Hoe om mislukking te oorkom

2019-03-23
Psalm 73:26 NLV

Soos jy na jou lotsbestemming op pad is, sal jy verseker slaggate langs die pad tref, of ‘n paar verkeerde afdraaie neem, of vergeet om petrol in te gooi en langs die pad gaan staan. Die enigste manier om mislukking te vermy, is om nooit jou motorhuis te verlaat nie! In die woorde van die skrywer William Saroyan: ‘Goeie mense is goed, omdat hulle wysheid deur mislukking verkry het.’ Die ware kwessie in die lewe is nie of jy gaan misluk nie, maar of jy uit jou ervaring gaan leer en dit in die wysheid gaan omskep wat nodig is om sukses te kan behaal. In ‘n opname onder suksesvolle mense, het nie een van hulle hul foute as mislukkings gesien nie. Hulle het hulle foute as geleenthede om te leer of te groei, gesien. Dis ‘n wenhouding! Henry Ward Beecher het gesê: ‘Dis nederlae wat been in vuursteen en sening in spiere verander, wat mens onoorwinbaar maak. Moenie bang wees vir nederlae nie. Jy is nooit so naby aan ‘n oorwinning as wanneer jy in ‘n goeie saak verslaan word nie.’ Die volgende keer wat jy dus in iets misluk, stop en vra jouself af, ‘Wat het ek geleer? Is ek dankbaar vir hierdie ervaring? Hoe kan ek dit in sukses verander? Waarheen gaan ek van hier af? Wie anders het ook al so misluk, en hoe kan hulle my help? Hoe kan my ervaring ander mense help? Het ek misluk, of kon ek net nie ‘n onrealistiese hoë doelwit bereik nie?’ Gaan dan een stap verder en vra God vir groter insig. As jy dit doen, sal jy sterker en wyser as gevolg van jou ervarings word (sien Jakobus 1:5).

Sielskos: Job 38-39; Luk 19:28-36; Ps 38:13-22; Spr 8:24-26