Wat is in ‘n naam? Alles! (2)
2018-09-042 Kronieke 20:15 NLV
Toe Israel deur die magtige soldate van Amalek by Refidim bedreig is, het God aan hulle ‘n bonatuurlike oorwinning gegee. Toe Moses besef dat God die stryd vir hulle veg, het hy ‘n altaar aan Jehova Nissi gebou: Die Here is my banier. Hoor sy woorde: ‘Wees julle maar net kalm. Die Here sal in julle plek veg’ (Eksodus 14:14 DB). ‘…Moenie bang wees nie! Moenie moedeloos wees oor hierdie magtige leër nie, want die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n.’ Hoekom probeer jy dan die stryd met jou eie krag wen? Jy raak in ‘n eindelose siklus van berou, besluite, stryd, nederlaag en ontmoediging vasgevang, wat tot meer berou lei. Die enigste tipe geestelike konflik wat al ooit suksesvol gewen is, is die een wat God namens jou veg. Hy verwag nie van jou om die stryd te wen nie, net om jouself totaal aan Hom oor te gee en Hom toe te laat om dit namens jou te wen! ‘So moet ek dan glad nie veg nie?’ vra jy. Ja jy moet ‘…die goeie stryd vir dit waarin ons glo…’ (1 Timoteus 6:12 NLV), stry. ‘Moet ek dan nie soos Jakob stoei nie?’ Let twee dinge op: Eerstens, het Jakob nie gewen deur te stoei nie, hy het gewen toe hy te swak geraak het om aan te hou stoei. Paulus het gesê, ‘…wanneer ek swak is, juis dán is ek sterk’ (2 Korintiërs 12:10 NLV). Tweedens, het Jakob se oorwinning in sy oorgawe gelê. Is jy uitgeput van jou stryd – moeg tot op die been? Dan mag jy dalk wees waar God jou wil hê! Laat gaan en vertrou op jou Jehova Nissi om namens jou te seëvier, want ‘…die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n.’
Sielskos: Jos 8:30-10:43; Luk 19:28-40; Ps 103:13-22; Spr 23:1-3