Kies die regte benadering

2018-04-28
Spreuke 17:27 NLV

Dis nie genoeg om die regte antwoorde te hê nie; jy het die regte benadering nodig. Goeie idees en raad word gemors wanneer jy dit by mense se kele afdruk. Wysheid beteken om die regte ding, op die regte tyd, op die regte manier te sê. ‘Iemand wat kennis het, praat nie baie nie. Iemand met insig bly kalm.’ Jou pogings om iemand te help verander sal misluk, of erger, hulle wegstoot, tensy jy hulle met liefde en nederigheid benader. Die meeste mense weet reeds wat hulle probleem is. Die kans is goed dat hulle al ‘n rukkie daarmee worstel en diep binne-in hulle wil hulle beter doen. ‘Mooi woorde is soos heuning; dit is goed vir die gees en bevorderlik vir sy lewe’ (Spreuke 16:24 NLV). Jesus het gesê, ‘en julle sal begryp wat die waarheid beteken, en die waarheid sal julle vrymaak’ (Johannes 8:32 NLV). As mense dus nie die waarheid op die manier wat jy dit deel wil aanvaar nie, is die probleem dalk deels joune. Die voormalige Amerikaanse Senaat Kapelaan, Richard Halverson, skryf: ‘Jy kan jou idees aan mense as koeëls of as sade aanbied. Jy kan hulle skiet of hulle saai. Idees wat as koeëls gebruik word maak inspirasie en motivering dood. Idees wat as sade gebruik word skiet wortel, groei en dra vrugte in die lewe waarin hulle geplant is. Daar is egter ‘n risiko hieraan verbonde: Sodra dit deel word van die persoon waarin dit geplant is, sal jy waarskynlik geen krediet vir jou oorspronklike idee kry nie. As jy egter gewillig is om sonder die krediet klaar te kom, sal jy ‘n groot oes hê.’ Die woord vir jou vandag is dus: Kies die regte benadering.

Sielskos: Hand 22-23; Mark 5:11-20; Ps 144:9-15; Spr 11:12-13

Pasop vir vleiery

2018-04-18
Spreuke 27:21 NLV

Die woord vleier kom van ‘n Franse term wat beteken ‘om te klop, te streel of te liefkoos.’ Dus is ‘n vleier iemand wat jou met een hand op die skouer sal klop en in sommige gevalle met die ander hand jou in die rug sal steek. Vleiery is iets wat ‘n persoon in jou gesig vir jou sal sê, maar nie agter jou rug nie. Dis onopregte lof vanuit ‘n onopregte beweegrede. Die Bybel waarsku ons om daarvoor versigtig te wees: ‘Loop katvoet vir die man wat jou altyd loop en vlei. Hy bedoel dit nie regtig nie. Dit is soos ‘n net wat hy oor jou gooi en waaruit jy nie kan loskom nie’ (Spreuke 29:5 DB). Salomo sê dat jy op die lange duur beter af is met ‘n persoon wat jou kritiseer as ‘n persoon wat jou vlei. ‘Die een wat ander berispe kry op die einde waardering, en nie die persoon wat ander vlei nie’ (Spreuke 28:23 NLV). Wanneer dit by vleiery kom, moet jy altyd hierdie twee dinge in gedagte hou: 1) Prys spaarsamig maar opreg, met slegs die beste vir die ander persoon in gedagte. 2) Ontvang lof met wysheid, sonder om jouself of die persoon wat jou prys te ernstig op te neem. Onthou altyd dat vleiery die wapen is wat Satan teen Adam en Eva in die tuin van Eden ingespan het: ‘…Julle sal dan net soos God alle kennis hê’ (Genesis 3:5 NLV). Dis hoekom Salomo skryf: “‘n Smeltkroes bepaal die gehalte van silwer, die vuuroond bepaal die suiwerheid van goud. ‘n Mens se waarde word bepaal deur wat mense van hom sê.” Die vraag wat jy jouself altyd moet afvra wanneer iemand jou prys is dus: Laat dit my ‘n groter kop, of ‘n groter hart kry?

Sielskos: Hand 3:11-5:42; Mark 3:13-19; Ps 127; Spr 10:19-21

Lei jou kinders na Christus toe

2018-04-02
Deuteronomium 6:6-7 ABA

Dis nie maklik om ‘n Christen-ouer te wees in ‘n wêreld waar groepsdruk voel of dit jou plat druk nie; waar waardes nie meer saakmaak en waar sedeloosheid hoogty vier nie. Met God se hulp kan jy dit egter doen! Om jou kinders na Christus toe te lei, doen die volgende vyf dinge: 1) Begin wanneer hulle klein is en lees elke aand vir hulle Bybelstories voor. Laat hulle toe om te hoor hoe jy bid dat hulle Jesus persoonlik sal ken en hoe jy Hom aanhoudend bedank dat Hy vir hulle sondes gesterf het. 2) Wanneer jy hulle kerk toe neem, verduidelik aan hulle wat die verskeie rituele en seisoene (die Doop, die Laaste Avondmaal, Paasfees en Kersfees) verteenwoordig en hoekom hulle gevier word. 3) Wees sensitief oor elke geestelike vraag wat hulle vra en neem die tyd om hulle vrae op so ‘n manier te antwoord dat hulle dit sal verstaan. 4) Koop vir hulle Christelike DVD’s en strokiesprente wat die Bybelse waarhede op hulle vlak aan hulle kan verduidelik. 5) Vertrou dat die Heilige Gees jou wysheid op die regte tyd sal gee om die evangelie aan hulle te verduidelik; en bid konstant vir hulle verlossing. Op een geleentheid het D.L. Moody verslag gelewer oor ‘twee-en-‘n-half’ bekerings wat tydens een van sy dienste plaasgevind het. Iemand het opgemerk, ‘Ek veronderstel jy bedoel twee volwassenes en een kind.’ ‘Nee,’ het Moody geantwoord. ‘Ek bedoel twee kinders en een volwassene. Die kinders kan hulle hele lewe aan God gee, maar die volwassene het net ‘n halwe lewe om te gee.’ Onthou, die dinge wat ons die beste leer is die dinge wat ons die meeste hoor. Dus: ‘Julle moet die dinge onthou wat ek vandag vir julle sê en julle moet dit vir julle kinders leer…’

Sielskos: Jer 14-17; Matt 28:11-15; Ps 69:1-18; Spr 8:27-29

Geheime vir selfbeheersing (3)

2018-03-02
Titus 2:12 DB

Praat terug met jou gevoelens. Ons sit heeltemal te veel klem op ons gevoelens. Ons dink dat alles moet goed voel, so nie is dit nie die moeite werd nie. Ons sê dinge soos, ‘Ek voel nie lus om te werk nie… Ek voel nie lus om my Bybel te lees nie.’ Of, ‘Ek voel of ek nog ‘n drankie wil drink… Ek is lus om tot laatoggend te slaap.’ Moenie jou gevoelens so baie outoriteit gee nie. Gevoelens is hoogs onbetroubaar; as jy hulle toelaat, sal hulle jou beheer en manipuleer. God wil nie hê dat jy deur jou gevoelens beheer moet word nie. Hy wil hê dat jy jou buie moet bemeester. Met Christus as die Heerser van jou lewe, kan jy jou gevoelens beheer. Praat terug met hulle. God sê dat Hy wil hê dat jy moet leer om jou emosies uit te daag. ‘Nou wys Hy vir ons hoe om ‘n Godlose leefstyl te systap en hoe om vernietigende begeertes te laat staan. Hy laat ons met wysheid en opregtheid leef…’ God se genade gee jou die krag om te doen wat reg is. Dit gee jou die vermoë om nee te sê vir daardie gevoel, daardie begeerte, daardie impuls. Sukkel jy met jou gewig? Voor jy die yskas oopmaak, het jy reeds met jouself oor kos begin praat. As jy ernstig is, sal jy sommige van hierdie onderbewustelike houdings teenoor kos moet begin uitdaag. Wanneer jy jou gevoelens hoor sê, ‘Ek moet net ietsie eet of ek gaan doodgaan,’ moet jy antwoord, ‘Nee, ek gaan nie doodgaan nie. Ek gaan inderwaarheid gesonder wees as ek nie nou iets eet nie.’ Die feit is: God se bonatuurlike krag kan jou help om jou buie, gedagtes en begeertes te bemeester.

Sielskos: 1 Kon 18:16-20:43; Matt 19:15-30; Ps 66:1-12; Spr 6:20-22

Doen wat God vir jou sê (4)

2017-12-14
Genesis 6:8 NLV

Jy vra, ‘Wat is God se guns?’ Dit is wanneer God dit vir jou doen wat jy nie self kan doen nie. Dit maak deure vir geleenthede oop. Dit verander teenstand in ondersteuning. Dit help jou om bevordering te kry, die lys te haal of die ooreenkoms te beklink. Die Bybel sê, ‘En so het Jesus grootgeword en in wysheid toegeneem; en Hy was geliefd by God en almal wat Hom geken het’ (Lukas 2:52 NLV). Dit kan ook met jou gebeur. Dus, in plaas van om tevrede te wees met die vlak van guns wat jy tans geniet, vra God vir ‘n verhoging. Jy vra, ‘Hoe kry ek guns?’ Deur gehoorsaamheid! Dit begin deur jou lewe aan Christus oor te gee: ‘…Die Here gee genade en eer. Hy sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie’ (Psalm 84:12 NLV). God se guns word nie net tot die geestelike ryk beperk nie; dit reik ook tot in die materiële ryk. Dit was in Noag se lewe sigbaar in sy vernuftige uitvindings. Hy het nie net die eerste boot gebou en baanbrekerswerk in die skeepsbou-industrie gedoen nie, hy het ook ‘n wye verskeidenheid patente besit. Volgens Joodse tradisie, het Noag die ploeg, die skoffel, die hark en ‘n hele aantal ander implemente wat in landbou gebruik kon word, uitgevind. Die guns van God is in goeie idees vervat. Dit maak nie saak wat jy doen nie, God wil jou help om dit te doen. Hy wil guns in jou besigheidsplan, jou manuskrip, jou lesplan, jou regsdokument, jou verkoopspraatjie ensovoorts, bewys. Jy moet jouself egter vir hierdie guns posisioneer deur gehoorsaam te wees. As God weet dat Hy die eer sal kry, sal Hy jou bo jou vermoë en hulpbronne seën.

Sielskos: Est 1-4; Joh 19:18-42; Ps 105:23-36; Pred 7:5-8