‘n Houdingsaanpassing (2)

2020-05-13
Daniël 2:21 NLV

Besef dat moeilike tye nie vir altyd aanhou nie. Die seisoen van teëspoed waarin jy jouself nou bevind, sal tot ‘n einde kom. Wanneer dit gebeur, sal jy daaruit leer sodat jy ‘n beter toekoms kan bou. Sommige van jou grootste seëninge spruit uit jou moeilikste omstandighede. Paulus skryf: ‘Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan’ (2 Korintiërs 4:17 NLV). Uit jou grootste toetse kom jou grootste getuienisse. Moenie groot besluite tydens ‘n storm neem nie. Gedagtes en gevoelens kan dikwels te midde van ‘n krisis op hol gaan; dis die tye wat jy versigtig moet wees om besluite te neem. Bly kalm, dissiplineer jouself om op dit wat jy kan doen te fokus en vertrou op God om dit te doen wat jy nie kan nie. Net soos ‘n fout aan die vlieënier se kant kan veroorsaak dat ‘n vliegtuig van koers af raak of ‘n noodlanding moet doen, kan ‘n slegte besluit jou daarvan weerhou om jou lewensdoelwit te bereik. Laat jou emosies bedaar voor jy enige besluite neem. Jy mag dalk nie altyd daardie opsie hê nie, maar probeer om nie belangrike besluite te neem voor die storm verby is nie. Net soos die wind vreeslik tydens ‘n storm waai, so kan jou gedagtes wild en woes word; en dis nie die tyd om noodsaaklike evaluerings te doen nie. Wat moet jy dus doen? Paulus antwoord: ‘Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God… Omdat julle aan Christus behoort, sal die vrede van God julle harte en gedagtes soos ‘n veiligheidswag oppas’ (Filippense 4:6-7 NLV).

Sielskos: Num 27-29; Mark 8:27-38; Ps 62; Spr 11:15