2018-09-20
Deuteronomium 28:2 NLV
In ‘n opname is honderde mense gevra, ‘Wat is die beste ding wat die afgelope vyf jaar met jou gebeur het?’ Snaaks genoeg het baie, ‘Niks nie’ geantwoord. God se Woord belowe aan ons daaglikse brood, daaglikse voordele en daaglikse seëninge en tog kon hierdie mense nie aan een goeie ding dink wat in ‘n halwe dekade met hulle gebeur het nie! Die skrywer John Mason merk op: ‘Ons sien dinge tipies nie soos hulle is nie, maar soos ons is. Afhangende van hoe ons onsself posisioneer, sal ons die bewyse van God orals, of nêrens sien nie. Te dikwels is ons gedagtes net op een ding gefokus. Ons kyk uit vir rooi, dus sien ons blou nie raak nie; ons dink môre, terwyl God nou sê. Ons soek orals terwyl die antwoord onder ons neuse is. Wanneer ‘n persoon reg geposisioneer is, is hy reg om alles te ontvang wat God vir hom het.’ Die Bybel sê, ‘Al hierdie seëninge sal oor jou kom en by jou bly wanneer jy die Here jou God gehoorsaam: In jou stede en in jou oop velde sal jy geseën wees. Jy sal geseën word met baie kinders… Jy sal geseën word waar jy ook al beweeg, of jy nou kom of gaan. Die Here sal jou vyande oorwin wanneer hulle jou aanval… Die Here sal jou seën in alles wat jy doen… As jy luister na hierdie opdragte van die Here jou God wat ek vir jou gee en dit noukeurig nakom, sal die Here jou die kop maak en nie die stert nie…’ (verse 2-13 NLV). Let wel: ‘…wanneer jy die Here jou God gehoorsaam…’ God se liefde is gewaarborg en onvoorwaardelik. Sy seëninge verg egter samewerking van jou kant af. Leef vandag dus in gehoorsaamheid aan Hom.
Sielskos: Lev 16; Lev 23:26-32; Heb 9:1-14; Heb 13:11-16
2018-09-19
Matteus 18:14 NLV
Philip Bray het in Atlanta ‘n straatbediening genaamd SafeHouse Outreach gestig. Hy skryf: ‘Een dag het ‘n klein seuntjie ‘n handgebaar vir my gewys, die soort wat manlike prostitute maak. Ek het die kar gestop en vir hom gepreek, maar nie gedink dat hy verstaan nie. Hy het egter gesê, ‘Ek doen maar net besigheid. Ek lewe hier in Cabbagetown en my broer het my die besigheid geleer.’ Ek het gevra, ‘Wat is jou naam? Hoe oud is jy?’ Hy het geantwoord, ‘Billy Bob, en ek is agt jaar oud.’ Geskok het ek gesê, ‘Jy het sekerlik nie baie kliënte nie?’ Hy het gesê, ‘Hoe jonger jy is hoe meer geld maak jy. Ek maak tweehonderd dollar per keer; my dertienjarige broer kry net twintig dollar omdat hy vigs het.’ Ek het by hom gepleit om my toe te laat om hom te help om ‘n nuwe lewe te begin, maar hy het gesê, ‘Ek kan nie. Ek is my familie se kaartjie uit die ghetto uit.’ Vir weke het ek hom probeer bereik. Toe het die polisie een dag sy verminkte liggaam in ‘n vullishouer gekry nadat een van sy kliënte hom vermoor het. In straatbediening het nie elke verhaal ‘n gelukkige einde nie. Soms is die pyn en wanhoop net te veel.’ Dan voeg Philip by, ‘Maar daar is hoop! Jesus het vir die Billy Bobs van hierdie wêreld gesterf, net soos Hy vir die Billy Grahams gesterf het. Dis hoekom ek daar buite in die strate werk.’ Jesus het gesê, ‘Net so wil julle Vader in die hemel nie hê dat één van hierdie kleinstes verlore gaan nie.’ Dit beteken dat jy geroepe is om jou gemaksone te verlaat en om na ‘n wêreld wat seer het met die liefde van Jesus uit te reik!
Sielskos: Miga 1-4; Luk 22:24-38; Ps 78:65-72; Spr 24:11-14
2018-09-18
2 Korintiërs 4:18 NLV
Ons geniet die seëninge van verandering, maar nie die proses van verandering nie. Ons is wesens van gewoonte. Ons vorm ons gewoontes en ons gewoontes vorm ons. Dan begin ons dinge eksklusief uit ons eie perspektief sien. Wanneer dit gebeur, stagneer ons. Die waarheid is dat daar sonder verandering geen groei is nie. Wanneer jy die regte houding het, word elke ervaring – positief of negatief – ‘n geleentheid. Dink daaroor: Bome het meer as sonlig nodig om vrugte te dra. Die reënseisoen is ook ‘n produktiewe seisoen, omdat dit altyd die oestyd voorafgaan. Jy hoef nie van die reën te hou nie, jy moet net die doel en voordele daarvan verstaan. Die Bybel sê ons word elke dag ‘…al hoe meer verander om soos die Here te lyk…’ (2 Korintiërs 3:18 NLV). Om soos Jesus te word, moet jy Hom egter volg waar Hy jou ook al lei. Dit beteken dat jy Hom deur die wildernis van versoeking, die pyn van verwerping, die verlies van jou reputasie en die oorgawe van jou wil volg en om gereed te wees om na die plek van kruisiging te gaan waar jy vir alle vorme van self-gesentreerde lewe sterf. Om Jesus te volg beteken dat jy môre dalk op ‘n ander plek as vandag sal wees. Sodra jy hierdie beginsel verstaan, sal jy ophou om verandering wat in jou lewe plaasvind teen te staan en begin om God se werk daarin te sien. Paulus sê: ‘…Al is ons uiterlike mens besig om te vergaan, innerlik word ons dag tot dag vernuwe… Ons oog is nie op die sigbare gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd’ (2 Korintiërs 4:16-18 NLV).
Sielskos: Neh 11-13; Luk 22:14-23; Ps 78:56-64; Spr 24:6-10
2018-09-17
2 Korintiërs 4:8 ABA
Voor jy tou opgooi en wegloop, lees eers die verhaal van Nehemia wat Jerusalem se mure in twee-en-vyftig dae herbou het: Eerstens het hy God se hulp gesoek. ‘Maar ons het tot ons God gebid…’ (Nehemia 4:9 NLV). Tweedens het hy sy visie beskerm. ‘…Ons het die stad dag en nag bewaak om onsself teen hulle te beskerm’ (vers 9 NLV). Derdens het hy geweier om tou op te gooi. ‘…Behoort iemand soos ek vir gevaar weg te vlug?.. Nee, ek sal nie…’ (Nehemia 6:11 NLV). Gandhi het gesê, ‘Jy mag dalk nooit weet wat die resultate van jou aksies is nie, maar as jy niks doen nie, sal daar geen resultate wees nie.’ Ten spyte van die struikelblokke, die vyand en die druk, het Nehemia geweier om tou op te gooi. Paulus het gesê, ‘Mense hou aan om ons te laat swaarkry, maar ons hou aan om te lewe. Ons weet nie altyd wat om te doen nie, maar ons is nie moedeloos nie. Mense wil ons doodmaak, maar God los ons nie…’ (2 Korintiërs 4:8-9 ABA). Thomas Edison het vir die wêreld elektriese lig, mikrofone, batterye, klankfilms, fonograwe en ‘n duisend ander uitvindings gegee. Hier is die beginsels waarvolgens hy gelewe het: 1) Werk om al die kennis wat jy kan oor dit wat jy wil bereik, te kry. 2) Vestig jou gedagtes op jou doelwit. Hou aan! Soek! Die probleem met die meeste mense is dat hulle tou opgooi nog voor hulle begin. 3) Hou aan soek, maak nie saak hoeveel keer jy teleurstelling aanvaar nie. 4) Weier om deur die feit dat iemand anders dieselfde ding probeer en misluk het, beïnvloed te word. 5) Hou aan glo dat daar êrens ‘n oplossing op jou probleem bestaan, en dan sal jy dit vind.
Sielskos: Neh 8-10; Luk 22:1-13; Ps 78:40-55; Spr 24:1-5
2018-09-16
1 Korintiërs 4:5 NLV
Vooroordeling veroorsaak dat jy mense wat nie dit wat jy glo onderskryf nie, as vyande sien. Jy ken prysenswaardige kwaliteite aan die sirkel waarin jy beweeg en negatiewe kwaliteite aan diegene buite hierdie sirkel toe. Dis nie wat Jesus gedoen het nie. Hy het vriende met sondaars en uitgeworpenes gemaak – sonder om wie Hy was in gedrang te bring, of om hulle leefstyl goed te keur. Die Bybel waarsku ons daarteen om vooroordelend te wees en herinner ons dat ‘Hý… die motiewe van ons harte aan die lig [sal] bring’ (vers 5 NLV). Hy is die enigste een wat bevoeg is om ‘…ons diepste motiewe en oorwegings oop [te vlek]’ (Hebreërs 4:12 NLV). As jy dus geneig is om ‘…vinnig [te] wees om te sê die een ding is sleg of die ander ding is goed…’ (1 Korintiërs 4:5 DB), is hier iets om te oordink: 1) Erken jou vooroordelings. Maak ‘n lys van al die mense wat jy nie as vriende tel nie, mense wat jy uit jou pad gaan om nie ‘n verhouding mee te hê nie en begin om hulle lief te hê deur jou ‘…optrede, en met opregte bedoelings’ (1 Johannes 3:18 NLV). 2) Verloor die masker. Kyk in jou hart en vra jouself af wat dit van die ander persoon is wat jou pla. 3) Leer die ander persoon ken. Paulus het gesê, ‘…Ek het my met almal vereenselwig om sodoende tog sommige tot redding te bring’ (1 Korintiërs 9:22 NLV). Jy sal ontdek dat die krag van jou gedagtes dinge kan belemmer, mislei en dit verander in iets wat dit nie is nie. Jy sal dan ook ‘n beter kans hê om ander mense vir Christus te wen, omdat ‘Liefde nie iets is wat mens kan opgebruik… nie…’ (1 Korintiërs 13:8 NLV).
Sielskos: Heb 11:23-28; Eks 3:1-22; Eks 33:7-23; Eks 34:29-35
2018-09-15
Efesiërs 3:16 NLV
Totdat jy besef dat God se krag binne-in jou is, sal jy dit nie gebruik nie. Een van die grootste genesende kragte in die wêreld is God se Woord, wat aan jou beskikbaar is! Wanneer jy of ‘n geliefde byvoorbeeld siek word, sê die Bybel, ‘Hierdie is die wondertekens wat dié sal beleef wat glo… Hulle sal siekes die hande oplê, en hulle sal gesond word’ (Markus 16:17-18 NLV). Dit is ‘n kragtige belofte. Toe Jesus na Kapernaum teruggekeer het, sê die Bybel, ‘…dit [het] rugbaar geword dat Hy weer by die huis is’ (Markus 2:1 NLV). Voor Hy weer weggegaan het daarvandaan af, het ‘n verlamde man opgestaan en geloop. So: As Christus in jou lewe is, is mense nie veronderstel om sy teenwoordigheid te voel wanneer hulle in jou teenwoordigheid is nie? As jy op die kerkraad dien, moet die kerk nie dan geseënd wees nie? Moet jy nie ‘n agent vir verandering wees wat probleme oplos en die kerk help groei nie? Die kerk is nie perfek nie. Niemand sê dat dit is nie. Dis ‘n hospitaal, nie ‘n sosiale klub nie. Wat ook al egter met die kerk verkeerd is, is die mens se handewerk, nie God s’n nie. Wanneer God agter selfs die kleinste ding staan, word dit magtig; dit moet sukses behaal omdat sy mag onbeperk, onveranderd en beskikbaar is! Dis tyd om ‘…die kragtige gevegstoerusting van God wat vestings kan vernietig…’ (2 Korintiërs 10:4 NLV), te gebruik. Dis tyd om die saak te forseer deur vir die Duiwel te sê om sy hande van alles wat op jou betrekking het, af te hou! Jesus het gesê, ‘…God het die volle mag oor hemel en aarde aan My toevertrou. Gaan dan…’ (Matteus 28:18-19 NLV). Hy het aan jou die krag gegee – gebruik dit!
Sielskos: Neh 5-7; Luk 21:25-38; Ps 78:32-39; Spr 23:29-35