Verwelkom hierdie verandering!
2018-09-182 Korintiërs 4:18 NLV
Ons geniet die seëninge van verandering, maar nie die proses van verandering nie. Ons is wesens van gewoonte. Ons vorm ons gewoontes en ons gewoontes vorm ons. Dan begin ons dinge eksklusief uit ons eie perspektief sien. Wanneer dit gebeur, stagneer ons. Die waarheid is dat daar sonder verandering geen groei is nie. Wanneer jy die regte houding het, word elke ervaring – positief of negatief – ‘n geleentheid. Dink daaroor: Bome het meer as sonlig nodig om vrugte te dra. Die reënseisoen is ook ‘n produktiewe seisoen, omdat dit altyd die oestyd voorafgaan. Jy hoef nie van die reën te hou nie, jy moet net die doel en voordele daarvan verstaan. Die Bybel sê ons word elke dag ‘…al hoe meer verander om soos die Here te lyk…’ (2 Korintiërs 3:18 NLV). Om soos Jesus te word, moet jy Hom egter volg waar Hy jou ook al lei. Dit beteken dat jy Hom deur die wildernis van versoeking, die pyn van verwerping, die verlies van jou reputasie en die oorgawe van jou wil volg en om gereed te wees om na die plek van kruisiging te gaan waar jy vir alle vorme van self-gesentreerde lewe sterf. Om Jesus te volg beteken dat jy môre dalk op ‘n ander plek as vandag sal wees. Sodra jy hierdie beginsel verstaan, sal jy ophou om verandering wat in jou lewe plaasvind teen te staan en begin om God se werk daarin te sien. Paulus sê: ‘…Al is ons uiterlike mens besig om te vergaan, innerlik word ons dag tot dag vernuwe… Ons oog is nie op die sigbare gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd’ (2 Korintiërs 4:16-18 NLV).
Sielskos: Neh 11-13; Luk 22:14-23; Ps 78:56-64; Spr 24:6-10