Geesvervulde lewens
2018-08-24Efesiërs 5:18 NLV
Sommige mense raak dronk in ‘n poging om die leegheid binne in hulle te vul. Dit werk egter nie. Toe Jesus besef dat sy dissipels nie sonder Hom sou oorleef wanneer Hy weggaan nie, het Hy gesê, ‘En ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ‘n ander Raadgewer stuur om vir altyd by julle te wees’ (Johannes 14:16 NLV). Wanneer jy verstaan wat die Heilige Gees kan doen, sal jy nie ‘n enkele dag sonder sy hulp wil leef nie. 1) Hy sal jou voete op die pad van waarheid plant (sien Johannes 16:13). 2) Wanneer jy aan jou redding twyfel, sal Hy bevestig dat jy waarlik God se verloste kind is (sien Romeine 8:16). 3) In moeilike situasies, wanneer jy nie weet wat om te sê nie, sal Hy jou die regte woorde op die regte tyd gee (sien Handelinge 1:8). 4) Hy sal sy aard in jou herproduseer (sien Galasiërs 5:22). Dit staan bekend as ‘die vrugte van die Gees,’ nie die inspanning van jou vlees nie. Paulus skryf, ‘…moenie soveel wyn drink dat julle dronk word nie, dit lei tot onbeheerde gedrag. Nee, laat die Heilige Gees julle lewe vol maak’. Jy kan oor die algemeen sien as iemand dronk is deur die manier wat hulle tong sleep en hoe hulle wankel as hulle stap. Wanneer dit gebeur, sê ons dat hulle ‘onder die invloed is.’ Paulus se punt is duidelik: As ‘n gelowige, moet jou treë en jou tong ‘onder die invloed’ van die Heilige Gees wees. Vra dus vandag vir God om jou met sy Gees te vul – en vul dit aan deur daagliks sy Woord te lees en te bid.
Sielskos: 2 Kro 19-21; Luk 16:19-31; Ps 119:113-120; Spr 22:1-3