Probeer om vrede te maak
2018-09-14Romeine 12:18 NLV
Jesus het gesê, ‘Gelukkig is die vredemakers, want God sal vir julle sê: ‘Julle is mý kinders.” (Matteus 5:9 NLV). Let op, God het beloof om die vredemakers, nie die mense wat vrede liefhet nie, te seën. Daar is ‘n verskil. Vredemakers betaal die prys; vredeliefhebbers geniet die voordele. Soms moet jy mense konfronteer voor jy hulle kan troos. Jesus het die handelaars uit die tempel uit gegooi omdat hulle die mense wat lammers en duiwe as offergawes vir God gekoop het, onregverdige pryse gevra het. In die meeste gevalle was hierdie mense wat dit nie kon bekostig nie, dus het Jesus besluit om betrokke te raak. Een van die name wat aan God gegee is, is Jehova Salom, ‘Die Here is ons vrede’ (sien Rigters 6:24). ‘Salom’ verwys nie na die afwesigheid van moeilikheid nie, maar na die vrede van God te midde daarvan. Wanneer jy ‘n probleem met iemand het, het Jesus gesê dat ons sekere stappe moet neem. Eerstens, gaan en probeer die probleem in privaatheid oplos. As dit nie werk nie, neem iemand saam wat jou kan help. As dit misluk, neem dit na die kerk se leierskap toe. As die persoon dan steeds weier om versoen te raak, wees dan lief vir hulle en los hulle in God se hande (sien Matteus 18:15-17). Paulus het gesê, ‘Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense.’ Paulus was byvoorbeeld gewillig om sekere kos wat afstootlik vir ander mense was, nie te eet nie (sien 1 Korintiërs 8:13), maar hy was nie gewillig om moeilikheidmakers in die kerk te verdra nie (sien Romeine 16:17). Jy moet dus weet wanneer om golwe te maak en wanneer om vrede te maak.
Sielskos: Neh 1-4; Luk 21:12-24; Ps 78:17-31; Spr 23:26-28