Verenig deur die Gees
2018-08-26Handelinge 2:17 NLV
Jesus is ‘…’n vriend van die liederlikste sondaars…’ (Matteus 11:19 NLV) genoem. Hoekom? Omdat hy nie mense geanaliseer en gestereotipeer het nie. Hy het nie die goed gemanierdes en welgesteldes uitgesoek nie. Hy het hulle ingesluit, maar Hy het Hom nie tot hulle geselskap beperk nie. Hy het diegene wat deur die samelewing gemarginaliseer en verstoot is uitgesoek en met God se liefde na hulle toe uitgereik. ‘Maar wat van hulle sondige praktyke?’ vra jy. ‘Lyk dit nie dalk of ons dan hulle leefstyl verskoon nie?’ Eendag het die Fariseërs ‘n vrou na Jesus toe gebring en gesê, ‘…Leermeester, hierdie vrou is uitgevang terwyl sy besig was met ‘n daad van owerspel’ (Johannes 8:4 NLV). Let op wat Jesus gedoen het; Hy het na haar vlak afgebuig en haar na sy vlak opgehef! Eers toe het Hy gesê, ‘…Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie’ (vers 11 NLV). Die feit is, as mense al hulle sondes laat staan voor hulle na die Here toe kom, sou hulle Hom nie meer nodig hê nie. Die kerk is gebore toe God se Gees oor mense van elke ras, kultuur, tradisie en agtergrond uitgegiet is. Daar kan nie ‘n opregte uitgieting van die Gees geskied waar mense vervreemd en uitgesluit word nie. Paulus het geskryf: ‘Vir hierdie Goeie Nuus is ek allesbehalwe skaam. Dit is immers God se krag wat hier aan die werk is. Dit bring redding vir elkeen wat glo – heel eerste vir die Jode, maar ook vir die nie-Jode’ (Romeine 1:16 NLV). As gelowiges het ons die formule om gebroke mense weer heel te maak. Voor ons dit egter met hulle kan deel en geloofwaardigheid kan hê, moet ons eers deur die Gees verenig word.
Sielskos: Joh 10:1-18; Op 7:13-17; Ps 23; Luk 15:1-7