2018-09-26
Matteus 16:18 NLV
Jy kan nie op die kantlyne sit nie, want God het jou na die voorste linie toe geroep. Dit beteken dat jy soms ‘n standpunt vir dit wat reg is sal moet inneem. Jesus het gesê, ‘…Ek [sal] my kerk oprig, en al die magte van die hel sal dit nie oorwin nie.’ In 1517 het ‘n monnik genaamd Martin Luther ‘n godsdienstige instelling die stryd aangesê. Hy het die status quo uitgedaag deur die verkope van kwytskeldings (lisensies om te sondig) aan te val. Hy het sy 95 stellings teen die kerkdeur in Wittenberg, Duitsland, vasgespyker en die Protestantse Hervorming begin. Luther het waarskynlik nie geweet dat hy besig was om geskiedenis te maak nie. Klein dade van geloof en moed kan egter ‘n domino effek hê. Wanneer ons doen wat reg is, ten spyte van die omstandighede of gevolge, dek ons die tafel vir God om die tafels om te keer. By die Ryksdag van Worms in 1521, is Luther deur die keiser Karl V vir sy oortuigings aangekla. In plaas daarvan om sy stellings terug te trek, het Luther sy morele moed bymekaar geskraap om standpunt in te neem: ‘Tensy ek oortuig word uit die getuienis van die Heilige Skrif self, of met goeie rede, is ek gebonde deur my gewete as ‘n gevangene van die Woord van God. Ek kan en wil niks herroep nie, want dit is nie geoorloof of reg om teen my gewete te getuig nie. Mag God my help. Amen.’ Vir wie moet jy opstaan? Die haweloses? Die vaderloses? Die stemloses? Moenie toelaat dat die probleem jou oorweldig nie. Moenie toelaat dat dit wat jy nie kan doen nie, jou daarvan weerhou om dit wat jy kan doen, te doen nie.
Sielskos: Sag 5-8; Luk 23:1-12; Ps 39; Spr 24:26-28
2018-09-25
Psalm 40:2-3 NLV
Toe ‘n aardbewing Haïti getref het, het ‘n noodwerker wat onder ‘n hotel wat ineengestort het vasgekeer was, gebid, ‘Here, ek was nie onlangs baie met U in kontak nie. Nou het ek U meer as ooit nodig.’ Hy skryf: ‘Ek het ‘n geluid gehoor. ‘Wie’s daar?’ het ek uitgroep. ‘Jim,’ het ‘n man geantwoord. Hy en vyf ander mense was ook vasgekeer. ‘Wil julle saam met my bid?’ het ek gevra. ‘Ja,’ het hy geantwoord. Dus het ek gesê, ‘Here, ons vra U vir ‘n wonderwerk. Red ons asseblief.’ Ons het gewag, maar niemand het gekom nie. Ek het gedreineerd gevoel. Geen kos en water vir vier-en-twintig uur nie en ek het ‘n dokter nodig gehad. Ek het my oë toegemaak, seker dat ek hulle nooit weer sou oopmaak nie. ‘n Stem het uitgeroep en ek het wakker geskrik. ‘n Oorlewende het deur ‘n klein gaatjie met ‘n reddingspan kontak gemaak. ‘n Uur het verbygegaan, en toe twee. ‘Ek gaan hier doodgaan en daar is niks wat ek daaraan kan doen nie.’ Toe het ‘n gedagte by my opgekom: Loof My. Ek het begin sing: ‘Great is Thy faithfulness; morning by morning new mercies I see. Be still my soul.’ Lofprysingsgesange aan die Een wat presies geweet het waar ek is. Ek het God se teenwoordigheid aangevoel en Hom hoor fluister, ‘Vertrou My met alles,’ en ek het dit alles laat gaan. ‘Laat u wil geskied, Here.’ Ure later het ‘n span reddingswerkers my na veiligheid opgetrek en my na die hospitaal toe geneem waar my vrou gewag het. ‘Ek het gedink jy is dood,’ het sy gesê. ‘Ek ook,’ het ek gefluister. Ek sou dood gewees het as dit nie was vir dit wat ek saam met my in daardie donker plek gehad het nie – my geloof wat lewendiger as ooit is.’
Sielskos: Lev 23:33-44; Joh 7:1-40; Sag 14:16-21
2018-09-24
Kolossense 3:10 NLV
Blywende verandering gebeur geleidelik aan die binnekant, dikwels voor daar enige uiterlike bewyse daarvan is. Pastoor Jim Penner sê: ‘Een van my vriende het onlangs ‘n heupvervanging gekry. Voor die vervanging was die gewrig was so pynlik dat hy mank geloop het en ‘n kierie moes gebruik het. Te danke aan die moderne vaardighede van die chirurg was hy gou weer op die been. Tog het hy maande na die operasie steeds mank geloop. Ek het hom vandag raakgeloop en die mankheid was weg. Waarheen het dit gegaan? Dit was die vorige dag nog daar. Het dit in die nag verdwyn? ‘Jy loop goed,’ het ek gesê. ‘Wat het gebeur?’ Sy reaksie was onskatbaar. ‘My fisioterapeut het vir my gesê dat ek my brein weer moes oplei.’ Sy brein is opgelei om pyn te verwag, dus het hy in afwagting daarvan mank geloop. Selfs toe hy nie die pyn ervaar het nie, het sy brein gesê, ‘Wag net. Dit kom nog!’ Die Bybel sê dat jy in Christus ‘…’n nuwe skepping [is]. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’ (2 Korintiërs 5:17 NLV). Jy moet egter jou denke verander deur te glo, dit te aanvaar en daarvolgens op te tree. Christus het al reeds die herstellende ‘operasie’ gedoen. Net soos my vriend ‘n nuwe heup gegee is, so het God vir jou ‘n nuwe lewe gegee. Die ou ene is weg, saam met al die slegte dinge wat jy gedoen, gedink en gesê het. Jy is ‘n splinternuwe skepping. Jy moet egter jou brein oplei om God se vergifnis te aanvaar en die herstellende werk wat Jesus in jou lewe gedoen het, te aanvaar.’ Dus, lei weer jou brein op.
Sielskos: Sag 1-4; Luk 22:63-71; Ps 3; Spr 24:23-25
2018-09-23
2 Korintiërs 12:10 NLV
Wanneer jy beledig word, kan jy met ‘n bitsige antwoord reageer, of dit as ‘n geleentheid vir groei sien. Dawid het gesê, ‘Die lyding was goed vir my, want toe het ek u voorskrifte geleer’ (Psalm 119:7 NLV). Die sielkundige dr Brenda Shoshanne sê: ‘Die persoon wat ons beledig is ‘n onderwyser, wat ons help om ons ego te verminder, geduld en deernis te ontwikkel, onvoorwaardelike vergifnis uit te oefen en ons van die lewe en verhoudings te leer. As jy ‘n belediging nie as ‘n belediging sien nie, maar as ‘n les of ‘n gawe, verloor dit sy mag om jou seer te maak. Op ‘n praktiese vlak, wanneer jy beledig word, moenie iets sê nie. Gee jouself tyd. Baie skade word veroorsaak deur terug te slaan, die situasie te eskaleer en dinge te sê wat jy nie bedoel nie. Besef dat dit jou ego is – die valse sin van trots wat te voorskyn kom – en moenie daarmee saam gaan nie.’ Paulus het op ‘n plek gekom waar hy tevrede was met beledigings. Die meeste van ons is nog nie heeltemal daar nie, maar met tyd en oefening kan ons daar kom. Met betrekking tot Judas, skryf ‘n outeur: ‘God sal soms die aksies van ons vyande manipuleer om hulle as vriende te laat werk om Sy wil in ons lewens te vervul. Hy kan jou deur die slegste verhoudings seën, selfs die wat wat pynlik en negatief is. Die tyd, inspanning en pyn wat ons in hulle belê, word nie gemors nie omdat God weet hoe om teenspoed te gebruik om jou te help om jou doel in die lewe te vervul. Op die ou einde sal jy die genade vind om jou vyande te herevalueer en te besef dat, soos Judas, hulle vriende in vermomming is.’
Sielskos: 1 Kon 17:1-6; 1 Kon 18:16-39; 1 Kon 19:9-18; 2 Kon 2:1-12
2018-09-22
Handelinge 6:1 NLV
Die Bybel sê: ‘Namate die aantal gelowiges steeds toegeneem het, het daar klagtes gekom. Die Griekssprekendes het gekla oor die daaglikse verspreiding van kos aan hulle weduwees. Hulle het beweer dat die Arameessprekendes hulle afskeep.’ Hoekom? Omdat hulle buitestaanders was. Hierdie vrouens het nie in Judea of Galilea grootgeword nie. Hulle was van die verre lande van Griekeland, Rome en Sirië afkomstig. As hulle enigsins Aramees gepraat het, het hulle dit met ‘n aksent gedoen. Daarom is hulle afgeskeep. Die bestuurder van die kosstoor het die Hebreeuse vrouens eerste keuse gegee. Die versoeke is in twee stapels gedeel: plaaslike vroue en immigrante se versoeke. Hoe het die kerk gereageer? ‘Die Twaalf roep toe al die gelowiges bymekaar…’ (vers 2 NLV). Hoekom het die apostels so ‘n vergadering geroep? As gevolg van die voorbeeld wat Jesus van die begin van sy bediening aan hulle gestel het: ‘Die boekrol met die boodskappe van Jesaja die profeet is aan Hom gegee en Hy het dit oopgerol tot by die plek waar dit sê…’ (Lukas 4:17 NLV). Daardie dag het Hy die ses dinge aangekondig wat God Hom gestuur het om te doen: 1) Om die evangelie aan die armes te gee. 2) Om gebroke harte gesond te maak. 3) Om gevangenes vry te laat. 4) Om blindes te laat sien. 5) Om onderdruktes vry te maak. 6) Om aan te kondig dat die tyd van die Here se goedheid gekom het. Dit was die bevrydingsjaar toe alle gevangenes vrygelaat is, alle skuld vergewe is en alles wat van jou weggeneem is, herstel is. Jesus voldoen aan elke behoefte: liggaam, siel en gees. Dit is die boodskap wat jy geroep is om met ander te deel.
Sielskos: 2 Tim 1-4; Luk 22:54-62; Ps 19; Spr 24:19-22
2018-09-21
Markus 4:14 NLV
In Jesus se vergelyking van die saaier, het die saad op vier tipes grond geval en vier verskillende resultate geproduseer. ‘Hulle by wie die saad op die voetpaadjie val, verteenwoordig die mense wat die woord hoor, maar dan kom Satan dadelik en vat die woord wat op hulle lewens gesaai is, weg. En hulle by wie op klipperige grond gesaai is, verteenwoordig die mense wat die woord hoor en dit dadelik vol blydskap aanneem. Maar soos dit met jong plantjies in sulke grond gaan, skiet hulle nie diep wortel nie. Hulle hou net vir ‘n rukkie. Sodra daar probleme of vervolging ter wille van die Goeie Nuus kom, struikel hulle dadelik in die geloof. Daardie mense by wie tussen die dorings gesaai is, verteenwoordig die mense wat die woord hoor, maar die bekommernisse van hierdie lewe en die lokstem van die rykdom en die hunkering na allerhande goed verstik gou die Woord, en dit bly sonder vrug. Maar hulle by wie op die goeie grond gesaai is, is die mense wat die woord hoor en dit aanneem en ‘n groot oes oplewer – party 30, party 60, party selfs 100 maal wat oorspronklik gesaai is’ (verse 15-20 NLV). Die sade van God se Woord kan nie faal nie: ‘…dit sal… die doel bereik waarvoor Ek dit gestuur het’ (Jesaja 55:11 NLV). Indien God se beloftes nie in jou lewe vervul word nie, moet jy jouself afvra, ‘Watter tipe grond is ek?’ Is jy ‘n voetpaadjie mens – met ‘n dun vel wat maklik aanstoot neem? ‘n Klipperige persoon met geen geestelike wortelsisteem nie? Is jou grond vol dorings? Word die geestelike lewe in jou hart verstik? Of is jy ryk, vrugbare grond wat resultate produseer? Toets die grond van jou hart.
Sielskos: Miga 5-7; Luk 22:39-53; Ps 24; Spr 24:15-18