2018-09-15
Efesiërs 3:16 NLV
Totdat jy besef dat God se krag binne-in jou is, sal jy dit nie gebruik nie. Een van die grootste genesende kragte in die wêreld is God se Woord, wat aan jou beskikbaar is! Wanneer jy of ‘n geliefde byvoorbeeld siek word, sê die Bybel, ‘Hierdie is die wondertekens wat dié sal beleef wat glo… Hulle sal siekes die hande oplê, en hulle sal gesond word’ (Markus 16:17-18 NLV). Dit is ‘n kragtige belofte. Toe Jesus na Kapernaum teruggekeer het, sê die Bybel, ‘…dit [het] rugbaar geword dat Hy weer by die huis is’ (Markus 2:1 NLV). Voor Hy weer weggegaan het daarvandaan af, het ‘n verlamde man opgestaan en geloop. So: As Christus in jou lewe is, is mense nie veronderstel om sy teenwoordigheid te voel wanneer hulle in jou teenwoordigheid is nie? As jy op die kerkraad dien, moet die kerk nie dan geseënd wees nie? Moet jy nie ‘n agent vir verandering wees wat probleme oplos en die kerk help groei nie? Die kerk is nie perfek nie. Niemand sê dat dit is nie. Dis ‘n hospitaal, nie ‘n sosiale klub nie. Wat ook al egter met die kerk verkeerd is, is die mens se handewerk, nie God s’n nie. Wanneer God agter selfs die kleinste ding staan, word dit magtig; dit moet sukses behaal omdat sy mag onbeperk, onveranderd en beskikbaar is! Dis tyd om ‘…die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig…’ (2 Korintiërs 10:4 NLV), te gebruik. Dis tyd om die saak te forseer deur vir die Duiwel te sê om sy hande van alles wat op jou betrekking het, af te hou! Jesus het gesê, ‘…God het die volle mag oor hemel en aarde aan My toevertrou. Gaan dan…’ (Matteus 28:18-19 NLV). Hy het aan jou die krag gegee – gebruik dit!
Sielskos: Neh 5-7; Luk 21:25-38; Ps 78:32-39; Spr 23:29-35
2018-09-14
Romeine 12:18 NLV
Jesus het gesê, ‘Gelukkig is die vredemakers, want God sal vir julle sê: ‘Julle is mý kinders.” (Matteus 5:9 NLV). Let op, God het beloof om die vredemakers, nie die mense wat vrede liefhet nie, te seën. Daar is ‘n verskil. Vredemakers betaal die prys; vredeliefhebbers geniet die voordele. Soms moet jy mense konfronteer voor jy hulle kan troos. Jesus het die handelaars uit die tempel uit gegooi omdat hulle die mense wat lammers en duiwe as offergawes vir God gekoop het, onregverdige pryse gevra het. In die meeste gevalle was hierdie mense wat dit nie kon bekostig nie, dus het Jesus besluit om betrokke te raak. Een van die name wat aan God gegee is, is Jehova Salom, ‘Die Here is ons vrede’ (sien Rigters 6:24). ‘Salom’ verwys nie na die afwesigheid van moeilikheid nie, maar na die vrede van God te midde daarvan. Wanneer jy ‘n probleem met iemand het, het Jesus gesê dat ons sekere stappe moet neem. Eerstens, gaan en probeer die probleem in privaatheid oplos. As dit nie werk nie, neem iemand saam wat jou kan help. As dit misluk, neem dit na die kerk se leierskap toe. As die persoon dan steeds weier om versoen te raak, wees dan lief vir hulle en los hulle in God se hande (sien Matteus 18:15-17). Paulus het gesê, ‘Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense.’ Paulus was byvoorbeeld gewillig om sekere kos wat afstootlik vir ander mense was, nie te eet nie (sien 1 Korintiërs 8:13), maar hy was nie gewillig om moeilikheidmakers in die kerk te verdra nie (sien Romeine 16:17). Jy moet dus weet wanneer om golwe te maak en wanneer om vrede te maak.
Sielskos: Neh 1-4; Luk 21:12-24; Ps 78:17-31; Spr 23:26-28
2018-09-13
2 Korintiërs 10:12 DB
As jy jou vreugde in die dien van die Here verloor het, is dit dalk omdat jy jouself met ander vergelyk en soos hulle probeer wees. Paulus het gesê, ‘Daarom moet julle almal eerder julle eie gedrag toets… sonder om julle met iemand anders te vergelyk’ (Galasiërs 6:4 NLV). Paulus het aanhoudend kritiek gekry. Sy reaksie was altyd dieselfde: Vermy vergelykings, weerstaan versoekings en soek slegs God se lof. Hy het geweier om deur kritiek ontmoedig te word, of om sy bediening te vergelyk, of om by vrugtelose debatte betrokke te raak. Die skrywer John Bunyan het gesê dat as sy lewe vrugteloos was, sou dit nie saak maak wie hom prys nie en as dit betekenisvol was, sou dit nie saak maak wie hom kritiseer nie. Die spreker en skrywer Anne Peterson voeg by: ‘Maak die drake van vergelyking dood. Wanneer ek iets sien wat my ontstel, bid ek vir daardie persoon. Dis makliker wanneer ek eerlik is met God – Hy weet in elk geval hoe ek voel. Dan begin ek Hom loof en prys. Ek sing ou gesange wat vol waarhede oor die Here is. In plaas daarvan om te wonder of ek dit waarna ek toe werk, sal bereik, dink ek eerder aan die wonderlike dinge wat God alreeds gedoen het. Tevredenheid is beskikbaar, solank as wat ons ons oë op die Koning van konings hou.’ ‘n Onbekende digter het geskryf: ‘The stick I made for measuring, I used most every day. It helped me to compare myself with others on my way. I watched all those behind me, or further down the road, and I would readjust my pace or lighten up my load. The most important drawback with how I ran my race, was watching everything around-except my Savior’s face!’
Sielskos: Kol 3-4; Filemon; Luk 21:1-11; Ps 78:9-16; Spr 23:22-25
2018-09-12
Galasiërs 6:4 NLV
Niks sal jou sin van vrede so vinnig soos vergelyking vernietig nie. Dit wys ‘n gebrek aan begrip en laat jou onverstandig optree (sien 2 Korintiërs 10:12). Toe die dissipels notas vergelyk het om te sien wie van hulle sou ly en wie van hulle sou gespaar bly, het Jesus vir hulle gesê, ‘…wat gaan dit jou aan?’ (Johannes 21:23 NLV). Let op: 1) Vergelykings kan jou meerderwaardig laat voel, wat tot trots lei. Onthou die Fariseër wat ‘n groot gedoente daarvan gemaak het om God te bedank dat hy beter as almal anders is? (sien Lukas 18:11). Trots was Satan se ondergang, daarom hou hy daarvan wanneer jy in dieselfde strik trap. 2) Vergelykings kan jou minderwaardig laat voel, wat tot lae self-waarde lei en jou op jouself gefokus hou. Jy vergeet dat ‘…God nie sekere mense bo ander voortrek nie’ (Handelinge 10:34 NLV), en begin glo dat Hy dinge weerhou waarop jy geregtig is. Die samelewing skep ‘n sin van geregtigheid; dan herinner Satan jou aan al die mense wat dit wat jy wil hê, al gekry het, wat jou verder op die pad van onvergenoegdheid afstuur. 3) Ons probeer om God af te bring na ons vlak toe deur te vergelyk hoe Hy in die verlede te werk gegaan het, met hoe Hy nou werk. Hou op om God te probeer uitpluis en vertrou Hom net! ‘Soos die wolke ver bo die aarde is, is die manier waarop Ek dinge doen ook ver bo die manier waarop julle dit doen. Hoe Ek dink, is ook baie ver van die manier waarop julle dink’ (Jesaja 55:9 DB). In plaas daarvan om vergelykings te tref, begin om dit waarmee God jou geseën het, te gebruik en te waardeer.
Sielskos: Kol 1-2; Luk 20:41-47; Ps 78:1-8; Spr 23:19-21
2018-09-11
Filippense 2:7 ABA
Jerusalem is deur mure omring en een van die maniere om die stad binne te gaan, was deur die Dalpoort. Toe Nehemia die mure herbou het, lees ons: ‘…die inwoners… het die Dalpoort herstel…’ (Nehemia 3:13 NLV). In ‘n Christelike lewe moet daar beide ‘bergtop ervarings’ en ‘dal ervarings’ wees. Kom ons kyk na nog ‘n bekende teksvers: ‘Maar dié wat op hulle hoop op die Here stel, sal hulle krag terugkry. Hulle vlieg soos arende. Hulle sal hardloop en nie moeg word nie. Hulle sal loop en nooit vermoeid word nie’ (Jesaja 40:31 NLV). Wanneer jy nie die krag het om een van hierdie dinge te doen nie, sê Paulus, ‘…na die hele geveg verby is, sal julle nog vas staan’ (Efesiërs 6:13 NLV). Daar is ‘n seisoen in jou lewe vir al hierdie ervarings, en jy moet dit aangryp. Die Bybel sê Jesus ‘…het Homself verneder… Daarom het God Hom belangrik gemaak…’ (Filippense 2:7-9 NLV). Lukas skryf, ‘Terwyl Hy saam met hulle aan tafel was, neem Hy die brood, vra die seën, breek dit en gee dit vir hulle’ (Lukas 24:30 AFR83). Geseënd en gebroke – dit is steeds God se patroon. Hoekom? Sodat jy sy seëning kan hanteer en nederig kan bly. Jy is in die moeilikheid as jy meer van jou beeld as van jou behoefte aan God bewus is. Dit is hoekom Hy jou toelaat om deur situasies te loop wat jou na ‘n plek van totale afhanklikheid aan Hom bring. Jy moet geneem, geseën en gebreek word voordat jy in diens aan ander weggegee kan word. In God se koninkryk is die pad op, af!
Sielskos: Jos 22-24; Luk 20:27-40; Ps 27; Spr 23:16-18
2018-09-10
2 Petrus 3:18 NLV
Daar is twee dinge wat help om persoonlike groei te bepaal: 1) Jou verhoudings. Die Bybel sê, ‘Sal twee mense saam op reis gaan sonder om eers af te spreek om dit te doen?’ (Amos 3:3 NLV). Die geselskap waarin jy jou bevind sal jou oplig, jou ewenaar, of jou verlaag. ‘n Dame het hierdie brief aan ‘n raadgewer by ‘n tydskrif geskryf: ‘In my laaste jaar van skool het my Engelse onderwyser my opstel gevat en dit voor die hele klas opgeskeur. Ek was verneder – ek het dom gevoel. Dit was jare gelede en ek het dit nog nooit vergeet nie. In ‘n paar kort sekondes het die verkeerde persoon hierdie dame se self-waarde vir ‘n leeftyd afgetakel. 2) Jou oorwegings. Toe ‘n Sondagskoolonderwyser ‘n dogtertjie gevra het, ‘Wie het jou gemaak?’ het sy geantwoord, ‘God het ‘n deel van my gemaak.’ Die onderwyser het gevra, ‘Wat bedoel jy?’ Die dogtertjie het geantwoord, ‘God het my klein gemaak – en ek het die res self gegroei.’ God hou ons vir ons eie persoonlike groei verantwoordelik. Die Psalmdigter het geskryf, ‘Ek het meer insig as my leermeesters, want ek oordink u waarskuwings’ (Psalm 119:99 NLV). Die woord ‘meditasie’ beteken ‘oorwegende denke.’ Soos ‘n stadige oond, laat meditasie jou denke toe om te prut totdat hulle gereed is. Die meeste van ons sal eerder optree as wat ons dink. Ons sukkel byvoorbeeld om gefokus te bly. Ons vind die proses vervelig en ons geniet dit nie regtig om tyd te spandeer om oor moeilike kwessies te reflekteer nie. As jy egter nie tyd vir oorweging en meditasie maak nie, sal jy nie volwasse word nie. Jy sal nie in die ‘onverdiende goedheid en kennis’ wat jy nodig het om sukses te behaal, groei nie. Dis so eenvoudig.
Sielskos: Num 29:1-6; Matt 24; Op 11:15-19; 1 Kor 15:50-58