Neem standpunt in

2018-09-26
Matteus 16:18 NLV

Jy kan nie op die kantlyne sit nie, want God het jou na die voorste linie toe geroep. Dit beteken dat jy soms ‘n standpunt vir dit wat reg is sal moet inneem. Jesus het gesê, ‘…Ek [sal] my kerk oprig, en al die magte van die hel sal dit nie oorwin nie.’ In 1517 het ‘n monnik genaamd Martin Luther ‘n godsdienstige instelling die stryd aangesê. Hy het die status quo uitgedaag deur die verkope van kwytskeldings (lisensies om te sondig) aan te val. Hy het sy 95 stellings teen die kerkdeur in Wittenberg, Duitsland, vasgespyker en die Protestantse Hervorming begin. Luther het waarskynlik nie geweet dat hy besig was om geskiedenis te maak nie. Klein dade van geloof en moed kan egter ‘n domino effek hê. Wanneer ons doen wat reg is, ten spyte van die omstandighede of gevolge, dek ons die tafel vir God om die tafels om te keer. By die Ryksdag van Worms in 1521, is Luther deur die keiser Karl V vir sy oortuigings aangekla. In plaas daarvan om sy stellings terug te trek, het Luther sy morele moed bymekaar geskraap om standpunt in te neem: ‘Tensy ek oortuig word uit die getuienis van die Heilige Skrif self, of met goeie rede, is ek gebonde deur my gewete as ‘n gevangene van die Woord van God. Ek kan en wil niks herroep nie, want dit is nie geoorloof of reg om teen my gewete te getuig nie. Mag God my help. Amen.’ Vir wie moet jy opstaan? Die haweloses? Die vaderloses? Die stemloses? Moenie toelaat dat die probleem jou oorweldig nie. Moenie toelaat dat dit wat jy nie kan doen nie, jou daarvan weerhou om dit wat jy kan doen, te doen nie.

Sielskos: Sag 5-8; Luk 23:1-12; Ps 39; Spr 24:26-28