Laat God gesien word – nie jy nie
2018-09-09Matteus 6:1 NLV
Jesus het sy hardste veroordeling vir diegene wat goeie dade doen om gesien te word, gereserveer. Hy het hulle hipokrate (skynheiliges), die oorspronklike Grieks vir akteur, genoem. Akteurs in die eerste eeu het maskers gedra. Dus is ‘n hipokraat iemand wat ‘n masker, ‘n vals gesig, aansit en vir die applous van ander mense optree. Jesus het nie gesê, ‘Moenie goeie dade doen’ nie. Ook het Hy nie gesê, ‘Moenie laat jou goeie werke gesien word’ nie. Ons moet goeie werke doen en sommige van hulle moet gesien word sodat hulle impak kan hê. Kom ons wees dus duidelik. Om iets goeds te doen is ‘n goeie ding. Om goeie dinge te doen om gesien te word, is nie goed nie. Dit is inderwaarheid ‘n ernstige oortreding, omdat skynheiligheid mense van God af wegdraai. Wanneer mense wat God soek gospelsangers soos Las Vegas kunstenaars windmakerig sien rondloop… Of wanneer hulle hoor hoe die prediker, ‘n man van gladde woorde, klere en hare, die gehoor betower en God uitsluit… Wanneer kerkgangers modieus aantrek om gesien te word en ‘n groot bohaai van hulle gawes en dankoffers maak… Wanneer mense ‘n kerk binnegaan om God te soek en God nie kan sien as gevolg van die kerk nie – moenie vir ‘n sekonde dink dat God nie daarop reageer nie. Jesus was duidelik oor hierdie kwessie: ‘Wanneer julle besluit om goeie dinge vir ander mense te doen, moet julle eers seker maak hoekom julle dit doen. Moenie ‘n openbare skouspel daarvan maak sodat ander julle kan raaksien nie. As julle op soek is na die applous van ander mense, skuld God julle niks meer nie. Dan het julle klaar julle beloning gekry’ (Matteus 6:1 DB). Laat God vandag gesien word – nie jy nie.
Sielskos: Joh 14:6-11; Hand 4:8-12; Hand 16:22-34; Joh 3:13-21