2018-03-12
Lukas 7:37 NLV
Die Bybel sê, “‘n Sekere vrou van losse sedes… het ‘n albaste fles met duur aromatiese olie gebring. Sy het agter Jesus gekniel, by sy voete, en gehuil. Haar trane het op sy voete geval… Toe het sy… aromatiese olie daaraan gesmeer” (verse 37-38 NLV). Hierdie olie was suiwer nardusolie, ‘n meerjarige krui wat in die Himalajas geoes word. ‘n Halwe liter daarvan! Die fles, wat van deurskynende edelstene gemaak was, was heel waarskynlik ‘n familie erfstuk. Dit mag dalk selfs haar bruidskat gewees het. Dit was eenvoudig haar kosbaarste besitting. Hoe ironies, maar tog toepaslik, dat die parfuum wat sy in haar beroep as prostituut gebruik het, die kenteken van haar belydenis van geloof sou word toe sy elke laaste druppel oor die voete van Jesus gegiet het. Die breek van daardie fles was haar breek met haar verlede. Sy sou nie meer die stank van sonde met die soet geur van parfuum probeer verdoesel nie. Geen geheime meer nie. Geen skande meer nie. Sy het uit die donker skaduwee van sonde in die lig van die wêreld uitgestap. Daar kom ‘n oomblik wat jy al jou kaarte op die tafel voor God moet sit. ‘n Oomblik waar jy al jou geheime, struikelblokke en sondes moet openbaar. ‘n Oomblik waar jy met jou volle gewig op die genade van God moet val. Hoekom tree ons op asof ons sonde ons diskwalifiseer om die genade van God te ontvang? Dit is die enigste rede wat ons daarvoor kwalifiseer! Enigiets anders is ‘n eiegeregtige poging om God se genade te probeer verdien. Jy kan nie God se genade net 99% vertrou nie. Dis alles of niks. Wanneer ons onsself probeer red, verbeur ons die redding wat alleenlik deur Jesus Christus kom, met genade deur geloof (sien Efesiërs 2:8-9)
Sielskos: 2 Kon 4:18-6:33; Matt 22:34-46; Ps 112; Spr 7:6-9
2017-12-01
Matteus 5:9 NLV
Die motiveringspreker Zig Ziglar vertel van ‘n klein outjie wat deur drie boelies gekonfronteer is, waarvan enigeen van hulle groot genoeg was om hom plat te slaan. Dit was ook duidelik wat hulle in gedagte gehad het. Die klein outjie was egter baie slim. Hy het teruggestaan, ‘n lyn in die stof getrek, nog ‘n paar treë teruggestaan, die grootste boelie reg in die oë gekyk en gesê, ‘Ek daag jou uit om oor hierdie lyn te tree!’ Die boelie het dit gedoen. Toe het die klein outjie geglimlag en gesê, ‘Wonderlik, nou is ons twee aan dieselfde kant!’ Wanneer jy jouself in die middel van konflik bevind, kan jy besluit om een van twee dinge te doen: om ‘n moeilikheidmaker of ‘n vredemaker te wees. Jy kan tot die stres bydra of ‘n oplossing probeer vind. Vredemakers se doel is om ‘n wen-wen situasie te vind. Barnabas, wie se naam ‘Seun van Vertroosting’ beteken, het vir die nuut-bekeerde Saulus van Tarsus in die bres getree. Die leiers van die kerk het deur hom bedreig gevoel, waarvoor jy hulle nie kwalik kan neem nie. Barnabas het egter nie aan Paulus se gewelddadige agtergrond gedink nie; hy het sy waarde vir God oorweeg. Hy het inderwaarheid gedink, ‘As ons hierdie man kan inspan en lei, kan hy die wedloop vir ons wen.’ Hy is reg bewys. Saulus die vervolger het Paulus die apostel geword, maar nie voordat Barnabas sy eie geloofwaardigheid op die spel geplaas het nie (sien Handelinge 9:26-30). Om vrede te maak beteken dat jy risiko’s moet neem. Dit beteken dat jy mense volgens hulle beste kwaliteite en oomblikke moet evalueer. Vredemakers kyk na die groter prentjie en word deur genade, nie deur beuselagtige opinies en tydelike omstandighede, gelei nie. Wees dus ‘n vredemaker.
Sielskos: Gen 25:19-27:46; Joh 12:37-50; Ps 65; Spr 31:25-27
2017-08-30
Johannes 15:9 DB
Niemand het en sal jou ooit so liefhê soos wat God jou liefhet nie. Die rede hoekom dit so moeilik is om hierdie konsep te verstaan, is omdat ons niks het om God se liefde mee te vergelyk nie. Niks kan God se liefde vir jou laat vermeerder nie en niks kan sy liefde vir jou laat verminder nie. Die ironie van die saak is dat ons ons lewens spandeer om sy liefde te probeer verdien, terwyl dit net deur genade ontvang kan word. Johannes sê, ‘Ons staan bekend as kinders van God. Ons ís dit natuurlik ook. Ons hemelse Vader self het ons sy kinders gemaak – dít is nou liefde as daar al ooit liefde was! Maar die wêreld ken ons nie. Hulle weet nie wie ons regtig is nie. Weet julle hoekom? Hulle ken God nie’ (1 Johannes 3:1 DB). Jy mag dalk grootgeword het met ouers wat hulle liefde weerhou het, of nie in staat was om dit uit te druk nie. God doen dit nie. Regdeur die Skrif hou Hy aan sê, ‘Ek is lief vir jou. Ek is lief vir jou. Ek is lief vir jou!’ C.S. Lewis het geskryf, ‘God het ons geskep om die objek van sy liefde te wees! Partykeer maak ons aksies ons onaantreklik, maar ons is nooit ongeliefd nie. Omdat God ons liefhet – het ons waarde. Niemand kan hierdie waarde wegvat nie. God se liefde wat by Golgota geopenbaar is, klou aan ons gebrekkige skepsels vas en vir redes wat ons nooit kan uitpluis nie, maak dit ons waardevol en kosbaar sonder maat. Dit is liefde bo rede. Dit is die liefde waarmee God ons liefhet.’
Sielskos: Jos 1-4; Mark 9:1-13; Ps 103:1-12; Spr 22:27-29