Moenie te gou oordeel nie
2018-09-161 Korintiërs 4:5 NLV
Vooroordeling veroorsaak dat jy mense wat nie dit wat jy glo onderskryf nie, as vyande sien. Jy ken prysenswaardige kwaliteite aan die sirkel waarin jy beweeg en negatiewe kwaliteite aan diegene buite hierdie sirkel toe. Dis nie wat Jesus gedoen het nie. Hy het vriende met sondaars en uitgeworpenes gemaak – sonder om wie Hy was in gedrang te bring, of om hulle leefstyl goed te keur. Die Bybel waarsku ons daarteen om vooroordelend te wees en herinner ons dat ‘Hý… die motiewe van ons harte aan die lig [sal] bring’ (vers 5 NLV). Hy is die enigste een wat bevoeg is om ‘…ons diepste motiewe en oorwegings oop [te vlek]’ (Hebreërs 4:12 NLV). As jy dus geneig is om ‘…vinnig [te] wees om te sê die een ding is sleg of die ander ding is goed…’ (1 Korintiërs 4:5 DB), is hier iets om te oordink: 1) Erken jou vooroordelings. Maak ‘n lys van al die mense wat jy nie as vriende tel nie, mense wat jy uit jou pad gaan om nie ‘n verhouding mee te hê nie en begin om hulle lief te hê deur jou ‘…optrede, en met opregte bedoelings’ (1 Johannes 3:18 NLV). 2) Verloor die masker. Kyk in jou hart en vra jouself af wat dit van die ander persoon is wat jou pla. 3) Leer die ander persoon ken. Paulus het gesê, ‘…Ek het my met almal vereenselwig om sodoende tog sommige tot redding te bring’ (1 Korintiërs 9:22 NLV). Jy sal ontdek dat die krag van jou gedagtes dinge kan belemmer, mislei en dit verander in iets wat dit nie is nie. Jy sal dan ook ‘n beter kans hê om ander mense vir Christus te wen, omdat ‘Liefde nie iets is wat mens kan opgebruik… nie…’ (1 Korintiërs 13:8 NLV).
Sielskos: Heb 11:23-28; Eks 3:1-22; Eks 33:7-23; Eks 34:29-35