Groei jou genade?

2018-04-23
2 Petrus 3:18 AFR83

Elke dag sal jy geleenthede kry om in genade toe te neem. Jy moet altyd oop en ontvanklik vir hulle wees. ‘n Ouma wat haar vyftigste huweliksherdenking gevier het, het die geheim van haar lang en gelukkige verhouding gedeel: “Op my troudag het ek besluit dat ek ‘n lys van tien van my man se foute sou maak, wat ek ter wille van ons huwelik sou oorsien. Ek het op die ou einde van die dag nooit die lys gemaak nie. Elke keer wat hy egter iets gedoen het waarvan ek nie gehou het nie, het ek vir myself gesê, ‘Gelukkig vir hom is dit een van die tien!'” Dis nou vir jou ‘n wyse dame! Fisiese intimiteit is iets wat ons bymekaar bring, maar om saam in genade te groei sal ons bymekaar hou. Wanneer iemand jou dus ontstel, in plaas van om met kwaai woorde of ‘n kwaai stilte te reageer, herinner jouself daaraan dat God jou nog ‘n geleentheid gee om in genade te groei. As jy nie te goed doen met sommige van die geleenthede wat Hy stuur nie, moenie bekommerd wees nie, Hy sal aanhou om nog geleenthede te stuur tot jy dit regkry! Wrewel is een van die duurste luukshede wat jy kan geniet. ‘n Diep-gesetelde wrok vreet aan jou gemoedsvrede soos ‘n dodelike kanker ‘n orgaan verwoes. Daar is inderdaad min dinge so hartseer soos ‘n persoon wat ‘n wrok jare lank vertroetel. Sonder vergifnis, word die lewe ‘n eindelose siklus van gebelgdheid en vergelding. Een van die geheime van ‘n lang en vrugdraende lewe is om almal en alles elke aand voor jy bed toe gaan te vergewe. Dis die sleutel tot persoonlike vrede. Raak dus ernstig daaroor om, soos die Bybel ons vermaan, in genade toe te neem.

Sielskos: Hand 12-13; Mark 4:10-20; Ps 103:13-22; Spr 10:30-32

Wees dankbaar vir God se genade

2018-04-21
Efesiërs 3:8 NLV

Eendag het die Fariseërs ‘n vrou gevang wat egbreuk gepleeg het. Die wet van Moses was duidelik; sy moes gestenig word. Die Fariseërs was reg om dit te doen. Hierdie vrou het seker gedink dat Jesus sou saamstem. Skielik het Jesus egter gebuk en in die sand begin skryf. Sommige geleerdes dink dat Hy miskien die Fariseërs se sondes neergeskryf het, kompleet met tye en plekke. Toe Hy opkyk, was die vrou se aanklaers weg. Hy het vir haar gesê, ‘…Ook Ek veroordeel jou nie. Gaan maar, en moet van nou af nie meer sonde doen nie’ (Johannes 8:11 NLV). Daardie dag het Jesus haar van ‘n plek van onmiskenbare skuld na ‘n plek van onvoorwaardelike kwytskelding verhoog. Sy het dit nie verdien nie; sy het nie eers geweet dat dit moontlik was nie. Dis jou verhaal ook, nie waar nie? Eendag het Abraham Lincoln toegekyk hoe die eienaar van ‘n plantasie vir ‘n slawemeisie bie. Lincoln het gedink dat die eienaar die meisie sou koop en haar mishandel, dus het Lincoln die prys betaal sodat sy kon vrygaan. ‘Beteken dit dat ek kan gaan waar ek wil?’ het sy gevra. Lincoln het geantwoord, ‘Ja, jy is vry!’ Met trane wat oor haar wange stroom het sy gesê, ‘Dan, Meneer, sal ek saam met jou gaan.’ Die woord ‘genade’ is so belangrik dat Paulus dit drie keer meer as enige ander skrywer noem. Met sy vroeër gewelddadige lewe in gedagte, skryf hy ‘Aan my, die heel onbelangrikste van al God se mense, is hierdie onverdiende goedheid gegee…’ Die woord ‘genade’ kom van die Griekse woord charis, wat ‘pure vreugde’ beteken. Alhoewel jy dit nie verdien nie, sien God jou redding as ‘pure vreugde.’

Sielskos: Hand 10-11; Mark 4:1-9; Ps 103:1-12; Spr 10:27-29

Strewe daarna om God te verheerlik (1)

2018-04-14
2 Tessalonisense 1:12 NLV

Bach het 256 kantates gekomponeer. Die bekendste hiervan is sekerlik Jesu, Joy of Man’s Desiring. Amper 4 eeue later is dit steeds een van die gewildste liedjies waarop bruide by die paadjie afstap. Die rede hiervoor is dat sy musiek jou siel aanraak, omdat hy dit uit sy siel geskryf het. Het jy egter geweet dat sy kantates oorspronklik gebede was voordat dit liedjies geword het? Voordat Bach begin het om ‘n liedjie te komponeer, het hy JJ – Jesu, Juya – aan die bokant van die bladmusiek geskryf. Dit beteken ‘Jesus, help my.’ Aan die onderkant van elke komposisie het hy die letters SDG geskryf, wat staan vir Soli Deo Gloria – ‘alleenlik tot die glorie van God.’ Sy lewe was ‘n unieke uitbeelding van ‘n enkele beweegrede – om God te verheerlik. Jou lewe moet ook so wees. Niemand kan God soos jy verheerlik nie, of dit vir jou doen nie, want jou lewe is ‘n oorspronklike komposisie. Soli Deo Gloria is om vir ‘n gehoor van een te lewe; dis om die regte ding vir die regte rede te doen. Dit is om vir die applous uit hande wat met spykers deurboor is, te lewe. Dis om te verklaar dat Jesus alles vir jou is. Net Jesus. Niks meer nie, niks minder nie, niks anders nie. Paulus stel dit so: ‘Met dit in gedagte bid ons altyd vir julle. Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het. Mag Hy elke goeie voorneme en geloofsdaad met krag tot volkome uitvoering bring. So sal die Naam van ons Here Jesus verheerlik word deur wat julle doen. En júlle sal deur Hom verheerlik word op grond van die genade van ons God en die Here Jesus Christus’ (verse 11-12 NLV).

Sielskos: Jer 51-52; Mark 2:23-28; Ps 50:16-23; Spr 10:11-13

Wees lief vir jou kerk (1)

2018-03-26
Efesiërs 5:25 NLV

Voor jy jou kerk kritiseer, onthou dat ‘…Christus liefde aan die kerk bewys het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het.’ Hy het nie opgegee op sy kerk nie, dus moet jy nie opgee nie! Hou op om so baie oor dit waarvan jy nie hou nie, te praat. As jou kerk perfek was, sou jy uit jou plek gewees het! Noag het nie op die Symphony gevaar nie, hy het op ‘n boot vol diere gevaar. Kan jy jou die geraas en verwarring indink op daardie boot soos dit deur ‘n geweldige storm, groot genoeg om die wêreld te vernietig, gevaar het? En wat van die reuk! Al daardie diere en net een uitlaatklep! Hier is egter die ding – almal in die ark is gered terwyl almal buite die ark verlore gegaan het. Daar is ‘n verhaal van ‘n aristokraat wat oor sy geslagsboom en bloubloed voorvaders gespog het. Geïrriteerd het een van sy luisteraars opgemerk, ‘Ek veronderstel jou voorvaders was saam met Noag aanboord die ark!’ ‘Nee,’ het hy geantwoord, ‘my mense het hulle eie boot gehad.’ Jy mag dalk glimlag, maar daar is net een boot wat veilig in die hemel se hawe gaan aankom en dit is die boot van verlossing. Stink dinge soms in die kerk? Sekerlik. Jesus het vir Petrus, die dissipel wat bestem was om ‘n leier in die kerk te word, hard bestraf: ‘…Gee pad agter My, jou satan! Jy maak dit vir My bitter moeilik. Jy dink soos mense dink – nie soos God nie’ (Matteus 16:23 NLV). Die groot faktor is egter dat wanneer jy foute maak, dieselfde genade wat Petrus herstel het, ook vir jou beskikbaar is. Die woord vir jou vandag is dus: Wees lief vir jou kerk!

Sielskos: Jer 1-3; Matt 27:1-10; Ps 55:1-11; Spr 8:17-18

Bewys genade, want jy sal dit self nodig kry!

2018-03-17
Galasiërs 2:21 NLV

Terwyl genade nie vir ons ‘n lisensie gee om te lewe net soos ons wil nie, veroorsaak ons ongekende skade wanneer ons ander veroordeel wanneer hulle nie volgens ons standaarde optree nie. Chuck Swindoll skryf: ‘Wettisisme versprei ‘n verlammende gif, verblind ons oë en wek trots in ons harte op. Liefde word deur ‘n verstandelike kontrolelys, waaraan ander mense verwag word om te voldoen, oorskadu. Voor jy tot die gevolgtrekking kom dat jy nie hieraan skuldig is nie, oorweeg bietjie jou reaksie die volgende keer wat jy ‘n gelowige ontmoet wat nie soos jy dink, optree of aantrek nie. Selfs wanneer jy dink dat jy gesofistikeerd genoeg is om jou ware gevoelens te vermom, kom dit tog in jou houding na vore.’ Jesus het gesê, ‘Hou op om ander te oordeel, en julle sal nie geoordeel word nie. Hou op om ander te kritiseer, en julle sal nie gekritiseer word nie. As julle ander vergewe, sal julle vergewe word’ (Lukas 6:37 NLV). ‘n Vooroordelende Christen tree op asof hulle lig helderder sal skyn as hulle iemand anders se lig doodblaas. Dit werk nie so nie. Paulus skryf, ‘…As dit moontlik was om deur God vrygespreek te word deur die wet te onderhou, het Christus mos verniet gesterf!’ Jy vra, ‘Maar wat as iemand die pad byster raak, of met opset sondig?’ Die Bybel sê, ‘…wanneer iemand iets doen wat verkeerd is, moet julle wat deur die Gees gelei word, daardie persoon nederig reghelp. Wees baie versigtig dat jy nie ook versoek word nie’ (Galasiërs 6:1 NLV). Wanneer jy dit op jouself neem om ander te veroordeel, weier jy hulle dieselfde genade wat jy dalk mag nodig kry voor die dag verby is.

Sielskos: 2 Kon 16:1-18:16; Matt 24:29-51; Ps 26; Spr 7:26-27