‘Here, wat moet ek doen?’ (4)

2017-12-06
Jesaja 42:16 NLV

Nog ‘n manier hoe God jou sal lei is: Deur jou vrees te konfronteer en ‘n tree in geloof te neem. Voel jy onseker of bang oor God se wil in die situasie? Sy belofte vir jou is: ‘Ek lei blindes op ‘n pad wat vir hulle onbekend is. Ek lei hulle op paaie wat vir hulle onbekend is. Ek maak die donkerte voor hulle helder lig, en die ongelyke plekke maak Ek gelyk. Ek gaan dit alles doen, en hulle nie alleen los nie!’ (vers 16 NLV). Let spesifiek op die woorde: ‘onbekende paaie’… ‘donkerte’… ‘ongelyke plekke’. Wanneer jy God se leiding deur die Skrif gesoek het, wanneer jy na die innerlike aansporing van die Heilige Gees geluister het en wanneer jy na betroubare mense vir wysheid uitgereik het, moet jy ‘n tree in geloof neem en doen wat jy glo God jou geroep het om te doen. Dis een ding om te vra, ‘Here, wat moet ek doen?’ Dis iets heeltemal anders om te vra, ‘Is ek gewillig om dit te doen wanneer U dit duidelik gemaak het?’ Probeer om hierdie twee vrae te antwoord. a) Hoekom is risiko vir jou so moeilik? Wees eerlik. Vir die meeste van ons is risiko en verandering ongemaklik, uitdagend en selfs bedreigend. Dit is hoekom die Bybel sê, ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie’ (Spreuke 3:5 NLV). God sê egter nie, ‘Moenie jou eie insig gebruik nie’; Hy sê, ‘Moenie daarop staatmaak nie. Maak op My staat.’ b) Is jy bereid om ‘n groot verandering in jou lewe te maak – indien dit God se wil is? Jy moet hierdie twee vrae antwoord. Eers wanneer jy hulle korrek antwoord, is jy gereed om vorentoe te beweeg.

Sielskos: Gen 35-36; Joh 15:1-27; Ps 147:12-20; Pred 4:9-12

‘Here, wat moet ek doen?’ (1)

2017-12-03
Psalm 119:105 NLV

Wanneer jy bid, ‘Here, wat moet ek doen?’ kan Hy op verskeie maniere reageer. Kom ons kyk oor die volgende paar dae na ‘n paar daarvan. Hy sal jou deur sy Skrif antwoord. In plaas van om enigeen in die omtrek vir leiding te vra, gaan na God toe. Maak sy Woord jou eerste opsie, eerder as jou laaste uitweg. Die Psalmdigter het geskryf, ‘U woorde is ‘n lamp vir my voete en ‘n lig op my pad.’ Sonder ‘n gereelde daaglikse inname van God se Woord, sal jy in die duister bly oor wat die beste vir jou is en die rigting wat jy moet inslaan. ‘…Wat Ek sê, gebeur altyd. Dit sal nie verder uitgestel word nie…’ (Esegiël 12:25 NLV). As God dit in sy Woord sê, kan jy daarop staatmaak. Daar is bevele in die Skrif, maar God het ons hoofsaaklik beginsels daarin gegee waarvolgens om te lewe. Hierdie beginsels benodig wysheid en oordeelkundigheid. Die Psalmdigter het gesê, ‘Leer my goeie oordeel en kennis, want ek vertrou op u gebooie’ (Psalm 119:66 NLV). Dit beteken nie dat jy ‘n spesifieke vers vir elke besluit en aksie wat jy maak, moet hê nie. Die meeste kere wat jy God vir leiding vra, sal Hy vir jou ‘goeie oordeel en kennis’ gee, wat genoeg is om jou in die regte rigting te stuur. Sal jy soms vrees ervaar? Ja, maar dis dan wanneer jy jou geloof moet gebruik! Jou grootste oomblikke van helderheid rakende God se wil, gebeur dikwels wanneer jy terugkyk, nie vorentoe kyk nie. Dis wanneer jy terugkyk na hoe God jou gelei het, wat jy kan sê, ‘…Nie een woord van al die goeie beloftes wat Hy… gegee het, het onvervuld gebly nie’ (1 Konings 8:56 NLV).

Sielskos: 1 Kon 17:1-7; 1 Kon 18:41-46; Mark 4:35-41

Leer om te lei (1)

2017-10-21
Eksodus 18:18 NLV

President Theodore Roosevelt het eenkeer gesê, ‘Die beste bestuurder is die een wat genoeg begrip het om bekwame mense te kies om te doen wat hy gedoen wil hê, en die selfbeheersing het om homself te weerhou om in te meng terwyl hulle dit doen.’ Tensy jy leer om te delegeer, sal jou leierskap agteruitgaan en jou visie sal stagneer. In Eksodus was Moses besig om homself fisies, emosioneel en geestelik uit te put terwyl hy aan die eise en probleme van twee miljoen Israeliete probeer aandag gee het. Dit is toe wat sy skoonpa vir hom sê, ‘…Jy kan dit nie alles op jou eie doen nie. Luister nou na my raad…’ (verse 18-19 NLV). Dit neem wysheid, volwassenheid en nederigheid om hulp te vra. Dis ‘n teken van krag, nie van swakheid nie. Die waarheid is, Moses was nie goed vir homself of die mense wat op hom staatgemaak het nie. As ‘n leier, is dit maklik om jou eie belangrikheid en bekwaamheid te oorskat. Dit is hoekom Paulus waarsku, ‘…Jy moenie dink jy is belangriker as wat jy regtig is nie. Jy moet verstandig dink oor jouself en oor alles…’ (Romeine 12:3 ABA). God het mense met sekere gawes en talente rondom jou geplaas. Wanneer jy hierdie mense herken en betrek, word hulle vervul en word die werk reg gedoen. God het ons geskep om interafhanklik te wees, nie onafhanklik nie. Deur outoriteit aan die regte mense te delegeer, is Moses in sy leierskapstaak versterk, soos God dit wou hê. Wanneer jy probeer om alles vir alle mense te wees, voel jy op die ou einde gefrustreerd. Jy is nie geroep om dit alles te doen nie, maar om dit deur ander mense gedoen te kry. Dit is waaroor leierskap gaan.

Sielskos: Jes 4-7; Joh 5:1-15; Ps 126; Spr 27:17-19

Verander jou denke

2017-10-12
Filippense 4:8 NLV

Om jou lewe te verander, moet jy eers jou denke verander. Dis nie maklik as jy jou hele lewe lank al op ‘n sekere manier dink nie. Die dominee en skrywer, dr Frank Crane, het gesê, ‘Ons gedagtes is ons beste vriende en ons grootste vyande.’ Koning Salomo het dit so gestel: ‘Want soos [die mens] in sy siel bereken, so is hy…’ (Spreuke 23:7 AFR53). Om jou denke te verander, moet jy dit doen – een gedagte op ‘n slag. Dit benodig dissipline en vasberadenheid. Dis egter die moeite werd. As jy ‘n marathon wil hardloop, sal jy mos nie heeldag lekkers eet nie? Die brandstof wat jy insit bepaal die prestasie. Tog verontagsaam ons hierdie basiese stukkie wysheid: Wat jy jou liggaam voer is niks in vergelyking met wat jy jou gedagtes voer nie! Hier is ‘n waarheid wat jou sal transformeer: Dink uitstekende gedagtes! Wat jou gedagtes aanhoudend binnedring, besit hulle, vorm hulle, beheer hulle en druk hulle op die ou einde uit in dit wat jy word en wie jy is. Jou gedagtes sal dit waaraan jy blootgestel word, absorbeer en reflekteer. Die geleenthede wat jy bywoon, die verhoudings wat jy bou, die boeke wat jy lees, die musiek waarna jy luister, die mediaboodskappe waaraan jy blootgestel word, die gesprekke waaraan jy deelneem en die gedagtes wat jy het vorm jou denke en uiteindelik jou karakter en jou lotsbestemming. Wat moet jy dus doen? Begin elke dag deur te bid: ‘Here, ek wil die tipe gedagtes hê wat u Woord beskryf. Denke wat gevul word deur alles wat waar, eerbaar, skoon, suiwer, lieflik en lofwaardig is’ (sien Filippense 4:8). Kan jy jou indink hoe jou lewe sal wees as jy aanhoudend so bid en jou denke ooreenstemmend programmeer?

Sielskos: Eks 22-24; Joh 2:12-25; Ps 89:15-37; Spr 26:20-22

Hoe om ‘n toets te oorkom

2017-09-01
Jakobus 1:4 NLV

Jakobus skryf: ‘…wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees. Julle weet mos: Wanneer ‘n mens se geloof ‘n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard. Julle moet egter enduit volhard. Dan sal julle julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees. Julle sal niks kortkom nie. Vra vir God as jy nie kan agterkom wat Hy wil hê jy moet doen nie… Maar, as ‘n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag… word. So iemand kan mos nie dink dat jy iets van die Here sal ontvang nie. Hy is iemand wat nie tot ‘n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie’ (verse 2-8 NLV). Let drie dinge oor hierdie Skrifgedeelte op: 1) Jou geloof groei wanneer dit getoets word. Jy sal nooit die krag van jou anker ken totdat jy deur die storm oorval word nie. 2) God sal vir jou wysheid gee om die toets te hanteer. Hy sal nie noodwendig al jou ‘hoekoms’ beantwoord nie. In plaas van om Hom te bevraagteken, bid eerder, ‘Here, hoe wil U hierdie toets gebruik om my te help om geestelik te ontwikkel? Hoe kan ek saam met U werk om die maksimum voordeel hieruit te trek? Watter veranderinge wil U hê moet ek in my lewe maak?’ 3) Jy moet gewillig wees om gehoorsaam te wees. Dis moontlik om God vir wysheid te vra en dan daaroor te debatteer, te wag of ander dinge te doen terwyl jy besluit of jy gehoorsaam gaan wees. Wanneer God jou sy wysheid gee, moet jou eerste reaksie ‘…Ja Here, u dienaar luister’ (1 Samuel 3:10 NLV), wees.

Sielskos: Jos 8:30-10:43; Mark 9:30-37; Ps 111; Spr 23:4-6