2018-09-03
Psalm 83:19 NLV
Die Israeliete het God Jehova genoem, ‘n naam wat hulle as onberispelik en onverklaarbaar gesien het. Die naam beteken die ‘self-bestaande Een,’ en die ‘Ek is.’ Hy was die Skepper van alle dinge; ‘n wonderbaarlike en onkenbare Opperwese. God het egter begeer om op ‘n persoonlike manier geken te word. Dus het Hy vyf onthullende titels by die naam Jehova gevoeg – woordportrette van Homself wat ons help om Hom beter te verstaan. Israel het hierdie woordportrette gedurende krisistye en tye van nood ontdek; en hulle sal jou in jou tyd van nood seën en bemoedig. Kom ons kyk na elkeen van hulle. Jehova Jireh: Die Here sal sien, die Here sal voorsien. Abraham was op die punt om sy seun te offer toe God hom van ‘n lam voorsien het om in Isak se plek te geoffer te word. In reaksie daarop het Abraham Hom Jehova Jireh genoem, die Here wat sien en voorsien. Dit is nie net op Abraham van toepassing nie. Die Nuwe Testament sê dat die Here jou behoeftes sien en antwoorde voorsien. Jesus het gesê, ‘…Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het’ (Matteus 6:32 NLV). Soos ‘n besorgde, waaksame, oplettende ouer wat in elke behoefte van sy kind voorsien. Voor ‘n kind se skoene deurgeloop is, voorsien ‘n goeie vader hom van nuwes; sy kind het nie nodig om te smeek, te onderhandel of te pleit nie. ‘Hoekom het ek dan nie dit wat ek wil hê nie?’ vra jy. Omdat God weet wat jy regtig nodig het. Wat jy as ‘noodsaaklikhede’ sien, mag dalk eenvoudig net ‘wil hê’ in God se oë wees. Onthou – Jehova Jireh sien jou behoeftes raak en sal aan hulle voorsien!
Sielskos: Jos 5:1-8:29; Luk 19:11-27; Ps 103:1-12; Spr 22:27-29
2018-09-02
Romeine 8:31 NLV
In sy familie se oë, sou Dawid nooit iets meer as ‘n skaapwagter wees nie (sien 1 Samuel 16:11-12). In God se oë was hy egter Israel se volgende koning. Dis snaaks hoe mense ons die oomblik wat ons gebore is, begin kategoriseer. Iemand sê, ‘Jy lyk net soos so-so,’ of oortuig jou dat jy net ‘n gemiddelde student of ‘n ‘plain jane’ is. Voor jy jou oë uitvee, begin jy hulle opinies glo. Sommige mense het gedink dat Timoteus te jonk is om ‘n leier te wees. Dis hoekom Paulus aan hom geskryf het, ‘Moenie dat enigiemand minder van jou dink omdat jy jonk is nie…’ (1 Timoteus 4:12 NLV). Ons lys van ander mense se waarneembare tekortkominge kan hard en onversoenbaar wees. Dit sluit dinge in soos om arm te wees, onopgevoed te wees, fisiese en geestelike uitdagings te hê of etnies verskillend te wees. Dit neem selfs die dom foute wat hulle jare gelede gemaak het in ag. Sou jy oor dieselfde kam geskeer wou word? Nie so gedink nie! Toe Adam Clarke, een van Engeland se produktiefste agtiende eeuse predikers jonk was, het sy pa vir Adam se onderwyser gesê dat hy nie dink dat Adam goed in die skool sou presteer nie. Die onderwyser het geantwoord, ‘Hy lyk vir my baie slim en wakker.’ Adam het daardie woorde gehoor – en dit het sy lewe verander deur hom uit die boks uit te haal waarin sy pa hom gesit het. Clarke het twee-en-sewentig jaar oud geword en ‘n beroemde Metodistiese prediker geword. Raak dus van jou beperkende gedagtes ontslae en begin droom. ‘Wat sal ons dan van al hierdie wonderlike dinge sê? As God aan ons kant is, wie kan ooit téén ons wees?’ Met God aan jou kant, kan jy die bo-punt van die leer bereik!
Sielskos: Fil 2:5-11; Op 19:11-16; Hand 3:1-16; Matt 1:18-21
2018-09-01
Genesis 32:25 DB
Wanneer jy probeer weghardloop van God af, hardloop jy om elke draai in Hom vas. Dit het met Jakob gebeur. Hy het van sy broer, Esau, se woede af weggehardloop en toe dinge te warm vir hom by sy skoonpa se huis raak, het hy ook daarvandaan weggehardloop. Uiteindelik, toe hy nie meer kon hardloop nie, het hy in God by ‘n plek genaamd Pniël vasgehardloop. Dit is daar wat sy naam van Jakob, die bedrieër, na Israel, wat ”n prins met God’ beteken, verander is. Die Bybel sê: ‘Jakob het alleen duskant die rivier agtergebly. Terwyl hy nog so staan, het ‘n man hom skielik gepak en hulle twee het begin veg. Dit het tot dagbreek die volgende oggend aangehou. Toe die man sien Jakob is te sterk vir hom, het hy Jakob ‘n laaste harde hou op die heup gegee. Dit was so erg dat die heup heeltemal uit sy potjie gespring het. Die man sê toe: ‘Los my tog nou, want dit is al dagbreek.’ Jakob het toe gesê: ‘Ek sal nie. Voor ek jou los, moet jy my eers seën.’ ‘Wat’s jou naam?’ stotter die man. ‘My naam is Jakob,’ het Jakob geantwoord. ‘Van nou af,’ sê die man, ‘sal hulle jou Israel noem. Nie meer Jakob nie, maar Israel.’ Die man het verder gesê: ‘Vannag het jy teen God en mens geveg, en gewen’ (verse 24-28 DB). Toe God Jakob se heup ontwrig het, het Hy in wese vir hom gesê, ‘Jou dae van weghardloop is verby, en jou mankheid sal ‘n konstante herinnering aan jou totale afhanklikheid van My wees.’ Ons almal het ‘n ‘Jakob-ervaring’ nodig. Alles wat Jakob nodig gehad het, het hy gevind toe hy in God se arms ingehardloop het. Dieselfde is waar vir jou.
Sielskos: Jos 1-4; Luk 19:1-10; Ps 84; Spr 22:24-26
2018-08-31
Markus 14:3 NLV
Onthou jy die prostituut wat vir Jesus gesalf het? ‘…Tydens die ete kom daar ‘n vrou in met ‘n albaste fles vol egte, baie duur aromatiese olie. Sy breek toe die seël van die fles en gooi die olie oor Jesus se kop uit.’ Sy het haar kosbaarste besitting vir Jesus gegee. Nie net was dit baie waardevol nie, dis was ook deel van haar aantrekkingskrag. Deur dit oop te breek was haar manier om met haar verlede te breek. Onthou jy die herlewing wat in Efese uitgebreek het? Diegene wat towery beoefen het, het hulle boekrolle in die openbaar verbrand. Die waarde van daardie boekrolle word op 50,000 dragmas geskat. ‘n Dragma was ‘n silwer muntstuk wat ‘n dag se loon werd was. Dis 138 jaar se lone! Hulle kon daardie boekrolle verkoop het en die geld in hulle sak gesteek het, maar dan sou hulle hul siele verkoop het. In plaas daarvan het hulle ‘n stelling van R43,825,783.15 gemaak. Ons probleem is dat ons wil hê dat God iets nuuts vir ons moet doen, terwyl ons dieselfde ou ding aanhou doen. Ons wil hê dat Hy ons omstandighede moet verander, sonder om ons enigsins te verander. As ons egter God vir nuwe wyn vra, het ons ook ‘n nuwe wynsak nodig. Verandering is ‘n twee-sydige muntstuk wat lees: Uit met die oue en in met die nuwe! Meeste van ons brand geestelik vas omdat ons aanhou om dieselfde ding te doen, maar ander resultate verwag. Geestelike roetine is ‘n noodsaaklike deel van geestelike groei maar wanneer die roetine roetine word, moet jy dit verander. Wat jou gekry het tot waar jy jou tans bevind, mag jou dalk nie kry tot waar God wil hê jy volgende moet gaan nie.
Sielskos: 3 Joh; Judas; Luk 18:31-43; Ps 119:169-176; Spr 22:20-23
2018-08-30
Hebreërs 12:1-2 NLV
Ervare drawwers weet dat as hulle net aanhou hardloop, hulle uiteindelik hulle ‘tweede asem’ sal kry – ‘n vrystelling van adrenalien wat jou laat voel asof jy heeldag kan hardloop. Hou vandag aan hardloop totdat jy jou tweede asem kry! Paulus sê, ‘…kom ons stroop alles af wat ons spoed kan vertraag, veral die sonde wat so maklik ‘n houvas op ‘n mens kry. Kom ons hardloop met volharding op die baan wat voor ons uitgestrek lê, ons oë vasgenael op Jesus, die Een op wie ons geloof vanaf die wegspring tot by die eindstreep steun. Hy het ter wille van die blydskap wat daar voor vir Hom gewag het, die kruis verduur. Ja, Hy het Hom selfs deur die skande van die kruisdood nie laat afskrik nie. En nou sit Hy op die ereplek langs God se troon! Dink aan Hom wat soveel vyandigheid van sondaarmense deurstaan het. Laat dit julle inspireer om nie uit te sak en tou op te gooi nie (verse1-3 NLV). Moenie toelaat dat dit wat rondom jou aangaan, dit wat God binne-in jou doen, saboteer nie. Oor die algemeen word jou uitkyk deur dit wat tans gebeur, geaffekteer. Hou in gedagte dat dit wat jy tans deurmaak, tydelik is. In die Ou Testament het God vir Jesaja gesê, ‘…troos my volk… Sê vir hom sy hartseerdae is verby. Sy sondes is vergewe…’ (Jesaja 40:1-2 NLV). Dan gaan Hy voort om hierdie wonderlike belofte te maak: ‘Vul die valleie op! Maak elke berg en heuwel gelyk… Dan sal die heerlikheid van die Here bekend word en alle mense sal dit sien. Die Here self het so gesê’ (verse 4-5 NLV), Eis hierdie belofte vandag vir jouself op – en hou aan hardloop!
Sielskos: 2 Kro 35-36; 2 Joh; Luk 18:18-30; Ps 119:161-168; Spr 22:17-19
2018-08-29
Handelinge 2:38 NLV
‘n Plakkaat op ‘n kerk se kennisgewing bord het gelui: ‘Probeer God uit vir ‘n Week.’ Die idee was eenvoudig genoeg: As jy Hom vir ‘n week uitprobeer en nie van die resultate hou nie, kan jy weer na jou ou lewe toe terugkeer. Petrus het nie die skare op Pinkster aangesê om God vir ‘n week uit te probeer nie. Hy het gepreek, ‘…Kom tot inkeer en maak reg met God. Laat julle in die Naam van Jesus Christus doop sodat julle sondes vergewe kan word, en julle sal die Heilige Gees as geskenk ontvang. Hierdie belofte is bedoel vir julle en julle kinders, en selfs vir die nie-Jode – almal wat die Here ons God sal naderroep’ (verse 38-39 NLV). ‘n Vis probeer nie uit die water kom nie; hy het water nodig om te oorleef. ‘n Plant probeer nie uit die grond kom nie; dit het grond nodig om te groei. Net so probeer jy nie van God wegkom nie; jy het God nodig omdat daar ‘n leemte binne-in jou is wat net Hy kan vul. Hy wil egter nie net in jou lewe inkom nie; Hy wil jou lewe oorneem! ‘Maar ek sukkel met sekere swakpunte,’ sê jy. Die waarheid is dat ons almal met sekere neigings gebore word; sommige is net meer sigbaar as ander. Dis hoekom elkeen van ons ‘…van bo gebore…’ (Johannes 3:3 NLV) moet word. Soos Jesus aan Nikodemus verduidelik het, alhoewel hy ‘n natuurlike geboorte gehad het, het hy ook ‘n geestelike geboorte nodig gehad. Verlossing en die waarborg van die hemel vind onmiddellik plaas; al wat jy moet doen is om jou vertroue in Christus te plaas. Om jouself aan die heerskappy van Jesus onderdanig te maak, is ‘n projek waaraan jy van die nuwe geboorte, tot die Nuwe Jerusalem, sal moet werk.
Sielskos: 2 Kro 32-34; Luk 18:1-17; Ps 119:145-160; Spr 22:14-16