Die gevare van ‘superouerskap’

2019-03-31
Spreuke 23:24-25 NLV

Jou doelwit as ouer moenie wees om perfekte kinders groot te maak nie, maar om aan hulle die wysheid te gee wat nodig is om suksesvol te kan leef. Dit kan twee uitdagings veroorsaak: ouerlike verwaarlosing of ouerlike obsessie. Die tweede een kom voor by ouers wat obsessief oor hulle kinders is en geen tyd vir ontspanning, romanse of rus laat nie. Hierdie mense sal nie eers Moeder Teresa as ‘n kinderoppasser oorweeg nie! Die beweegredes van obsessiewe ouers mag dalk goed wees, maar hulle beheptheid kan tot drie ernstige probleme lei: 1) Hulle maak hulle kinders die spil waarom alles draai, wat nie in die kinders se beste belang is nie. As jy jou kinders die middelpunt van die heelal maak, wag ‘n groot skok op hulle wanneer hulle die regte wêreld betree. 2) Emosionele en fisiese moegheid lei tot ‘ouerlike uitbranding.’ Net soos ‘n battery nie aanhoudend gedreineer kan word nie, het jy tyd nodig om fisies, emosioneel en geestelik te herlaai. Wanneer jy dit nie doen nie, voel almal om jou die negatiewe effek daarvan. 3) ‘Superouerskap’ kan vernietigend in ‘n huwelik wees, veral wanneer die ma die een is wat daartoe neig. ‘n Pa kan sy kinders begin verwyt omdat hulle sy vrou van hom af wegneem, of die vrou mag dalk dink dat haar man selfsugtig is omdat hy nie so toegewyd soos sy aan hulle kinders is nie. In beide gevalle word ‘n wig tussen hulle ingedryf, wat die familie uiteindelik kan vernietig. Matigheid of balans, is die sleutel tot ‘n gesonde en gelukkige familielewe.

Sielskos: 1 Kor 9:24-27; Num 6:1-8; Spr 25:28

Hoe om mislukking te oorkom

2019-03-23
Psalm 73:26 NLV

Soos jy na jou lotsbestemming op pad is, sal jy verseker slaggate langs die pad tref, of ‘n paar verkeerde afdraaie neem, of vergeet om petrol in te gooi en langs die pad gaan staan. Die enigste manier om mislukking te vermy, is om nooit jou motorhuis te verlaat nie! In die woorde van die skrywer William Saroyan: ‘Goeie mense is goed, omdat hulle wysheid deur mislukking verkry het.’ Die ware kwessie in die lewe is nie of jy gaan misluk nie, maar of jy uit jou ervaring gaan leer en dit in die wysheid gaan omskep wat nodig is om sukses te kan behaal. In ‘n opname onder suksesvolle mense, het nie een van hulle hul foute as mislukkings gesien nie. Hulle het hulle foute as geleenthede om te leer of te groei, gesien. Dis ‘n wenhouding! Henry Ward Beecher het gesê: ‘Dis nederlae wat been in vuursteen en sening in spiere verander, wat mens onoorwinbaar maak. Moenie bang wees vir nederlae nie. Jy is nooit so naby aan ‘n oorwinning as wanneer jy in ‘n goeie saak verslaan word nie.’ Die volgende keer wat jy dus in iets misluk, stop en vra jouself af, ‘Wat het ek geleer? Is ek dankbaar vir hierdie ervaring? Hoe kan ek dit in sukses verander? Waarheen gaan ek van hier af? Wie anders het ook al so misluk, en hoe kan hulle my help? Hoe kan my ervaring ander mense help? Het ek misluk, of kon ek net nie ‘n onrealistiese hoë doelwit bereik nie?’ Gaan dan een stap verder en vra God vir groter insig. As jy dit doen, sal jy sterker en wyser as gevolg van jou ervarings word (sien Jakobus 1:5).

Sielskos: Job 38-39; Luk 19:28-36; Ps 38:13-22; Spr 8:24-26

Sommige mense kan nie gehelp word nie (2)

2019-03-09
Sagaria 7:11 NLV

Aanvaar dit maar – sommige mense is eenvoudig nie gereed om te verander nie! Hulle sal jou tyd en energie opeis, maar op die ou einde nie bereid wees om die prys vir vooruitgang te betaal nie. Wie is hierdie mense? 1) Mense wat wil praat, maar nie wil luister nie. Jakobus sê: ‘Julle moet mense word wat dóén wat die woord sê. Moet dit nie net aanhoor nie, dan bedrieg julle julleself’ (Jakobus 1:22 NLV). In plaas van om eindeloos daarna te strewe om aan ander mense se behoeftes te voldoen, probeer hulle aan die Een koppel wat dit kan doen. Hulle moet van die Here afhanklik wees, nie van jou nie. 2) Mense wat dink dat jy nie gekwalifiseerd genoeg is om hulle te help nie. Jesus is nie deur die wêreld aanvaar nie en tog was Hy die presiese persoon wat hulle nodig gehad het (sien Johannes 1:11-12). Wanneer mense onwillig is om jou hulp en raad te aanvaar, is die kans goed dat hulle nie gereed is om te groei en hulle probleme aan te pak nie. 3) Mense wat dit wat jy het, wil hê, maar nie dit wat jy weet nie. Hierdie mense wil gered word, maar nie opgelei word nie; getroos word, maar nie reggehelp word nie. Wanneer jy aanhou om hulle uit hulle gemors te help, in plaas daarvan om hulle te leer hoe om te leef, help jy hulle nie regtig nie. Dawid het gesê: ‘Die lyding was goed vir my, want toe het ek u voorskrifte geleer’ (Psalm 119:71 NLV). Dikwels moet mense eers die pyn van dit wat verkeerd is ervaar, voordat hulle die wysheid van dit wat reg is, kan waardeer. Wees dus oordeelkundig wanneer jy mense help.

Sielskos: Eks 39-40; Luk 15:11-32; Ps 135; Spr 7:21-23

Voor jy leen

2019-02-02
Spreuke 30:8 NLV

Wanneer jy daaroor besin, kan jou rykdom op twee maniere bepaal word: óf die hoeveelheid wat jy besit, óf die hoeveelheid waarmee jy tevrede is. Baie van die huidige skuldkrisis is deur ons onvermoë om met genoeg tevrede te wees, veroorsaak. In ‘n briljante deel van Spreuke vind ons hierdie gebed: ‘Twee dinge wil ek van U vra. Moenie dit weier solank ek leef nie. In die eerste plek, keer tog dat ek lieg. In die tweede plek, laat my nie arm of ryk wees nie. Gee asseblief vir my net dit wat reg is. As ek te veel het, sal ek U verloën en vra: ‘Nou wie is die Here?’ As ek te arm is, sal ek steel en God se Naam beswadder’ (verse 7-9 NLV). Na aanleiding van hierdie Skrifgedeelte, moet ons die volgende ses riglyne volg wanneer ons geld wil leen. Skuld is verkeerd: 1) Wanneer jy dit nie op ‘n tydige basis kan terugbetaal nie. 2) Wanneer dit jou daarvan weerhou om God se regmatige deel vir Hom te gee. 3) Wanneer die skuldlas so swaar is dat jy nie vir die toekoms kan spaar nie. 4) Wanneer dit vir die luukshede in die lewe gebruik word. 5) Wanneer jy ander mense in gevaar stel deur hulle vir jou te laat borg staan (sien Spreuke 6:1-5). 6) Wanneer dit jou huwelik onder finansiële druk plaas. Die finansiële kundige, Larry Burkett, het gesê dat skuld die motiverende faktor in amper 80 persent van alle skeisake is. Dit beteken egter nie dat jy nie familieprobleme sal hê as jy ryk is nie. Dit beteken eenvoudig dat wanneer jy geld eerste en jou familie tweede stel, dit jou niks meer as ‘n ryk mislukking kan maak nie. Voor jy dus geld leen, bid en vra God vir wysheid.

Sielskos: Gen 7-9; Luk 7:36-50; Ps 111; Spr 3:29-30

Wees beslis

2019-01-27
Jakobus 1:8 NLV

As jy bang is om ‘n besluit te neem omdat dit dalk verkeerd kan wees, lees die volgende Skrifgedeelte: ‘Vra vir God as dit nie vir jou duidelik is wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee… Maar, as ‘n mens bid, moet jy die vertroue hê dat God sal antwoord, want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So iemand kan mos nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie. Hy is iemand wat nie tot ‘n besluit kan kom nie; op so iemand kan jy nie peil trek nie’ (verse 5-8 NLV). President Reagen het dit geniet om te vertel hoe hy geleer het om besluite te maak. Toe hy ‘n seun was, het sy tannie hom na ‘n skoenmaker gestuur. Toe die skoenmaker vra of hy ‘n ronde of vierkantige toon wil hê, het hy onseker gestotter tot die skoenmaker gesê het, ‘Kom in ‘n dag of twee terug en sê vir my wat jy wil hê.’ Later het die skoenmaker Reagan in die straat raakgeloop en hom gevra wat hy oor die skoene besluit het. ‘Ek kon nog nie kies nie,’ het hy geantwoord. ‘Nou maar goed,’ het die skoenmaker gesê, ‘jou skoene sal môre gereed wees.’ Toe Reagan die skoene kry, het een skoen ‘n ronde toon en die ander skoen ‘n vierkantige toon gehad! Reagan het gesê, ‘Elke dag wat ek vir daardie skoene moes kyk het my ‘n les geleer. As jy nie jou eie besluite kan neem nie, sal iemand anders dit vir jou neem.’ Om sukses in die lewe te behaal, moet jy vir wysheid bid en dan ‘n besluit neem.

Sielskos: Ese 47:1-12; Op 21:22-22:5