Totdat jy nie meer kan hardloop nie

2018-09-01
Genesis 32:25 DB

Wanneer jy probeer weghardloop van God af, hardloop jy om elke draai in Hom vas. Dit het met Jakob gebeur. Hy het van sy broer, Esau, se woede af weggehardloop en toe dinge te warm vir hom by sy skoonpa se huis raak, het hy ook daarvandaan weggehardloop. Uiteindelik, toe hy nie meer kon hardloop nie, het hy in God by ‘n plek genaamd Pniël vasgehardloop. Dit is daar wat sy naam van Jakob, die bedrieër, na Israel, wat ”n prins met God’ beteken, verander is. Die Bybel sê: ‘Jakob het alleen duskant die rivier agtergebly. Terwyl hy nog so staan, het ‘n man hom skielik gepak en hulle twee het begin veg. Dit het tot dagbreek die volgende oggend aangehou. Toe die man sien Jakob is te sterk vir hom, het hy Jakob ‘n laaste harde hou op die heup gegee. Dit was so erg dat die heup heeltemal uit sy potjie gespring het. Die man sê toe: ‘Los my tog nou, want dit is al dagbreek.’ Jakob het toe gesê: ‘Ek sal nie. Voor ek jou los, moet jy my eers seën.’ ‘Wat’s jou naam?’ stotter die man. ‘My naam is Jakob,’ het Jakob geantwoord. ‘Van nou af,’ sê die man, ‘sal hulle jou Israel noem. Nie meer Jakob nie, maar Israel.’ Die man het verder gesê: ‘Vannag het jy teen God en mens geveg, en gewen’ (verse 24-28 DB). Toe God Jakob se heup ontwrig het, het Hy in wese vir hom gesê, ‘Jou dae van weghardloop is verby, en jou mankheid sal ‘n konstante herinnering aan jou totale afhanklikheid van My wees.’ Ons almal het ‘n ‘Jakob-ervaring’ nodig. Alles wat Jakob nodig gehad het, het hy gevind toe hy in God se arms ingehardloop het. Dieselfde is waar vir jou.

Sielskos: Jos 1-4; Luk 19:1-10; Ps 84; Spr 22:24-26