2018-04-19
Deuteronomium 31:6 NLV
Enige tyd wanneer jy iets vir die eerste keer probeer, of iets waarin jy voorheen misluk het, of iets wat jy dink te groot vir jou is, sal jy beide vrees en geloof ervaar. Hulle gaan hand aan hand. Een sal die ander een oorwin, maar hulle gaan nooit weg nie. Omdat Israel geen idee gehad het watter uitdagings vir hulle voorgelê het nie of hoe die lewe in die Beloofde Land sou wees nie, het God vir hulle gesê, ‘Wees sterk en hou moed!.. Die Here julle God sal met julle wees. Hy sal julle nie in die steek laat nie en julle nie verlaat nie.’ Dis vandag ook sy belofte aan jou! Dis die vrees vir mislukking wat ons die meeste van die tyd terughou. Tog besef jy wanneer jy terugkyk dat mislukking glad nie permanente skade aanrig nie; jy groei inteendeel as gevolg daarvan. Dr Joan Borysenko skryf: ‘Toe ek by Harvard toegelaat is, was ek seker dat dit as gevolg van ‘n rekenaarfout was. ‘n Prokureursvriend van my raak elke keer angsbevange net voor sy die slotargument voor ‘n jurie moet gee. Selfs wanneer jy ‘n kenner is, verdwyn vrees nie noodwendig nie. Dit is wanneer jy vrees as deel van die reis aanvaar, eerder as om daarvan af weg te hardloop, wat dit jou help om dit te oorwin.’ Om enige plek te kom, moet jy êrens begin, anders gaan jy nêrens nie. Die Amerikaanse essayis Hamilton Wright Mabie het gesê, ‘Die vraag wat elke mens moet beantwoord is nie wat hy sal doen as hy die inkomste, tyd, invloed en opvoedkundige voordele gehad het nie, maar wat hy sal doen met die dinge wat hy het.’ Konfronteer dus jou vrees, neem ‘n tree in geloof en vertrou God vir jou sukses.
Sielskos: Hand 6-7; Mark 3:20-27; Ps 75; Spr 10:22-23
2018-04-12
Matteus 25:32 NLV
Die Bybel sê: “Al die nasies sal voor Hom bymekaargebring word en Hy sal hulle van mekaar skei soos ‘n skaapwagter die skape van die bokke skei. Hy sal die skape aan sy regterkant opstel en die bokke aan sy linkerkant. Daarop sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom julle, want my Vader het julle geseën. Kom ontvang julle erfenis – die koninkryk wat my Vader reeds van voor die begin van die wêreld af vir julle gereed hou'” (verse 32-34 NLV). Vir diegene aan sy linkerhand, sê Hy egter: ‘…Gaan weg van My af, want God het julle vervloek!..’ (vers 41 NLV). Hoe bepaal Hy wie staan waar? Is een groep hoogs moreel terwyl die ander groep losbandig gelewe het? Is dit omdat een groep se doktrine korrek is terwyl die ander groep teologies gesproke die pad byster geraak het? Nee. Jesus sê dat die lot van almal teenwoordig op een aspek gebaseer word: om deernis aan diegene in nood te bewys. Jy sê, ‘Maar ons word alleenlik deur genade gered!’ Ja, maar soos Martin Luther uitgewys het, ‘Die geloof wat ons red is nooit alleen nie!’ Die Bybel sê dat geloof sonder dade dood is (sien Jakobus 2:26). Jesus sê dat ons volgens die volgende standaard geëvalueer en beloon sal word: ‘toe Ek niks gehad het om aan te trek nie, het julle vir My klere gegee; toe Ek siek was, het julle na My omgesien; toe Ek in die tronk was, het julle My opgesoek’ (Matteus 25:36 NLV). Dan verpersoonlik Hy dit met die volgende woorde: ‘…As julle iets hiervan vir een van my broers en susters gedoen het… het julle dit vir Mý gedoen’ (vers 40 NLV). Dit beteken dat jy jou hart moet oopmaak en op die lyding rondom jou moet reageer.
Sielskos: Jer 45-48; Mark 2:13-17; Ps 25:16-22; Spr 10:4-7
2018-03-12
Lukas 7:37 NLV
Die Bybel sê, “‘n Sekere vrou van losse sedes… het ‘n albaste fles met duur aromatiese olie gebring. Sy het agter Jesus gekniel, by sy voete, en gehuil. Haar trane het op sy voete geval… Toe het sy… aromatiese olie daaraan gesmeer” (verse 37-38 NLV). Hierdie olie was suiwer nardusolie, ‘n meerjarige krui wat in die Himalajas geoes word. ‘n Halwe liter daarvan! Die fles, wat van deurskynende edelstene gemaak was, was heel waarskynlik ‘n familie erfstuk. Dit mag dalk selfs haar bruidskat gewees het. Dit was eenvoudig haar kosbaarste besitting. Hoe ironies, maar tog toepaslik, dat die parfuum wat sy in haar beroep as prostituut gebruik het, die kenteken van haar belydenis van geloof sou word toe sy elke laaste druppel oor die voete van Jesus gegiet het. Die breek van daardie fles was haar breek met haar verlede. Sy sou nie meer die stank van sonde met die soet geur van parfuum probeer verdoesel nie. Geen geheime meer nie. Geen skande meer nie. Sy het uit die donker skaduwee van sonde in die lig van die wêreld uitgestap. Daar kom ‘n oomblik wat jy al jou kaarte op die tafel voor God moet sit. ‘n Oomblik waar jy al jou geheime, struikelblokke en sondes moet openbaar. ‘n Oomblik waar jy met jou volle gewig op die genade van God moet val. Hoekom tree ons op asof ons sonde ons diskwalifiseer om die genade van God te ontvang? Dit is die enigste rede wat ons daarvoor kwalifiseer! Enigiets anders is ‘n eiegeregtige poging om God se genade te probeer verdien. Jy kan nie God se genade net 99% vertrou nie. Dis alles of niks. Wanneer ons onsself probeer red, verbeur ons die redding wat alleenlik deur Jesus Christus kom, met genade deur geloof (sien Efesiërs 2:8-9)
Sielskos: 2 Kon 4:18-6:33; Matt 22:34-46; Ps 112; Spr 7:6-9
2018-02-10
Filippense 3:13 NLV
Om jou geloof te ontwikkel is soos om swemlesse te neem. 1) Vrees is soos water; as jy dit toelaat, sal dit jou ondertoe trek. 2) Jy kan net vir so lank water trap voor jy verdrink. 3) Wanneer jy ‘n sekere punt bereik het, is daar nie kans vir terugdraai nie. 4) Geloof is soos die asem in jou longe; dit sal jou dra en jou drywend hou as jy net ontspan. Het jy al ooit ‘n gesoute swemmer dopgehou? Hy neem stryk vir stryk letterlik dit wat voor hom is en druk dit na agter toe, wat hom na sy doel toe voortdryf. Soms raak ons wanhopig en sê, ‘Ek probeer net my kop bo die water hou.’ Dis goed so, solank jy net aanhou swem. Dis wanneer jy voel dat jy in ‘n hoek gedruk word met geen uitkomkans nie, wat jy aan jou geloof wat God binne in jou geplaas het, moet vashou en moet aanhou vorentoe beweeg. Jesus het gesê, ‘Maar van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe word die koninkryk van die hemele bestorm, en bestormers gryp dit met geweld’ (Matteus 11:12 AFR53). Die woord ‘geweld’ stel woestheid, passie en intensiteit voor. Jy moet meedoënloos wees en jou pad oopveg, met die vertroue dat God aan jou kant is – want Hy is (Psalm 56:10 NLV). Die waters waarin jy is bepaal nie jou lotsbestemming nie; dit kan jou of ondertoe trek of jou daar deur bring. Dit neem geloof om aan te hou en uit te hou. As jy opgee, kan God niks meer vir jou doen nie! So of jy nou vandag borsslag, rugslag of ‘n ander slag waarvan niemand al gehoor het nie, swem – hou aan en hou uit.
Sielskos: Num 32:25-33:56; Matt 13:36-46; Ps 134; Spr 4:5-13
2018-02-07
1 Samuel 14:6 NLV
Gedurende die vroeë dae van Saul se koningskap, het die Filistyne die westelike grens van Israel beheer en is die grenslyne by die pas genaamd Mikmas getrek. Saul was tevrede daarmee om op die kantlyn te bly sit, maar Jonatan wou in die voorste linie wees. ‘…Kom ons gaan oorkant toe na die Filistyne se wagpos…’ (vers 1 NLV). Dit was net Jonatan en sy wapendraer, dus het hulle kanse nie goed gelyk nie. Wanneer jy egter aksie neem wat deur God se glorie gemotiveer word, beweeg dit die hart en hand van God. Dit benodig ‘n tree in geloof. Dit is dikwels die langste, moeilikste en skrikwekkendste tree wat jy ooit sal neem. Gewoonlik wanneer Israel se konings ‘n stryd betree het, was dit omdat hulle ‘n woord van die Here ontvang het wat hulle oorwinning verseker het. Jonatan het nie so ‘n woord ontvang nie. Hy het eenvoudig gesê, ‘…Dalk help die Here ons…’ Die meeste mense tree uit die teenoorgestelde sienswyse op: ‘Miskien help die Here ons nie.’ Hulle laat toe dat vrees, in plaas van geloof, hulle besluite dikteer. Hulle eindig dus saam met Saul op die kantlyn. Hoe het die stryd vir Jonatan en sy wapendraer uitgedraai? ‘So het die Here Israel daardie dag gered…’ (vers 23 NLV). Dit het net een moedige besluit geverg! Dis al wat dit ooit neem. Wanneer jy aksie neem, sal God namens jou optree. As jy nie aksie neem nie, sal jy altyd wonder ‘wat as?’ Ons grootste berou is wanneer ons nie optree nie – die dinge wat ons sou gehad het, kon gehad het, moes gedoen het maar nie gedoen het nie. Die woord vir jou vandag is dus: Vertrou op God en neem aksie!
Sielskos: Num 25-26; Matt 13:1-9; Ps 120; Spr 3:33-35