Die werk was klaar

2021-04-04
Johannes 20:7 NLV

In die Bybelse tyd het jy iemand met ‘n reputasie van uitnemendheid uitgesoek wanneer jy ‘n mooi meubelstuk gemaak wou hê – ‘n meesterskrynwerker of -afwerker. Hierdie skrynwerkers het egter ‘n interessante gebruik gehad. Wanneer die skrynwerker ‘n werk voltooi het, het hy sy voorskoot afgehaal, dit opgevou en dit op sy voltooide werk gesit as ‘n teken dat die werk voltooi is.

Met daardie prentjie in gedagte, lees die volgende: ‘Vroeg die Sondagoggend toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf aan en merk op dat die klip voor die graf weggerol is. Sy hardloop toe en kom by Simon Petrus en die lieflingdissipel… Petrus en die ander dissipel het uitgekom en na die graf toe gehardloop. Die twee het saam gehardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf aangekom. Toe hy vooroor buk, sien hy net die linnedoeke daar lê, maar hy het nie ingegaan nie. Simon Petrus het ná hom ook daar aangekom en by die graf ingegaan. Hy sien toe ook die linnedoeke daar lê, én die kopdoek wat om Jesus se kop was. Die kopdoek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant opgerol. Daarna het die ander dissipel wat eerste by die graf aangekom het, ook ingegaan, gesien, en geglo. Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie’ (verse 1-9 NLV).

Let op die woorde: ‘Die kopdoek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant opgerol’. Die meesterskrynwerker het die werk voltooi. Ons verlossing is voltooi. Jy hoef nie te werk om gered te word nie, jy moet slegs jou vertroue in Christus plaas en jou sondes word vergewe en jou plek in die hemel verseker.

Sielskos: 1 Kor 15; Matt 28:1-10

Hanteer vrees (6)

2021-03-20
Job 3:25 NLV

Fantaseer jy ooit oor oplossings vir probleme wat jy vrees moontlik oor jou pad sal kom? Ironies genoeg kan ongegronde vrese op so ‘n manier in ‘n ware vrees omskep word, omdat jy energie aan verkwistende denke in plaas van produktiewe aksie bestee.

Joe Tye, die skrywer van Never Fear, Never Quit, sê: ‘Wensdenkery is die slot wat vrees op die tronkdeur sit. Vrees laat jou toe om jouself elke nou en dan aan wensdenkery oor te gee. Jy dink dat daar iets, op ‘n manier, kan gebeur om jou probleme te laat weggaan. Teen die tyd wat jy wakker word, is dit egter te laat. Wat jy gevrees het, het gebeur en vrees het jou oorwin. Die enigste manier om uit die tronk van vrees te ontsnap, is aksie. Jy kan nie jou weg daaruit wens of wag nie. Jy kan net jou weg daaruit werk. Elke keer wat jy uit die tronk van vrees ontsnap, word jy sterker.’

Vrees het geen voordele of goeie gevolge nie. Dit druk jou óf in die verkeerde rigting deur senuagtige energie te produseer wat veroorsaak dat jy die slegste in nuwe situasies optree, óf dit tap jou energie soos jy die verlammende effek daarvan probeer beveg. Die sielkundige Randall B. Hamrock het opgemerk: ‘In die 20 jaar van my praktyk het ek met ten minste 10,000 jong mans en vrouens gepraat, getoets en professionele raad gegee. Een karaktereienskap wat amper almal van hulle gehad het, was die neiging om te min van hulself te dink.’

Moenie toelaat dat vrees jou potensiaal by jou steel nie. Moenie toelaat dat dit jou kleiner maak as wat jy regtig is nie. Vertrou God vir groot dinge en probeer dit dan in sy krag aanpak. As jy dit doen, sal jy sukses behaal. Dis gewaarborg.

Sielskos: Job 24-28; Matt 24:26-35; Ps 13; Spr 8:14-16

‘n Houdingsaanpassing (2)

2020-05-13
Daniël 2:21 NLV

Besef dat moeilike tye nie vir altyd aanhou nie. Die seisoen van teëspoed waarin jy jouself nou bevind, sal tot ‘n einde kom. Wanneer dit gebeur, sal jy daaruit leer sodat jy ‘n beter toekoms kan bou. Sommige van jou grootste seëninge spruit uit jou moeilikste omstandighede. Paulus skryf: ‘Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan’ (2 Korintiërs 4:17 NLV). Uit jou grootste toetse kom jou grootste getuienisse. Moenie groot besluite tydens ‘n storm neem nie. Gedagtes en gevoelens kan dikwels te midde van ‘n krisis op hol gaan; dis die tye wat jy versigtig moet wees om besluite te neem. Bly kalm, dissiplineer jouself om op dit wat jy kan doen te fokus en vertrou op God om dit te doen wat jy nie kan nie. Net soos ‘n fout aan die vlieënier se kant kan veroorsaak dat ‘n vliegtuig van koers af raak of ‘n noodlanding moet doen, kan ‘n slegte besluit jou daarvan weerhou om jou lewensdoelwit te bereik. Laat jou emosies bedaar voor jy enige besluite neem. Jy mag dalk nie altyd daardie opsie hê nie, maar probeer om nie belangrike besluite te neem voor die storm verby is nie. Net soos die wind vreeslik tydens ‘n storm waai, so kan jou gedagtes wild en woes word; en dis nie die tyd om noodsaaklike evaluerings te doen nie. Wat moet jy dus doen? Paulus antwoord: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God… Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:6-7 NLV).

Sielskos: Num 27-29; Mark 8:27-38; Ps 62; Spr 11:15

Vra jy God vir ‘n kind?

2020-02-23
1 Samuel 1:27 NLV

Hanna wou bitter graag ‘n moeder word. ‘…Sy het tot die Here gebid…terwyl sy vreeslik huil’ (vers 10 DB). Sy het ook ‘n belofte aan God gemaak dat indien Hy haar ‘n seun sou gee, sy hom ‘…vir sy lewe lank aan U, Here, teruggee…’ (vers 11 DB). Dit het so gebeur. Die Bybel sê: ‘Binne drie maande het Hanna ‘n baba verwag… (vers 20 DB). Rut het dieselfde ondervinding gehad: ‘…Boas [was] die pa van Obed by Rut…’ (Matteus 1:5 NLV). Rut was ‘n brandarm weduwee toe God haar aan Boas, die eienaar van die veld waarin sy gerwe opgetel het, voorgestel het. Sy was ‘n nie-Jood, hy was ‘n Jood en hulle is deur die wet verbied om te trou. God het egter die struikelblok wat in hulle pad gestaan het verwyder en uit hulle huwelik is ‘n klein seuntjie genaamd Obed gebore. Hy was ‘n stamvader van koning Dawid en uiteindelik ook van ons Here Jesus. God het gesê: ‘Ek is die Here, die God van al die mense. Is daar iets te moeilik vir My om te doen?’ (Jeremia 32:27 NLV). Vir ingeval jy nie seker van die antwoord op daardie vraag is nie, lees die volgende: ‘…U het die hemel en die aarde deur u groot krag en mag gemaak. Niks is vir U te moeilik om te doen nie!’ (Jeremia 32:17 NLV). As jy vandag vir God vir ‘n kind vra, staan op hierdie Skrifgedeeltes en glo Hom: ‘Wees bly in die Here, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee. Vertrou jou lewe toe aan die Here. Vertrou Hom, en Hy sal vir jou sorg… Wees stil in die Here, en wag geduldig op Hom…’ (Psalm 37:4-5, 7 NLV).

Sielskos: Titus 2:1-14; Gen 39:6-12; Spr 25:28

Hoe om die lewe se gevegte te wen (4)

2020-02-20
2 Kronieke 20:15 NLV

Vierdens, leer om in geloof te ontspan. Let op hoe God op Josafat se gebed gereageer het: ‘…die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n.’ Baie van ons maak onsself moeg deur te probeer om God se gevegte in ons eie krag te probeer wen. Wanneer ons nuutgebore is, is ons ywerig om die wêreld vir Jesus te wen en wil ons op eie houtjie sy koninkryk meebring. Dan, wanneer ons hard op eie stoom gewerk het, slaan die realiteit toe. Ons kruip teleurgesteld op ons hande en knieë terug, omdat ons dink dat ons God in die steek gelaat het. Die waarheid is egter dat ons nie God omhoog hou nie – Hy hou ons omhoog! Ons het Hom nie in ons hande nie, Hy het ons in sy hande! Hy sê vir ons om in geloof te ontspan en Hom toe te laat om sy werk deur ons te doen. Paulus skryf: ‘Noudat julle Christus Jesus as Here aangeneem het, moet julle die leefstyl van ‘n Christen volg’ (Kolossense 2:6 NLV). Met ander woorde, onthou hoe jy aanvanklik ‘n gelowige geword het – deur eenvoudige geloof in die voltooide werk van Christus – en hou dan aan om in eenvoudige geloof te lewe. Jy het nie ‘n Christen geword omdat jy na perfeksie gestrewe het en goeie werke gedoen het nie. Goeie werke het niks daarmee uit te waai nie! Verlossing is ‘n gratis geskenk. God het nie nodig dat ons dinge bestuur nie; Hy het alles onder beheer en wil hê dat ons ontspan en Hom toelaat om deur ons te lewe. Oorwinning in die lewe is ‘n gawe van God! ‘Ek is dankbaar teenoor God wat ons, omdat ons één is met Christus, altyd saamneem in sy triomftog…’ (2 Korintiërs 2:14 NLV).

Sielskos: Pred 1-4; Matt 15:29-39; Ps 33:1-12; Spr 5:7-14