Die seëninge van gehoorsaamheid
2018-09-20Deuteronomium 28:2 NLV
In ‘n opname is honderde mense gevra, ‘Wat is die beste ding wat die afgelope vyf jaar met jou gebeur het?’ Snaaks genoeg het baie, ‘Niks nie’ geantwoord. God se Woord belowe aan ons daaglikse brood, daaglikse voordele en daaglikse seëninge en tog kon hierdie mense nie aan een goeie ding dink wat in ‘n halwe dekade met hulle gebeur het nie! Die skrywer John Mason merk op: ‘Ons sien dinge tipies nie soos hulle is nie, maar soos ons is. Afhangende van hoe ons onsself posisioneer, sal ons die bewyse van God orals, of nêrens sien nie. Te dikwels is ons gedagtes net op een ding gefokus. Ons kyk uit vir rooi, dus sien ons blou nie raak nie; ons dink môre, terwyl God nou sê. Ons soek orals terwyl die antwoord onder ons neuse is. Wanneer ‘n persoon reg geposisioneer is, is hy reg om alles te ontvang wat God vir hom het.’ Die Bybel sê, ‘Al hierdie seëninge sal oor jou kom en by jou bly wanneer jy die Here jou God gehoorsaam: In jou stede en in jou oop velde sal jy geseën wees. Jy sal geseën word met baie kinders… Jy sal geseën word waar jy ook al beweeg, of jy nou kom of gaan. Die Here sal jou vyande oorwin wanneer hulle jou aanval… Die Here sal jou seën in alles wat jy doen… As jy luister na hierdie opdragte van die Here jou God wat ek vir jou gee en dit noukeurig nakom, sal die Here jou die kop maak en nie die stert nie…’ (verse 2-13 NLV). Let wel: ‘…wanneer jy die Here jou God gehoorsaam…’ God se liefde is gewaarborg en onvoorwaardelik. Sy seëninge verg egter samewerking van jou kant af. Leef vandag dus in gehoorsaamheid aan Hom.
Sielskos: Lev 16; Lev 23:26-32; Heb 9:1-14; Heb 13:11-16