat jy dit hanteer het, kan jy nie vorentoe na jou doelwit beweeg nie. Kry dit uit jou lewe uit en moenie terugkyk nie!’ Soms kan jou wonderwerk (Isak) en jou fout (Ismael) vir ‘n tydperk saam onder jou dak woon. Dinge kan so goed in een area van jou lewe wees, en tog so sleg in ‘n ander area. Daar kom egter ‘n tyd wanneer God sê, ‘As gevolg van die planne wat Ek vir jou het, moet jy hierdie ding uit jou lewe laat gaan.’ Dis nie maklik nie. Dis pynlik om dit wat jou vlees na smag of kosbaar ag, te laat gaan. Jy het egter net twee opsies: Om deur jou emosies gelei te word en God se beste mis te loop, of om te sê, ‘So lief soos wat ek vir hierdie persoon of ding is, het ek die Here liewer.’ Wanneer jy gewillig is om weg te loop van iets wat jy gedink het jy moet hê, omdat jy liewer vir God is, word dit ‘n ‘…voortdurende lofoffer aan God…’ (Hebreërs 13:15 NLV) genoem. Wanneer jy dit aan God offer, posisioneer jy jouself om ‘n nuwe vlak van sy seën te ontvang. Praat God vandag oor iets soortgelyks in jou lewe met jou? Indien dit die geval is, laat dit gaan!
Sielskos: 1 Kro 7:20-9:44; Luk 12:13-21; Ps 119:17-24; Spr 20:22-24