Laat God gesien word – nie jy nie

2018-09-09
Matteus 6:1 NLV

Jesus het sy hardste veroordeling vir diegene wat goeie dade doen om gesien te word, gereserveer. Hy het hulle hipokrate (skynheiliges), die oorspronklike Grieks vir akteur, genoem. Akteurs in die eerste eeu het maskers gedra. Dus is ‘n hipokraat iemand wat ‘n masker, ‘n vals gesig, aansit en vir die applous van ander mense optree. Jesus het nie gesê, ‘Moenie goeie dade doen’ nie. Ook het Hy nie gesê, ‘Moenie laat jou goeie werke gesien word’ nie. Ons moet goeie werke doen en sommige van hulle moet gesien word sodat hulle impak kan hê. Kom ons wees dus duidelik. Om iets goeds te doen is ‘n goeie ding. Om goeie dinge te doen om gesien te word, is nie goed nie. Dit is inderwaarheid ‘n ernstige oortreding, omdat skynheiligheid mense van God af wegdraai. Wanneer mense wat God soek gospelsangers soos Las Vegas kunstenaars windmakerig sien rondloop… Of wanneer hulle hoor hoe die prediker, ‘n man van gladde woorde, klere en hare, die gehoor betower en God uitsluit… Wanneer kerkgangers modieus aantrek om gesien te word en ‘n groot bohaai van hulle gawes en dankoffers maak… Wanneer mense ‘n kerk binnegaan om God te soek en God nie kan sien as gevolg van die kerk nie – moenie vir ‘n sekonde dink dat God nie daarop reageer nie. Jesus was duidelik oor hierdie kwessie: ‘Wanneer julle besluit om goeie dinge vir ander mense te doen, moet julle eers seker maak hoekom julle dit doen. Moenie ‘n openbare skouspel daarvan maak sodat ander julle kan raaksien nie. As julle op soek is na die applous van ander mense, skuld God julle niks meer nie. Dan het julle klaar julle beloning gekry’ (Matteus 6:1 DB). Laat God vandag gesien word – nie jy nie.

Sielskos: Joh 14:6-11; Hand 4:8-12; Hand 16:22-34; Joh 3:13-21

Wat is in ‘n naam? Alles! (6)

2018-09-08
Esegiël 48:35 NLV

Gedurende Israel se vyf-en-twintigste jaar van gevangenskap, het Esegiël die profeet van God, sy Naam Jehova Shammah: Die Here is daar, ontvang. God het Israel se toekomstige huis, Jerusalem beskryf deur te sê, ‘…Van daardie dag af sal die stad se naam wees: ‘Die Here is daar [Jehova Shammah].” Dit was nie net op die Here van die ou verbond toepaslik nie, maar ewe veel op Jesus, die Here van die nuwe verbond. Sy Naam, ‘Immanuel,’ beteken, soos Jehova-Shammah, ‘God met ons’ (sien Jesaja 7:14). Dit beteken dat God te alle tye, op alle plekke, onder alle omstandighede en vir almal van ons, altyd beskikbaar en teenwoordig is! Dawid het aangekondig: ‘Waarheen sou ek kon gaan om u Gees te ontwyk? Of waarheen sou ek kon uitwyk om u teenwoordigheid te ontvlug? Gaan ek op na die hemel toe, is U daar; gaan lê ek in die doderyk, dan is U ook daar! Vlieg ek met die daeraad na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, selfs daar sal u hand my lei, en u regterhand my ondersteun’ (Psalm 139:7-10 NLV). Onthou jy hoe vrees, eensaamheid en hulpeloosheid verdwyn het wanneer jy in jou ma of pa se teenwoordigheid was? In Israel se diepste wanhoop was God se reaksie altyd, ‘Ek is by jou.’ Daardie woorde het gewaarborg dat daar altyd aan hulle behoeftes voldoen sou word! Vandag sê God ook vir jou, ‘Ek is by jou,’ en ‘…Nie dood of lewe of engele of duiwelse magte nie; nie ons vrees vir vandag of ons kommer oor môre nie… Ja, hoegenaamd niks… sal ons ooit kan skei van die liefde wat God in Christus Jesus ons Here vir ons het nie’ (Romeine 8:38-39 NLV). Hierdie belofte is vir al God se verloste kinders – reik net uit en gryp dit aan.

Sielskos: Jos 19:24-21:45; Luk 20:20-26; Ps 112; Spr 23:13-15

Wat is in ‘n naam? Alles! (5)

2018-09-07
Jeremia 23:6 NLV

Die naam Jehova Tsidkenu: Die Here is ons geregtigheid, is deur Jeremia aan God gegee toe hy die koms van Jesus, die Verlosser, aangekondig het: ‘…Daar sal ‘n tyd kom wanneer Ek weer ‘n wettige afstammeling uit Dawid se familie koning sal maak… Sy naam sal wees: ‘Die Here ons geregtigheid’…’ (verse 5-6 NLV. Voor Jesus gekom het, het ons geregtigheid in ons eie inspanning gelê. ‘Wanneer ons al die bepalings gehoorsaam wat die Here ons God gee, sal ons regverdig wees’ (Deuteronomium 6:25 NLV). Ons het daardie geregtigheidstoets absoluut gefaal! ‘Die Here ons geregtigheid,’ het egter ons oplossing geword. ‘Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom’ (2 Korintiërs 5:21 AFR53). Dis slegs in Jesus wat ons die geregtigheid van God word! Jy moenie reg optree sodat jy geregverdig voor God kan voel nie, of sodat jy ‘n voorraad goeie werke kan opbou om te gebruik wanneer jy dit nodig ag nie. Jy moet deurentyd van die ‘geregtigheid’ wat Christus in jou rekening deponeer, gebruik. Dis nutteloos om binne-in jouself vir nederigheid, geduld, goedheid, liefde ens te soek. Dis nie daar nie! Jy moet hulle deur geloof uit die voorraad wat Jesus vir jou gestoor het, kry. Skuldige harte kan vergifnis daaruit kry, angstige siele kan vrede daaruit kry en moeë geeste kan krag uit Jehova Tsidkenu kry. Jy het redding alleenlik deur geloof gekry. Op dieselfde manier moet jy geregtigheid en alles anders wat jy mag nodig kry, deur geloof in dit wat God vervul het en vir jou gestoor het in Jesus, Die Here ons geregtigheid, kry!

Sielskos: Jos 16:1-19:23; Luk 20:9-19; Ps 20; Spr 23:10-12

Wat is in ‘n naam? Alles (4)

2018-09-06
Rigters 6:16, 23 NLV

Die naam Jehova Salom: Die Here is ons vrede, is deur Gideon ontdek toe die Here hom beveel het om Israel teen die Midianiete te lei – ‘n posisie wat hy gevoel het ver bo sy vuurmaakplek is. ‘…hoe kan ek Israel red? My familie is een van die swakstes… Ek is die onbelangrikste lid van my gesin’ (vers 15 NLV). Hier is hoe die Here gereageer het: ‘Ek is dan saam met jou!… Jy sal al die Midianiete verslaan asof jy net teen een man veg.’ ‘n Bang Gideon het God geglo en voor die geveg plaasgevind of gewen is, het hy deur geloof reeds die vrede gesien wat die Here verseker het. Dus het hy ‘n altaar vir Jehova Salom gebou: ‘…Die Here is Vrede…’ (vers 24 NLV). Ons aanvaar dikwels dat ons eers vrede sal hê wanneer ons omstandighede verander. Dan leer ons soos Gideon dat innerlike vrede nie van die verandering van ons uiterlike omstandighede afhang nie; dit hang van ons geloof af dat God met ons is en dat ons sy innerlike vrede ervaar. Jesus belowe: ‘Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NLV). Hoe onbeholpe jy vandag dalk mag voel om jou uitdagings te trotseer, onthou Christus se woorde: ‘Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin’ (Johannes 16:33 NLV). Let op, jou werk is om moed te skep en Jehova Salom te vertrou om die res te hanteer!

Sielskos: Jos 14-15; Luk 20:1-8; Ps 142; Spr 23:7-9

Wat is in ‘n naam? Alles! (3)

2018-09-05
Eksodus 14:13 NLV

Kom ons gaan voort met Jehova Nissi: Die Here is my banier. Net omdat God jou gevegte veg, beteken nie dat jy nie betrokke is nie. Dis nie maklik om beheer aan die Here oor te gee en Hom toe te laat om namens jou te veg nie. Jy mag dalk voel dat jy opgee en onverantwoordelik is. Jy is geprogrammeer om te dink, ‘Moenie net daar sit nie – doen iets!’ Jy is soos ‘n drenkeling wat nie kan ophou om na die persoon wat jou red te gryp nie en sodoende sy taak amper onmoontlik maak. In wese het jy jou redder se ergste nagmerrie geword. Die moeilikste deel van die bevel om net daar te staan waar jy is en te kyk hoe die Here jou red, is dat die meeste van ons stilstaan met niksdoen verwar. Vrees sê vir ons, ‘Doen iets – enigiets!’ Geloof sê, ‘Staan in geloof. Laat God dit doen!’ ‘Hoekom het ek gevegstoerusting nodig as ek nie veg nie? Paulus sê, ‘Daarom moet julle God se gevegstoerusting aantrek. Dan, wanneer die Bose julle aanval, sal julle weerstand kan bied…’ (Efesiërs 6:11 NLV). Jy moet God se gevegstoerusting aantrek – nie jou eie nie. Jy moet staan – nie veg nie. ‘Die wapens van ons stryd is nie mensgemaak nie…’ (2 Korintiërs 10:4 NLV). Ons menslike metodes is in God se pad. Natuurlike kragte is nutteloos teenoor bonatuurlike kragte. Die larwe van die naaldekoker wat op die bodem van die dammetjie bly, mag dalk ‘n lewenskragtige larwe wees. Wanneer dit egter ‘n naaldekoker word, sal al die krag en vaardighede van sy lewe as larwe hom nie help om ‘n lewe in die lug te leef nie. Eens op ‘n tyd het jy deur jou eie inspanning geleef, nou lewe jy deur op Jehova Nissi te vertrou en staat te maak!

Sielskos: Jos 11-13; Luk 19:41-48; Ps 111; Spr 23:4-6

Wat is in ‘n naam? Alles! (2)

2018-09-04
2 Kronieke 20:15 NLV

Toe Israel deur die magtige soldate van Amalek by Refidim bedreig is, het God aan hulle ‘n bonatuurlike oorwinning gegee. Toe Moses besef dat God die stryd vir hulle veg, het hy ‘n altaar aan Jehova Nissi gebou: Die Here is my banier. Hoor sy woorde: ‘Wees julle maar net kalm. Die Here sal in julle plek veg’ (Eksodus 14:14 DB). ‘…Moenie bang wees nie! Moenie moedeloos wees oor hierdie magtige leër nie, want die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n.’ Hoekom probeer jy dan die stryd met jou eie krag wen? Jy raak in ‘n eindelose siklus van berou, besluite, stryd, nederlaag en ontmoediging vasgevang, wat tot meer berou lei. Die enigste tipe geestelike konflik wat al ooit suksesvol gewen is, is die een wat God namens jou veg. Hy verwag nie van jou om die stryd te wen nie, net om jouself totaal aan Hom oor te gee en Hom toe te laat om dit namens jou te wen! ‘So moet ek dan glad nie veg nie?’ vra jy. Ja jy moet ‘…die goeie stryd vir dit waarin ons glo…’ (1 Timoteus 6:12 NLV), stry. ‘Moet ek dan nie soos Jakob stoei nie?’ Let twee dinge op: Eerstens, het Jakob nie gewen deur te stoei nie, hy het gewen toe hy te swak geraak het om aan te hou stoei. Paulus het gesê, ‘…wanneer ek swak is, juis dán is ek sterk’ (2 Korintiërs 12:10 NLV). Tweedens, het Jakob se oorwinning in sy oorgawe gelê. Is jy uitgeput van jou stryd – moeg tot op die been? Dan mag jy dalk wees waar God jou wil hê! Laat gaan en vertrou op jou Jehova Nissi om namens jou te seëvier, want ‘…die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n.’

Sielskos: Jos 8:30-10:43; Luk 19:28-40; Ps 103:13-22; Spr 23:1-3