Bly op dit wat belangrik is, gefokus

2018-12-07
Jesaja 50:7 ABA

In ‘n klein dorp op die suidelike oewer van Lake Superior in Wisconsin, was die jaarlikse hondeslee wedren op die punt om te begin. Die deelnemers was almal kinders – van ouer seuns met verskeie honde en groot sleë, tot een klein seuntjie met slegs ‘n klein slee en een hond. Op die teken, het die sleë weggespring en gou was die klein seuntjie so ver agter dat dit skaars gelyk het of hy deel van die resies was. Halfpad deur die resies, toe die span in die tweede plek probeer om die eerste span verby te steek, het die sleë te naby aan mekaar gekom en het die honde begin baklei. Soos elke slee op die toneel aangekom het, het meer honde betrokke geraak. Dit was gou ‘n warboel van kinders, sleë en honde. Alle gedagtes oor die wedren het verdwyn. Een klein outjie en sy hond het dit egter reggekry om die chaos te omseil en die wedren te wen. Die Right Path stigter en besigheidsafrigter, Jerry Mabe, sê vir werkgewers dat wanneer hulle bestuurders aanstel, hulle op die uitkyk moet wees vir mense wie se aandag maklik deur ander dinge afgelei word, omdat die werk dikwels onder hulle ly. Om sukses te behaal moet jy gefokus bly op dit wat belangrik is en jou doelwitte sonder aarseling najaag. Hou jou oë op die wenstreep en vertrou God om jou te help. Hy sal dit doen. Sy Woord sê so: ‘Ja, die Here help my, daarom kon die mense my nie verneder nie. Die Here help my, daarom het ek my gesig hard gemaak soos klip. Ek weet hulle sal my nie verneder nie.’

Sielskos: Gen 37-39; John 17:1-26; Ps 147:1-11; Pred 3:5-8

Hoe om vrees te oorkom (5)

2018-08-09
Romeine 10:17 DB

Iemand het geskryf: ‘Two natures beat within my breast; the one is foul, the other blessed. The one I love, the other I hate; the one I feed will dominate.’ Vrees en geloof sal altyd in jou lewe teenwoordig wees en die een wat jy voed, sal bo uitkom. Jy kan nie verwag dat vrees eenvoudig sal verdwyn nie. As jy op jou vrese fokus, aandag aan hulle gee en tot hulle ingee, sal hulle vermeerder. Die manier om hulle te oorkom is om hulle uit te honger. Moet hulle nie jou tyd en energie gee nie. Moenie hulle met skinderstories, negatiewe nuus of bangmaak rolprente voed nie. Fokus op jou geloof en voed dit elke dag met God se Woord (sien Romeine 10:17). Hoe meer tyd en energie jy aan jou geloof wy, hoe sterker sal dit word. Enige tyd wat jy vir iets bang voel maar dit steeds doen, herprogrammeer jy jou houding. Met ander woorde, wanneer jy bang voel, beteken dit ‘gaan’ in plaas van ‘stop’; dit beteken ‘baklei harder’ eerder as ‘gee op.’ Die belangrikste tree wat jy kan neem om jou vrees te oorkom is om God te vertrou om die ding wat jy dink jy nie kan doen nie, te doen. Maak nie saak hoe sterk die houvas is wat die vrees op jou het nie, dit kan oorkom word, omdat die vrees in jou gedagtes is en jou gedagtes deur die Woord van God vernuwe kan word. Hier is die sleutel daartoe: ‘Moenie julle leefstyl aanpas by die gedragspatrone van hierdie wêreld nie, maar laat God julle omvorm deurdat Hy julle gedenkpatrone vernuwe. Dan sal julle goed kan onderskei wat Hý wil hê dat julle moet doen, naamlik dit wat werklik goed en aanvaarbaar en volmaak is’ (Romeine 12:2 NLV).

Sielskos: 1 Kro 6:1-7:19; Luk 12:1-12; Ps 119:9-16; Spr 20:19-21

Strek uit na wat voor is

2018-07-24
Amos 5:5-6 NLV

Bet-El is waar Jakob sy lewensveranderende droom gehad het en ‘n eed aan God afgelê het. Gilgal is waar die Israeliete gekamp het nadat God die Jordaanrivier wonderbaarlik geskei het en waar hulle vir die eerste keer die Beloofde Land betree het. Berseba is waar Isak ‘n put gegrawe het en ‘n altaar opgerig het. Al drie plekke het spesiale betekenisse gehad: Hulle was heilige bakens van Israel se geestelike reis. Hoekom het God dan gesê dat hulle Hom nie daar moet soek nie? Die antwoord is eenvoudig: Jy sal God nie in die verlede vind nie. Die Psalmdigter het gesê, ‘God beskerm ons en Hy maak ons sterk, Hy is altyd gereed om ons te help’ (Psalm 46:2 ABA). Wanneer ons te styf vashou aan dit wat God laas gedoen het, mis ons dikwels wat God wil hê ons volgende moet doen. Hy is aan die werk, op hierdie oomblik en op hierdie plek. Hy doen altyd iets nuuts. Gaan dus voort en bou altare en bakens vir heilige oomblikke in die verlede, maar onthou egter dat die doel van altare is om ons aan God se getrouheid in die verlede te herinner sodat ons geloof kan hê om Hom vir die toekoms te vertrou. Wanneer ons in die verlede begin leef, begin ons sterf. Om lewendig te wees beteken dat ons ten volle in die huidige leef. Dit beteken dat jy die verlede in die verlede moet los. Dis hoekom Paulus geskryf het, ‘…ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee omdat Christus Jesus dit vir my verdien het’ (Filippense 3:13-14 NLV). Strek jou dus uit na wat voor is!

Sielskos: Nah 1-3; Luk 9:1-17; Ps 14; Spr 19:1-4

Jaïrus (1)

2018-07-18
Lukas 8:41 NLV

Jaïrus het die sosiale status van ‘n burgemeester of biskop geniet. Wanneer jou kind egter in ‘n krisis is, sal al die status in die wêreld jou nie help nie. Jaïrus was ook nie die enigste ouer wat na Jesus toe gehardloop het toe moeilikheid aan sy deur kom klop het nie. ‘n Vrou het na Jesus gestorm en uitgeroep, ‘Here, Seun van Dawid, kry my tog jammer! My dogter is in die mag van ‘n duiwel en hy teister haar verskriklik’ (Matteus 15:22 NLV). Die vader van ‘n seun wat stuiptrekkings gekry het, het ook by die dissipels om hulp gesoek. Toe hulle hom nie kon help nie, het hy na Jesus toe gedraai en in trane gesê, ‘Ek glo!.. Help my tog om nie meer te twyfel nie!’ (Markus 9:24 NLV). In elke geval het Jesus gereageer. Hy het niemand weggewys nie. Hy sal jou ook nie wegwys nie! Jou kinders was immers eers sy kinders. Die Psalmdigter het gesê, ‘Kinders is ‘n gawe van die Here; ‘n vrug van die moederskoot’ (Psalm 127:3 NLV). Naas die gawe van verlossing, is kinders God se beste gawe aan jou. Selfs al is hulle joune, is hulle steeds syne. Dit wat syne is, beskerm en versorg Hy. Soos die Verlore Seun, mag hulle dalk elkeen van God se wette en jou hart gebreek het. Jou gebede is egter dit wat God ‘n uitnodiging en ingangspunt terug in hulle lewens gee. Die liefde van ‘n pa wat die Verlore Seun huis toe gedryf het, sal ook jou kind terugbring. Wat Jesus vir Jaïrus gesê het, sê Hy ook vandag vir jou: ‘…Moenie jou ontstel nie. Vertrou My net en dit sal goed gaan met haar’ (Lukas 8:50 NLV).

Sielskos: 2 Sam 14:21-17:13; Luk 7:36-50; Ps 118:19-29; Spr 18:10-12

Wanneer jy vrees en geloof ervaar

2018-04-19
Deuteronomium 31:6 NLV

Enige tyd wanneer jy iets vir die eerste keer probeer, of iets waarin jy voorheen misluk het, of iets wat jy dink te groot vir jou is, sal jy beide vrees en geloof ervaar. Hulle gaan hand aan hand. Een sal die ander een oorwin, maar hulle gaan nooit weg nie. Omdat Israel geen idee gehad het watter uitdagings vir hulle voorgelê het nie of hoe die lewe in die Beloofde Land sou wees nie, het God vir hulle gesê, ‘Wees sterk en hou moed!.. Die Here julle God sal met julle wees. Hy sal julle nie in die steek laat nie en julle nie verlaat nie.’ Dis vandag ook sy belofte aan jou! Dis die vrees vir mislukking wat ons die meeste van die tyd terughou. Tog besef jy wanneer jy terugkyk dat mislukking glad nie permanente skade aanrig nie; jy groei inteendeel as gevolg daarvan. Dr Joan Borysenko skryf: ‘Toe ek by Harvard toegelaat is, was ek seker dat dit as gevolg van ‘n rekenaarfout was. ‘n Prokureursvriend van my raak elke keer angsbevange net voor sy die slotargument voor ‘n jurie moet gee. Selfs wanneer jy ‘n kenner is, verdwyn vrees nie noodwendig nie. Dit is wanneer jy vrees as deel van die reis aanvaar, eerder as om daarvan af weg te hardloop, wat dit jou help om dit te oorwin.’ Om enige plek te kom, moet jy êrens begin, anders gaan jy nêrens nie. Die Amerikaanse essayis Hamilton Wright Mabie het gesê, ‘Die vraag wat elke mens moet beantwoord is nie wat hy sal doen as hy die inkomste, tyd, invloed en opvoedkundige voordele gehad het nie, maar wat hy sal doen met die dinge wat hy het.’ Konfronteer dus jou vrees, neem ‘n tree in geloof en vertrou God vir jou sukses.

Sielskos: Hand 6-7; Mark 3:20-27; Ps 75; Spr 10:22-23