Moenie wegkyk nie

2018-04-12
Matteus 25:32 NLV

Die Bybel sê: “Al die nasies sal voor Hom bymekaargebring word en Hy sal hulle van mekaar skei soos ‘n skaapwagter die skape van die bokke skei. Hy sal die skape aan sy regterkant opstel en die bokke aan sy linkerkant. Daarop sal die Koning vir dié aan sy regterkant sê: ‘Kom julle, want my Vader het julle geseën. Kom ontvang julle erfenis – die koninkryk wat my Vader reeds van voor die begin van die wêreld af vir julle gereed hou'” (verse 32-34 NLV). Vir diegene aan sy linkerhand, sê Hy egter: ‘…Gaan weg van My af, want God het julle vervloek!..’ (vers 41 NLV). Hoe bepaal Hy wie staan waar? Is een groep hoogs moreel terwyl die ander groep losbandig gelewe het? Is dit omdat een groep se doktrine korrek is terwyl die ander groep teologies gesproke die pad byster geraak het? Nee. Jesus sê dat die lot van almal teenwoordig op een aspek gebaseer word: om deernis aan diegene in nood te bewys. Jy sê, ‘Maar ons word alleenlik deur genade gered!’ Ja, maar soos Martin Luther uitgewys het, ‘Die geloof wat ons red is nooit alleen nie!’ Die Bybel sê dat geloof sonder dade dood is (sien Jakobus 2:26). Jesus sê dat ons volgens die volgende standaard geëvalueer en beloon sal word: ‘toe Ek niks gehad het om aan te trek nie, het julle vir My klere gegee; toe Ek siek was, het julle na My omgesien; toe Ek in die tronk was, het julle My opgesoek’ (Matteus 25:36 NLV). Dan verpersoonlik Hy dit met die volgende woorde: ‘…As julle iets hiervan vir een van my broers en susters gedoen het… het julle dit vir Mý gedoen’ (vers 40 NLV). Dit beteken dat jy jou hart moet oopmaak en op die lyding rondom jou moet reageer.

Sielskos: Jer 45-48; Mark 2:13-17; Ps 25:16-22; Spr 10:4-7