Verandering kan by jou begin

2018-08-28
Rigters 6:26 NLV

Daar is ‘n verhaal van ‘n familie wat ‘n professionele biograaf gehuur het om hulle familiegeskiedenis op te teken. Daar was egter net een probleem. Hulle was bekommerd oor oom George, die swartskaap van die familie wat in die elektriese stoel vir ‘n string moorde tereggestel is. ‘Geen probleem,’ het die biograaf gesê. ‘Ek sal eenvoudig sê dat oom George in die voorsitterstoel van toegepaste elektronika by ‘n belangrike regeringsinstelling was; dat hy aan sy posisie toegewyd was en dat sy dood as ‘n skok gekom het.’ Op ‘n ernstiger noot, wanneer dit by jou opvoeding en familieboom kom, kan jy soms nie veel beter doen as om daaruit te leer nie! Deur God se genade kan jy egter baie aan jou toekoms doen. Jou ouers mag dalk in geestelike blindheid voortgestruikel het, maar jy kan in die lig van God se Woord stap – en jou familie saam met jou neem. Gideon, ‘n held van die Ou Testament, het in ‘n familie van afgodsdienaars grootgeword. Dit was ‘n kulturele ding; almal het dit gedoen. God het egter planne vir Gideon gehad, dus het die engel van die Here hom een dag besoek en gesê, ‘…Breek jou pa se altaar vir Baäl af… Kom bou dan ‘n stewige altaar vir die Here jou God…’ (verse 25-26 NLV). Dit was nie ‘n maklike ding vir Gideon om te doen nie, want hy was van nature ‘n bang persoon. Toe hy in geloof opgetree het om God te gehoorsaam, wou die dorpsinwoners hom doodmaak. Omdat Gideon egter aan God gehoorsaam was, het hy op die ou einde sy hele familie verander. Die woord vir jou vandag is dus: Verandering in jou familie kan by jou begin. As dit nie by jou begin nie, by wie sal dit dan begin?

Sielskos: 2 Kro 29-31; Luk 17:20-37; Ps 119:137-144; Spr 22:11-13

God sal jou beskerm

2018-08-27
Daniël 6:28 NLV

Een Bybelonderwyser skryf: ‘Daar was tye wat ek wou gehad het dat God my uit sekere putte moes red, maar Hy het nie. Hoekom nie? Omdat Hy wou gehad het dat ek moes leer dat sy genade in die put genoeg is. Die vraag is nooit, ‘Wat sal God doen wanneer alles om my lyk of dit vernietig gaan word nie?’ Die vraag is, ‘Wat sal ek doen?’ Ek mag dalk nie die leeus kan oorwin nie, maar ek hoef nie – dis God se werk. Daniël het gesê, ‘My God het sy boodskapper gestuur. Hy het die leeus se bekke toegesluit… want ek het niks verkeerd… gedoen nie…’ (vers 23 NLV). Ek mag dalk nie kan keer dat iemand my hof toe sleep nie, maar soos Daniël, kan ek ‘n beroep op my God doen. ‘…Hy het daar drie maal ‘n dag op sy knieë gegaan om vir sy God te bid en Hom te loof…’ (vers 11 NLV). Hou op om jouself moeg te maak deur teen die Vyand en jou omstandighede te baklei; dis te veel. Steun net op God en wees onskuldig op die aanklagte wat deur diegene wat bang of jaloers is op jou posisie met God en mense, teen jou maak. God het nie Daniël uit die put gered nie; Hy het hom uit die mag van die vyand gered terwyl hy in die put was. Die leeus was steeds daar toe Daniël uit die put gehaal is, in afwagting op hulle volgende slagoffer. Hulle het egter geen mag oor hom gehad nie – en as ‘n verloste kind van God het hulle ook geen mag oor jou nie.’ Wanneer jy saam met God stap, kan jy daarop staatmaak dat Hy jou sal beskerm.

Sielskos: 2 Kro 25-28; Luk 17:11-19; Ps 119:129-136; Spr 22:8-10

Verenig deur die Gees

2018-08-26
Handelinge 2:17 NLV

Jesus is ‘…’n vriend van die liederlikste sondaars…’ (Matteus 11:19 NLV) genoem. Hoekom? Omdat hy nie mense geanaliseer en gestereotipeer het nie. Hy het nie die goed gemanierdes en welgesteldes uitgesoek nie. Hy het hulle ingesluit, maar Hy het Hom nie tot hulle geselskap beperk nie. Hy het diegene wat deur die samelewing gemarginaliseer en verstoot is uitgesoek en met God se liefde na hulle toe uitgereik. ‘Maar wat van hulle sondige praktyke?’ vra jy. ‘Lyk dit nie dalk of ons dan hulle leefstyl verskoon nie?’ Eendag het die Fariseërs ‘n vrou na Jesus toe gebring en gesê, ‘…Leermeester, hierdie vrou is uitgevang terwyl sy besig was met ‘n daad van owerspel’ (Johannes 8:4 NLV). Let op wat Jesus gedoen het; Hy het na haar vlak afgebuig en haar na sy vlak opgehef! Eers toe het Hy gesê, ‘…Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie’ (vers 11 NLV). Die feit is, as mense al hulle sondes laat staan voor hulle na die Here toe kom, sou hulle Hom nie meer nodig hê nie. Die kerk is gebore toe God se Gees oor mense van elke ras, kultuur, tradisie en agtergrond uitgegiet is. Daar kan nie ‘n opregte uitgieting van die Gees geskied waar mense vervreemd en uitgesluit word nie. Paulus het geskryf: ‘Vir hierdie Goeie Nuus is ek allesbehalwe skaam. Dit is immers God se krag wat hier aan die werk is. Dit bring redding vir elkeen wat glo – heel eerste vir die Jode, maar ook vir die nie-Jode’ (Romeine 1:16 NLV). As gelowiges het ons die formule om gebroke mense weer heel te maak. Voor ons dit egter met hulle kan deel en geloofwaardigheid kan hê, moet ons eers deur die Gees verenig word.

Sielskos: Joh 10:1-18; Op 7:13-17; Ps 23; Luk 15:1-7

Ons word deur ons swaarkry opgelei

2018-08-25
2 Korintiërs 4:17 NLV

Anders as wat jy dalk sal dink, is die ideale omgewing vir jou kinders nie een sonder probleme of toetse nie. Alhoewel dit moeilik is om te aanvaar, het jou kinders terugslae en teleurstellings wat oor hulle pad kom nodig. Hoe kan hulle leer om hulle probleme en frustrasies as volwassenes te hanteer, wanneer hulle dit nie in hul vroeë opvoeding ervaar nie? Die natuur bewys dit. ‘n Boom wat in ‘n reënwoud geplant word, word nooit geforseer om sy wortels afwaarts te strek op soek na water nie. Dus is die boom swak geanker en kan dit deur ‘n effense wind omgewaai word. In teenstelling daarmee, word die mesquite boom wat in ‘n droë woestyn geplant word, deur sy vyandige omgewing bedreig. Hoe oorleef dit? Deur sy wortels tot 9 meter in die aarde af op soek na water te strek. Deur by die harde toestande aan te pas, word die boom sterk en staan dit stewig teen alle aanvalle. Ons kinders is soos hierdie twee tipe bome. Kinders wat geleer het om hulle probleme te oorkom, is beter geanker as diegene wat nooit probleme moes hanteer nie. Jou taak is dus nie om elke uitdaging waarvoor jou kind te staan kom uit die weg te ruim nie. Jou taak is om as ‘n vertroueling en bondgenoot aan hulle sy te bly, hulle aan te moedig in hulle nood, in te tree wanneer die bedreiging oorweldigend word en beskikbaar te wees wanneer die krisis arriveer. Jy moet hulle die gereedskap gee om die onvermydelike probleme en druk van die lewe te kan hanteer. Paulus druk dit so uit: ‘Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan.’ Ons word deur ons swaarkry opgelei.

Sielskos: 2 Kro 22-24; Luk 17:1-10; Ps 119:121-128; Spr 22:4-7

Geesvervulde lewens

2018-08-24
Efesiërs 5:18 NLV

Sommige mense raak dronk in ‘n poging om die leegheid binne in hulle te vul. Dit werk egter nie. Toe Jesus besef dat sy dissipels nie sonder Hom sou oorleef wanneer Hy weggaan nie, het Hy gesê, ‘En ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Raadgewer stuur om vir altyd by julle te wees’ (Johannes 14:16 NLV). Wanneer jy verstaan wat die Heilige Gees kan doen, sal jy nie ‘n enkele dag sonder sy hulp wil leef nie. 1) Hy sal jou voete op die pad van waarheid plant (sien Johannes 16:13). 2) Wanneer jy aan jou redding twyfel, sal Hy bevestig dat jy waarlik God se verloste kind is (sien Romeine 8:16). 3) In moeilike situasies, wanneer jy nie weet wat om te sê nie, sal Hy jou die regte woorde op die regte tyd gee (sien Handelinge 1:8). 4) Hy sal sy aard in jou herproduseer (sien Galasiërs 5:22). Dit staan bekend as ‘die vrugte van die Gees,’ nie die inspanning van jou vlees nie. Paulus skryf, ‘…moenie soveel wyn drink dat julle dronk word nie, dit lei tot onbeheerde gedrag. Nee, laat die Heilige Gees julle lewe vol maak’. Jy kan oor die algemeen sien as iemand dronk is deur die manier wat hulle tong sleep en hoe hulle wankel as hulle stap. Wanneer dit gebeur, sê ons dat hulle ‘onder die invloed is.’ Paulus se punt is duidelik: As ‘n gelowige, moet jou treë en jou tong ‘onder die invloed’ van die Heilige Gees wees. Vra dus vandag vir God om jou met sy Gees te vul – en vul dit aan deur daagliks sy Woord te lees en te bid.

Sielskos: 2 Kro 19-21; Luk 16:19-31; Ps 119:113-120; Spr 22:1-3

Denke vir dromers

2018-08-23
Genesis 37:5 NLV

Eerstens, is dromers gewillig om opofferings te maak. Wanneer God ‘n droom in jou hart plaas sal jy sekere opofferings moet maak, soos om korttermyn plesier vir langtermyn vervulling te ruil. Paulus het hierdie beginsel verstaan: ‘Wat ek wel weet, is dat die Heilige Gees my in elke stad verseker dat gevangenskap en vervolging voorlê. Al is my lewe kosbaar, ag ek dit van geen waarde as ek nie my lewenstaak en my bediening wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaarmaak nie…’ (Handelinge 20:23-24 NLV). Tweedens, word dromers nie altyd waardeer nie. ‘Een nag het Josef ‘n droom gehad. Hy het dit vir sy broers vertel, waarna hulle hom nog meer gehaat het.’ Sommige mense sal nie jou droom waardeer nie, omdat dit hulle aan die droom wat hulle nooit gehad het nie of wat hulle eenkant toe gestoot het, herinner. Hulle sal jou met elke logiese verskoning daarvan probeer laat afsien. Hoe moet jy reageer? Wees lief vir hulle, help hulle as jy kan, maar moenie deur diegene wat hulle droom opgegee het, beïnvloed word nie. Die skrywer John Mason sê, ‘As jy saam met God beweeg, sal jy gekritiseer word. Die enigste manier om kritiek te vermy is om niks te doen en niks te wees nie.’ Derdens, dromers is oorwinnaars. Josef se droom het hom in staat gestel om Potifar se vrou te weerstaan, sy familie se verraad, gevangenskap en ‘n klomp ander dinge wat hom kon laat opgee het, te oorkom. Om jou droom te ontdek, leer jouself ken: jou sterk- en swakpunte. Observeer waar God jou geplaas het, vra Hom raad en kyk uit vir geleenthede en ‘koninkrykskonneksies.’ Wanneer jy dit doen, sal Hy jou ‘n droom vir jou lewe gee en jou help om dit te vervul.

Sielskos: 2 Kro 16-18; Luk 16:1-18; Ps 119:105-112; Spr 21:28-31