Jaïrus (1)
2018-07-18Lukas 8:41 NLV
Jaïrus het die sosiale status van ‘n burgemeester of biskop geniet. Wanneer jou kind egter in ‘n krisis is, sal al die status in die wêreld jou nie help nie. Jaïrus was ook nie die enigste ouer wat na Jesus toe gehardloop het toe moeilikheid aan sy deur kom klop het nie. ‘n Vrou het na Jesus gestorm en uitgeroep, ‘Here, Seun van Dawid, kry my tog jammer! My dogter is in die mag van ‘n duiwel en hy teister haar verskriklik’ (Matteus 15:22 NLV). Die vader van ‘n seun wat stuiptrekkings gekry het, het ook by die dissipels om hulp gesoek. Toe hulle hom nie kon help nie, het hy na Jesus toe gedraai en in trane gesê, ‘Ek glo!.. Help my tog om nie meer te twyfel nie!’ (Markus 9:24 NLV). In elke geval het Jesus gereageer. Hy het niemand weggewys nie. Hy sal jou ook nie wegwys nie! Jou kinders was immers eers sy kinders. Die Psalmdigter het gesê, ‘Kinders is ‘n gawe van die Here; ‘n vrug van die moederskoot’ (Psalm 127:3 NLV). Naas die gawe van verlossing, is kinders God se beste gawe aan jou. Selfs al is hulle joune, is hulle steeds syne. Dit wat syne is, beskerm en versorg Hy. Soos die Verlore Seun, mag hulle dalk elkeen van God se wette en jou hart gebreek het. Jou gebede is egter dit wat God ‘n uitnodiging en ingangspunt terug in hulle lewens gee. Die liefde van ‘n pa wat die Verlore Seun huis toe gedryf het, sal ook jou kind terugbring. Wat Jesus vir Jaïrus gesê het, sê Hy ook vandag vir jou: ‘…Moenie jou ontstel nie. Vertrou My net en dit sal goed gaan met haar’ (Lukas 8:50 NLV).
Sielskos: 2 Sam 14:21-17:13; Luk 7:36-50; Ps 118:19-29; Spr 18:10-12