Om God se wil te ken is kragtig!

2018-11-02
Efesiërs 1:9 NLV

Wat ‘n vreugde is dit nie wanneer die wil van God nie meer ‘n geheim is nie, omdat Hy dit aan ons bekend gemaak het! Skielik is jou uitkyk anders, jou houding verander en vrees kan nie meer speletjies met jou gedagtes speel nie. Nou weet jy – kennis is mag! Die Bybel sê, ‘…Dié wat in hulle God glo, sal… sterk staan en doen wat reg is’ (Daniël 11:32 NLV). Daar is tye wat jy dinge in jou gees weet wat jy nie in jou kop kan uitpluis nie. Dit kan veroorsaak dat jy verkeerd verstaan word. Jy kan die kennis van ‘n deurbraak of ‘n seëning lank voor dit gebeur, in jou gees saamdra. Die Bybel sê, ‘maar ons ken hierdie geheim omdat God dit deur sy Gees aan ons bekend gemaak het…’ (1 Korintiërs 2:10 NLV). Wanneer God wysheid met jou deel, plaas dit jou in ‘n posisie om suksesvol te wees. Wat onderskei die president van die bank van die skoonmaker? Dit wat hy of sy weet! Hulle mag dalk gelykes in alle ander sin van die woord wees, maar een het ‘n prys betaal om dinge te leer wat hom of haar in ‘n ander posisie geplaas het, wat ander belonings meebring. God kan veroorsaak dat jy iets weet wat die koers van jou lewe verander. Hy kan jou iets in die nag wys wat jou gevoel in die oggend kan beïnvloed. In sy teenwoordigheid ontvang jy insigte wat jou ‘n doelwit, hoop, waardigheid, rigting en die krag om op te staan en te baklei vir dit wat Hy jou in sy Woord beloof het, gee. Kom dus vandag in sy teenwoordigheid – en bly daar totdat Hy sy wil in die saak aan jou geopenbaar het.

Sielskos: Jes 34-37; Joh 7:25-44; Ps 104:24-35; Spr 28:9-12

Moses en jy

2018-09-29
Eksodus 3:4 NLV

Moses het al die potensiaal in die wêreld op veertig gehad, maar soos ‘n verlore saak op tagtig gevoel. In plaas daarvan om God se wil op God se manier te doen, het hy probeer om God se wil te bespoedig en dit vir vier dekades vertraag! Op ‘n punt in ons lewe voel die meeste van ons dat die lewe ons verbygegaan het. Ons droom lyk soos ‘n verlore saak. Hierdie krisis bied ons ‘n keuse: Gooi handoek in, of gooi ons hoed terug in die ring in. Baie van ons gee op ons drome op omdat ons voel dat God op ons opgegee het. Ons dien egter ‘n God van restorasie (sien Joël 2:25). Moses se lewe is ‘n bewys dat dit nie saak maak hoeveel verkeerde draaie ons maak nie, dit is God se genade wat ons terug op die paraderoete kry. Moses het gedink dat sy verlede hom gediskwalifiseer het, maar God het dit gebruik om hom vir sy doelwit voor te berei. Niemand het die paleis se protokol so goed soos die prins van Egipte geken nie. Hy het immers daar grootgeword. Nadat hy vir veertig jaar skape opgepas het, het hy die wildernis geken – die wildslewe, die watergate, die weerpatrone. Moses het verkeerd opgetree voor hy begin reg optree het en dit mag dalk die geval met jou ook wees. Hier is egter die goeie nuus: God kan jou mislukkings in die verlede gebruik om jou karakter te bou en jou met die krag en wysheid toe te rus wat jy nodig het om jou doel hier op aarde te vervul. Dis wonderlik wat God met ‘n gebroke lewe kan doen wanneer jy vir Hom al die stukke gee.

Sielskos: 1 Kor 1-3; Luk 23:35-43; Ps 54; Spr 25:1-3

Hartseer en hartsiek (1)

2018-06-11
Spreuke 13:12 NLV

Depressie kan jou laat opgee. Toe die werk te groot vir Moses geword het, het hy vir God gesê, ‘As U dit van my verwag, maak my dan asseblief maar liewer dood as wat ek na hierdie ellende moet sit en kyk’ (Numeri 11:15 NLV). Elia was seker dat Isebel haar dreigemente teen hom sou uitvoer en het vir God gevra om sy lewe te neem. Daar word gesê dat die boek Job oor ‘n tydperk van slegs nege maande strek, maar Job se verliese was so verwoestend dat hy gesê het, ‘Ek haat my lewe!..’ (Job 10:1 NLV). In plaas daarvan om te stry of ‘n Christen wat sy of haar eie lewe neem hemel toe gaan of nie, moet ons eerder vir God vir wysheid vra om te weet wanneer ‘n geliefde so hooploos of emosioneel siek geword het dat hulle dit nie meer langer kan verduur nie. Wie is hierdie mense? Jong mense wat hulself sny as ‘n uitroep om hulp. Oorlogsveterane wat aan post-traumatiese stres ly en nie van die demone van oorlog kan ontsnap nie. Slagoffers van seksuele mishandeling wat hulself tot die dood toe ooreet, drink en dwelms gebruik. Goeie mense wat met seksuele kwessies sukkel maar te vreesbevange is om daaroor te praat. Agt-en-vyftig miljoen Amerikaners stry daagliks met depressie. Hulle slaap in herehuise en onder brûe. Sommige van hulle is Christene met selfdoodgedagtes, wat dit vrees om te hoor dat hulle swak is en nie genoeg geloof het nie. As jy hulle met ‘n vinnige Skrifgedeelte, ‘n kort gebed en ‘n ‘God seën jou’ op hulle pad stuur, gooi jy hulle vir die wolwe. Jesus het jou gestuur, want jy het die Woord, die Gees en die krag om hulle te help.

Sielskos: Eseg 20-21; Mark 14:66-72; Ps 48; Spr 14:33-35

Wees daar (4)

2018-05-28
Galasiërs 6:2 NLV

Dr Raymond Vath het gesê, ‘Ons moet vir ander doen wat hulle nie vir hulleself kan doen nie, maar ons moet nie vir hulle doen wat hulle nie vir hulleself wil doen nie. Die probleem is om die wysheid te vind om die verskil te weet.’ Jy kan te veel help! Deur vir iemand dinge te doen wat hulle vir hulself kan doen, ondermyn jy hulle selfstandigheid en skep jy ‘n ongesonde afhanklikheid. In plaas daarvan om dus in te storm en oor te neem: 1) Wys vir hulle hanteerbare stappe van aksie. Deur hulle te help om beheer van hulle lewens te neem, bewapen jy hulle teen wanhoop en magteloosheid. Jy help ook so om hulle brose selfvertroue op te bou. ‘n Woord van waarskuwing: Wanneer die krisis onomkeerbare verlies soos ‘n skeisaak of die dood behels, is die werk om eenvoudig deur een dag op ‘n slag te kom, genoeg aksie. 2) Gee hulle hoop. In die diepte van die krisis voel dit of daar geen lig aan die einde van die tonnel is nie – ‘n gevoel dat die lyding vir ewig gaan aanhou. Groei en verbetering kan nie sonder hoop plaasvind nie. Hoop verskaf energie en bring verligting gebaseer op die geloof dat dinge sal verbeter, mee. God belowe, ‘…Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê’ (Jeremia 29:11 NLV). 3) Maak seker dat jy opvolg. Krisisse word selde vinnig opgelos. Alhoewel ‘n lewe uiteindelik ‘n mate van normaliteit sal aanneem, kan daar steeds episodes wees waar die persoon terugval in hartseer, hulpeloosheid en eensaamheid. Jou woorde mag troos bring, maar jou deurlopende aandag sal die persoon help om hulle geloof te behou en te vorder op hulle reis na genesing.

Sielskos: Rig 19:16-21:25; Mark 11:27-33; Ps 45; Spr 13:13-16

‘n Gebed vir sukses by die werk

2018-05-24
Spreuke 22:29 NLV

Hier is ‘n gebed vir sukses by die werk: ‘Here, ek dank U vir die manier wat U my gemaak het, vir die baie gawes en talente wat U in my geplaas het en ek vertrou dat ek die beste persoon vir die werk is. Ek is dankbaar vir ieder en elke persoonlikheid waarmee ek werk, selfs diegene wat ek nie regtig van hou of verstaan nie. Ek vra dat my fokus gedurende my tyd in hierdie posisie, op die doelwitte wat U vir my gestel het, sal wees. Gee my die wysheid en insig om die werk te kan doen, selfs te midde van ‘n vyandige omgewing. Help my om te verstaan wat U my hier wil leer en gee my geduld soos U my vir die toekoms voorberei. Help my om my beste te lewer en altyd positief en hoopvol te bly. Stil die klagtes en teleurstellings van my hart deur U perfekte vrede en laat my toe om U met my werk te vertrou. Klee my in die kledingstukke van lof en die regverdigheid van Christus sodat ek U by die werk kan verheerlik. Laat my toe om my ware identiteit te ken, om in U guns te wandel en om U, meer as die mense waarmee ek werk, te probeer tevrede stel. Waar daar twis is, laat my ‘n vredemaker wees. Waar daar bedrog is, laat my die waarheid praat. Waar daar wanhoop is, laat my hoop bring. Waar daar vrees is, laat my geloof bring. Waar daar donkerte is, laat my lig bring. Waar daar hartseer is, laat my vreugde bring. Hierdie dinge vra ek in Jesus se Naam. Amen.’

Sielskos: Rig 9:34-11:40; Mark 10:35-52; Ps 129; Spr 20:25; Pred 5:4-6