Om God se wil te ken is kragtig!

2018-11-02
Efesiërs 1:9 NLV

Wat ‘n vreugde is dit nie wanneer die wil van God nie meer ‘n geheim is nie, omdat Hy dit aan ons bekend gemaak het! Skielik is jou uitkyk anders, jou houding verander en vrees kan nie meer speletjies met jou gedagtes speel nie. Nou weet jy – kennis is mag! Die Bybel sê, ‘…Dié wat in hulle God glo, sal… sterk staan en doen wat reg is’ (Daniël 11:32 NLV). Daar is tye wat jy dinge in jou gees weet wat jy nie in jou kop kan uitpluis nie. Dit kan veroorsaak dat jy verkeerd verstaan word. Jy kan die kennis van ‘n deurbraak of ‘n seëning lank voor dit gebeur, in jou gees saamdra. Die Bybel sê, ‘maar ons ken hierdie geheim omdat God dit deur sy Gees aan ons bekend gemaak het…’ (1 Korintiërs 2:10 NLV). Wanneer God wysheid met jou deel, plaas dit jou in ‘n posisie om suksesvol te wees. Wat onderskei die president van die bank van die skoonmaker? Dit wat hy of sy weet! Hulle mag dalk gelykes in alle ander sin van die woord wees, maar een het ‘n prys betaal om dinge te leer wat hom of haar in ‘n ander posisie geplaas het, wat ander belonings meebring. God kan veroorsaak dat jy iets weet wat die koers van jou lewe verander. Hy kan jou iets in die nag wys wat jou gevoel in die oggend kan beïnvloed. In sy teenwoordigheid ontvang jy insigte wat jou ‘n doelwit, hoop, waardigheid, rigting en die krag om op te staan en te baklei vir dit wat Hy jou in sy Woord beloof het, gee. Kom dus vandag in sy teenwoordigheid – en bly daar totdat Hy sy wil in die saak aan jou geopenbaar het.

Sielskos: Jes 34-37; Joh 7:25-44; Ps 104:24-35; Spr 28:9-12