Wat is in ‘n naam? Alles! (6)

2018-09-08
Esegiël 48:35 NLV

Gedurende Israel se vyf-en-twintigste jaar van gevangenskap, het Esegiël die profeet van God, sy Naam Jehova Shammah: Die Here is daar, ontvang. God het Israel se toekomstige huis, Jerusalem beskryf deur te sê, ‘…Van daardie dag af sal die stad se naam wees: ‘Die Here is daar [Jehova Shammah].” Dit was nie net op die Here van die ou verbond toepaslik nie, maar ewe veel op Jesus, die Here van die nuwe verbond. Sy Naam, ‘Immanuel,’ beteken, soos Jehova-Shammah, ‘God met ons’ (sien Jesaja 7:14). Dit beteken dat God te alle tye, op alle plekke, onder alle omstandighede en vir almal van ons, altyd beskikbaar en teenwoordig is! Dawid het aangekondig: ‘Waarheen sou ek kon gaan om u Gees te ontwyk? Of waarheen sou ek kon uitwyk om u teenwoordigheid te ontvlug? Gaan ek op na die hemel toe, is U daar; gaan lê ek in die doderyk, dan is U ook daar! Vlieg ek met die daeraad na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, selfs daar sal u hand my lei, en u regterhand my ondersteun’ (Psalm 139:7-10 NLV). Onthou jy hoe vrees, eensaamheid en hulpeloosheid verdwyn het wanneer jy in jou ma of pa se teenwoordigheid was? In Israel se diepste wanhoop was God se reaksie altyd, ‘Ek is by jou.’ Daardie woorde het gewaarborg dat daar altyd aan hulle behoeftes voldoen sou word! Vandag sê God ook vir jou, ‘Ek is by jou,’ en ‘…Nie dood of lewe of engele of duiwelse magte nie; nie ons vrees vir vandag of ons kommer oor môre nie… Ja, hoegenaamd niks… sal ons ooit kan skei van die liefde wat God in Christus Jesus ons Here vir ons het nie’ (Romeine 8:38-39 NLV). Hierdie belofte is vir al God se verloste kinders – reik net uit en gryp dit aan.

Sielskos: Jos 19:24-21:45; Luk 20:20-26; Ps 112; Spr 23:13-15