Strek uit na wat voor is

2018-07-24
Amos 5:5-6 NLV

Bet-El is waar Jakob sy lewensveranderende droom gehad het en ‘n eed aan God afgelê het. Gilgal is waar die Israeliete gekamp het nadat God die Jordaanrivier wonderbaarlik geskei het en waar hulle vir die eerste keer die Beloofde Land betree het. Berseba is waar Isak ‘n put gegrawe het en ‘n altaar opgerig het. Al drie plekke het spesiale betekenisse gehad: Hulle was heilige bakens van Israel se geestelike reis. Hoekom het God dan gesê dat hulle Hom nie daar moet soek nie? Die antwoord is eenvoudig: Jy sal God nie in die verlede vind nie. Die Psalmdigter het gesê, ‘God beskerm ons en Hy maak ons sterk, Hy is altyd gereed om ons te help’ (Psalm 46:2 ABA). Wanneer ons te styf vashou aan dit wat God laas gedoen het, mis ons dikwels wat God wil hê ons volgende moet doen. Hy is aan die werk, op hierdie oomblik en op hierdie plek. Hy doen altyd iets nuuts. Gaan dus voort en bou altare en bakens vir heilige oomblikke in die verlede, maar onthou egter dat die doel van altare is om ons aan God se getrouheid in die verlede te herinner sodat ons geloof kan hê om Hom vir die toekoms te vertrou. Wanneer ons in die verlede begin leef, begin ons sterf. Om lewendig te wees beteken dat ons ten volle in die huidige leef. Dit beteken dat jy die verlede in die verlede moet los. Dis hoekom Paulus geskryf het, ‘…ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. Ek jaag wenpaal toe, na die hemelse prys wat God aan my wil gee omdat Christus Jesus dit vir my verdien het’ (Filippense 3:13-14 NLV). Strek jou dus uit na wat voor is!

Sielskos: Nah 1-3; Luk 9:1-17; Ps 14; Spr 19:1-4