Versterk jou geloof (3)

2018-02-25
Psalm 56:4 NLV

Geloof is soos ‘n spier; probleme mag dit dalk strek, maar dit groei op die ou einde sterker. Dawid het hierdie waarheid verstaan. Hy is aanhoudend deur sy vyande gejag. Saul het selfs nog op die troon gesit toe Dawid as koning van Israel ingeseën is. In plaas van om geloof in God se belofte te verloor, het Dawid verklaar, ‘…Die Here het die getroues vir Hom afgesonder. Die Here sal antwoord wanneer ek tot Hom roep’ (Psalm 4:4 NLV). Toe die Filistyne hom gevange geneem het, het hy gebid, ‘My aanvallers soek my lewe sonder ophou, en baie val my aan, o Allerhoogste. Die dag wanneer ek bang word, sal ek net op U vertrou’ (Psalm 56:3-4 NLV). Toe hy in ‘n grot opgeëindig het waar hy voor Saul se jaloerse toorn gevlug het, het hy gesê, ‘…In die skaduwee van u vlerke sal ek skuil totdat die onheil verby is’ (Psalm 57:1 NLV). Gedurende die derde eeu, toe St Felix van Nola vir sy vyande gevlug het, het hy skuiling in ‘n grot gesoek. Met die loop van tyd het ‘n spinnekop sy web oor die klein opening begin spin, wat dit laat lyk het of daar al maande lank niemand daar binne was nie. As gevolg daarvan het sy vyande verby die grot geloop. Toe hy weer in die sonskyn uitklim, het Felix verklaar, ‘Waar God is, is ‘n spinnekop se web ‘n muur. Waar God nie is nie, is ‘n muur ‘n spinnekop se web.’ Soms sal jy in ‘n grot opeindig oor iets wat jy gedoen het, of as gevolg van omstandighede waaroor jy geen beheer het nie. Met God aan jou sy, kan jy egter sê, ‘Die dag wanneer ek bang word, sal ek net op U vertrou.’

Sielskos: Eks 20:15; Jos 7:1-26; Tit 2:6-10; Ef 4:28

Versterk jou geloof (1)

2018-02-23
Hebreërs 11:2 DB

Die Bybel sê: ‘…Geloof of vertroue in God beteken om nie een oomblik te twyfel dat Hy sy beloftes sal hou en om daarna uit te sien nie. Ons kan dit wel nie nou al sien nie, maar ons weet vir seker dat dit sal gebeur. Die Skrif praat met groot lof oor mense van die ou tyd wat so op God vertrou het’ (verse 1-2 DB). Die helde van geloof wat in Hebreërs hoofstuk 11 gelys word was ver van perfek af. Noag het God geglo, die ark gebou en sy familie gered. Hy het egter dronk geword toe hy uit die ark gekom het. Abraham was bekend as ‘God se vriend,’ en tog het hy gejok om homself te red en sy vrou se lewe in gevaar gestel. Toe God vir Sara sê dat sy op die ouderdom van negentig ‘n kind sou kry, het sy gelag. Josef was ‘n slaaf met ‘n kriminele rekord wat op die ou einde tweede in bevel van Egipte was. Dan is daar Ragab die prostituut – ons sou haar nie toegelaat het om in die kerkkoor te sing nie – en tog het God haar ‘n vrou met groot geloof genoem. Wat van Jakob, wat sy broer geflous het en sy skoonpa in besigheid bedrieg het om homself te verryk? Sou jy met hom besigheid doen? Koning Dawid se ontug het tot moord en nasionale skandaal gelei. Selfs Gideon en Samuel, twee geestelike reuse, het kinders grootgemaak wat geestelik die pad byster geraak het. Elkeen van hierdie mense het gestruikel, die bal laat val en deur tye van mislukking gegaan. Hulle enigste aanspraak op roem is dat hulle God geglo het en dat Hy hulle geloof geëer het – Hy sal dieselfde vir jou doen elke keer wat jy jou vertroue in Hom plaas.

Sielskos: 1 Kon 6-7; Matt 17:1-13; Ps 36; Spr 5:21-23

Waar lewe jy vandag?

2018-02-21
Efesiërs 3:20 NLV

Israel se reis van Egipte na die Beloofde Land illustreer drie verskillende plekke waar jy kan kies om te lewe: 1) Die plek van ‘nie genoeg nie.’ As slawe in Egipte, was hulle geforseer om op Farao vir alles staat te maak. Wanneer jy aanhou om op enigiemand behalwe God staat te maak, is jy nie waarlik vry nie. Totdat jy verstaan dat God jou versorger is, sal jy met ‘n ‘nie genoeg nie’ mentaliteit lewe. Elia het in die middel van ‘n hongersnood langs ‘n rivier gebly en kraaie het elke dag vir hom vleis gebring. God het egter hierdie tydelike bron laat opdroog om Elia terug na sy ware bron toe te dryf. Maak nie saak wat of wie Hy gebruik nie – God is jou bron. 2) Die plek van ‘net genoeg.’ Israel het in die woestyn net genoeg manna vir elke dag gehad. Dis nie pret om te sukkel om net te oorleef nie. Ons waardeer egter dit wat ons sukkel om te kry en ons leer om God meer te vertrou. Wanneer jy deur sulke seisoene lewe, bou dit in jou die volharding om aan te hou voortbeweeg tot beter dinge. 3) Die plek van ‘meer as genoeg.’ God se plan vir Israel was ‘…’n land met ‘n oorvloed van kos sonder enige gebrek…’ (Deuteronomium 8:9 NLV). Sy doel is om vir jou oorvloed in elke aspek van jou lewe te gee (sien 2 Korintiërs 9:8). Is dit sodat jy dit kan opgaar? Nee, dis sodat jy ander daarmee kan seën en jou roeping in die lewe kan vervul. Staan dus op hierdie Skrifgedeelte: ‘Hy moet geprys word – Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra.’

Sielskos: 1 Kon 1-2; Matt 16:1-12; Ps 33:1-12; Spr 5:7-14

Vertrou op God en neem aksie!

2018-02-07
1 Samuel 14:6 NLV

Gedurende die vroeë dae van Saul se koningskap, het die Filistyne die westelike grens van Israel beheer en is die grenslyne by die pas genaamd Mikmas getrek. Saul was tevrede daarmee om op die kantlyn te bly sit, maar Jonatan wou in die voorste linie wees. ‘…Kom ons gaan oorkant toe na die Filistyne se wagpos…’ (vers 1 NLV). Dit was net Jonatan en sy wapendraer, dus het hulle kanse nie goed gelyk nie. Wanneer jy egter aksie neem wat deur God se glorie gemotiveer word, beweeg dit die hart en hand van God. Dit benodig ‘n tree in geloof. Dit is dikwels die langste, moeilikste en skrikwekkendste tree wat jy ooit sal neem. Gewoonlik wanneer Israel se konings ‘n stryd betree het, was dit omdat hulle ‘n woord van die Here ontvang het wat hulle oorwinning verseker het. Jonatan het nie so ‘n woord ontvang nie. Hy het eenvoudig gesê, ‘…Dalk help die Here ons…’ Die meeste mense tree uit die teenoorgestelde sienswyse op: ‘Miskien help die Here ons nie.’ Hulle laat toe dat vrees, in plaas van geloof, hulle besluite dikteer. Hulle eindig dus saam met Saul op die kantlyn. Hoe het die stryd vir Jonatan en sy wapendraer uitgedraai? ‘So het die Here Israel daardie dag gered…’ (vers 23 NLV). Dit het net een moedige besluit geverg! Dis al wat dit ooit neem. Wanneer jy aksie neem, sal God namens jou optree. As jy nie aksie neem nie, sal jy altyd wonder ‘wat as?’ Ons grootste berou is wanneer ons nie optree nie – die dinge wat ons sou gehad het, kon gehad het, moes gedoen het maar nie gedoen het nie. Die woord vir jou vandag is dus: Vertrou op God en neem aksie!

Sielskos: Num 25-26; Matt 13:1-9; Ps 120; Spr 3:33-35