Wat is in ‘n naam? Alles (4)

2018-09-06
Rigters 6:16, 23 NLV

Die naam Jehova Salom: Die Here is ons vrede, is deur Gideon ontdek toe die Here hom beveel het om Israel teen die Midianiete te lei – ‘n posisie wat hy gevoel het ver bo sy vuurmaakplek is. ‘…hoe kan ek Israel red? My familie is een van die swakstes… Ek is die onbelangrikste lid van my gesin’ (vers 15 NLV). Hier is hoe die Here gereageer het: ‘Ek is dan saam met jou!… Jy sal al die Midianiete verslaan asof jy net teen een man veg.’ ‘n Bang Gideon het God geglo en voor die geveg plaasgevind of gewen is, het hy deur geloof reeds die vrede gesien wat die Here verseker het. Dus het hy ‘n altaar vir Jehova Salom gebou: ‘…Die Here is Vrede…’ (vers 24 NLV). Ons aanvaar dikwels dat ons eers vrede sal hê wanneer ons omstandighede verander. Dan leer ons soos Gideon dat innerlike vrede nie van die verandering van ons uiterlike omstandighede afhang nie; dit hang van ons geloof af dat God met ons is en dat ons sy innerlike vrede ervaar. Jesus belowe: ‘Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet regtig nie ontsteld of beangs word nie’ (Johannes 14:27 NLV). Hoe onbeholpe jy vandag dalk mag voel om jou uitdagings te trotseer, onthou Christus se woorde: ‘Ek sê hierdie dinge vir julle sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin’ (Johannes 16:33 NLV). Let op, jou werk is om moed te skep en Jehova Salom te vertrou om die res te hanteer!

Sielskos: Jos 14-15; Luk 20:1-8; Ps 142; Spr 23:7-9