God se voorskrif teen stres

2017-08-05
1 Petrus 5:7 NLV

Voel jy gestres? Word jou gedagtes deur bekommernisse oorheers? Indien dit die geval is, wil God jou daarvan genees. Lees die volgende Skrifgedeeltes stadig en met gebed: ‘…Ek soek skuiling by U. In die skaduwee van U vlerke sal ek skuil totdat die onheil verby is’ (Psalm 57:1 NLV). ‘Maar vir die armes is U, Here, ‘n toevlug in die storm. Vir die behoeftiges in nood is U ‘n skuilplek…’ (Jesaja 25:4 NLV). ‘Ek sal by jou wees en jou beskerm waar jy ook al gaan… Ek sal jou nie verlaat nie, maar doen wat Ek beloof het’ (Genesis 28:15 NLV). ‘Die ewige God is jou skuilplek en onder jou is sy ewige arms…’ (Deuteronomium 33:27 NLV). ‘Moenie bang wees nie, want Ek is by jou. Moenie ontsteld word nie, want Ek is jou God. Ek maak jou sterk en wil jou help. Ek hou jou vas met my reddende regterhand’ (Jesaja 41:10 NLV). ‘…Tot julle stokoud is, sal Ek julle dra… Ek sal julle ondersteun en julle red’ (Jesaja 46:4 NLV). God se raad en voorskrif teen stres is dus: 1) God gee waarlik vir jou om. 2) Maak ‘n bewustelike besluit om al jou laste op Hom te werp. As jy voel dat jy te veel hooi op jou vurk het, vra Hom vir die wysheid om jou skedule te verander. Wanneer die probleem te groot is vir jou om te hanteer, gee dit vir God – en moenie dit terugvat nie. Laat Hom sy denke deur jou dink, en laat sy vrede, krag en geduld toe om beheer oor jou gedagtes te neem. Oefen elke oggend om dit te doen en soveel keer gedurende die dag soos wat jy nodig het. Dis God se voorskrif teen stres!

Sielskos: 1 Kron 4:24-5:26; Mark 2:13-22; Ps 119:9-16; Spr 20:19-21

Wees versigtig wie jy in jou vertroue neem

2017-08-04
Spreuke 11:13 NLV

As jy hulp met ‘n probleem in jou persoonlike lewe, jou loopbaan of jou familie benodig, hou die volgende in gedagte: 1) Slegte nuus word dikwels langer as goeie nuus onthou. Lank nadat jy die kwessie opgelos het en aanbeweeg het, kan die verkeerde mense nog aanhou om daarop te fokus en daaroor te praat. Dit is hoekom God se Woord sê, ‘…betroubare mense bewaar geheime.’ 2) Wees versigtig wie se raad jy volg. ‘Die planne van die regverdiges staan vas. Die raad van goddeloses is vol bedrog’ (Spreuke 12:5 NLV). Maak seker dat jy na die regte persoon uitreik. Daar is baie bronne van wysheid in hierdie wêreld, ‘Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam. Dit is bereid om deernis te bewys, en het goeie gevolge. Dit diskrimineer nooit en is altyd opreg’ (Jakobus 3:17 NLV). Neem slegs ‘n raadgewer wat volgens die beginsels van God se Woord wandel, in jou vertroue. 3) Maak seker dat die persoon wat jy vertrou, nie onbetroubare mense in sy/haar vertroue neem nie. Daar word gesê dat jy iemand aan die geselskap wat hulle opsoek, kan ken. Dis waar! Die Bybel sê, ‘Gelukkig is die mense wat nie optree volgens die raad van goddeloses [nie]…’ (Psalm 1:1 NLV). 4) As jy aanhoudend oor jou probleme praat, kan jy as ‘n slagoffer, eerders as ‘n oorwinnaar, gesien word. Toe Job alles verloor het, het amper almal hom vermy. Dit is eers nadat God Job se seëning verdubbel het, wat hulle teruggekeer het om deel aan sy lewe te hê en vir hom geskenke te bring. Dit is altyd wys om jou mond, jou gedagtes en jou fokus te beheer. Onthou, stilte kan nooit verkeerd aangehaal word nie.

Sielskos: 1 Kron 3:1-4:23; Mark 2:1-12; Ps 119:1-8; Spr 20:15-18

Om jou lewe met iemand te deel

2017-07-30
1 Korintiërs 7:33 NLV

Toe die vierjarige Sannie haar eerste troue bywoon, het sy baie vrae gehad. By die onthaal het haar ma verduidelik dat daar twee koeke is – een vir die bruidegom en een vir die bruid. ‘Maar Mamma’, het sy verstom gevra, ‘het hulle dan nog nie geleer om te deel nie?’ Die Bybel sê, ‘Maar die getroude man is begaan… oor hoe hy sy vrou kan gelukkig maak… Die getroude vrou is… begaan, oor hoe sy haar man kan gelukkig maak’ (verse 33-34 NLV). As jy meer tyd aan jou loopbaan as aan jou verhouding spandeer, is daar ‘n goeie kans dat dit nie gaan hou nie. Wanneer jy met iemand trou, trou jy met alles wat hulle is en met alles wat hulle al deurgemaak het. As jy vir God vra, sal Hy vir jou die wysheid en genade gee om julle altwee toe te rus om in genade te groei. Dit mag dalk nie dadelik gebeur nie. Soos Shakespeare tereg gesê het, ‘What wound did ever heal but by degrees?’ Dit neem tyd vir selfs ‘n klein snytjie om gesond te word. As jy Hom egter toelaat, sal God vir jou die olie van barmhartigheid en die wyn van liefde gee om oor jou eggenoot se wonde te giet. Moet nooit so beskikbaar by die werk word dat jy onbereikbaar by die huis word nie. Jou eerste roeping is tot jou familie. Jou prioriteite moet daar begin en dan na jou loopbaan en ander belange uitbrei. Paulus sê in effek dat getroude mense van die vlak van toewyding wat van enkellopendes verwag word, vrygestel word, sodat hulle tyd het om aan hulle verhouding te werk (sien verse 32-35). Jy sê, ‘Maar ek moet tyd met God spandeer.’ Jy is geroepe om die Here lief te hê – en jou eggenote!

Sielskos: Gen 14:18-20; Ps 110; Heb 5:5-11

Vermy onenigheid

2017-07-12
Jakobus 3:16 DB

Die apostel Paulus skryf: ‘Maak my dan nou heeltemal bly deur eensgesind te wees – één in liefde, één in hart en één in doel. Moet niks uit selfsug doen of om daarmee te spog nie. Wees eerder nederig deur van jou medegelowiges meer te dink as van jouself. Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange’ (Filippense 2:2-4 NLV). Onenigheid veroorsaak chaos in verhoudings. Jakobus wys uit: ‘…Want waar jaloesie is, of iemand wat net in homself belangstel en ander niks gun nie, kan mense nie in vrede saamleef nie…’ Wees dus op die uitkyk vir onenigheid! Smoor dit in die kiem die oomblik wat dit sigbaar word! ‘Wees baie versigtig dat niemand van julle uitsak en God se onverdiende goedheid verspeel nie. Moenie dat daar onder julle ‘n giftige loot opskiet wat moeilikheid veroorsaak en baie aansteek nie’ (Hebreërs 12:15 NLV). As jy vandag in God se seën wil wandel, probeer om in harmonie met ander saam te lewe. Is dit altyd maklik? Nee, maar hoe gouer jy leer om dit te doen, hoe beter sal dinge vir jou gaan. Wanneer God jou aanmoedig om die ander wang te draai of aan die kortste ent te trek, gebruik sy genade en doen dit. Bid: ‘Here, gee my U wysheid in hierdie situasie.’ Hy sal dit doen. ‘Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam. Dit is bereid om deernis te bewys, en het goeie gevolge. Dit diskrimineer nooit en is altyd opreg. Die vredemakers saai saad van vrede; hulle oes omdat hulle reg lewe voor God’ (Jakobus 3:17-18 NLV). As jy God se seën in jou lewe wil ervaar, vermy onenigheid.

Sielskos: 2 Sam 3:22-7:17; Mat 25:14-30; Ps 118:1-9; Spr 18:4-6