2017-12-03
Psalm 119:105 NLV
Wanneer jy bid, ‘Here, wat moet ek doen?’ kan Hy op verskeie maniere reageer. Kom ons kyk oor die volgende paar dae na ‘n paar daarvan. Hy sal jou deur sy Skrif antwoord. In plaas van om enigeen in die omtrek vir leiding te vra, gaan na God toe. Maak sy Woord jou eerste opsie, eerder as jou laaste uitweg. Die Psalmdigter het geskryf, ‘U woorde is ‘n lamp vir my voete en ‘n lig op my pad.’ Sonder ‘n gereelde daaglikse inname van God se Woord, sal jy in die duister bly oor wat die beste vir jou is en die rigting wat jy moet inslaan. ‘…Wat Ek sê, gebeur altyd. Dit sal nie verder uitgestel word nie…’ (Esegiël 12:25 NLV). As God dit in sy Woord sê, kan jy daarop staatmaak. Daar is bevele in die Skrif, maar God het ons hoofsaaklik beginsels daarin gegee waarvolgens om te lewe. Hierdie beginsels benodig wysheid en oordeelkundigheid. Die Psalmdigter het gesê, ‘Leer my goeie oordeel en kennis, want ek vertrou op u gebooie’ (Psalm 119:66 NLV). Dit beteken nie dat jy ‘n spesifieke vers vir elke besluit en aksie wat jy maak, moet hê nie. Die meeste kere wat jy God vir leiding vra, sal Hy vir jou ‘goeie oordeel en kennis’ gee, wat genoeg is om jou in die regte rigting te stuur. Sal jy soms vrees ervaar? Ja, maar dis dan wanneer jy jou geloof moet gebruik! Jou grootste oomblikke van helderheid rakende God se wil, gebeur dikwels wanneer jy terugkyk, nie vorentoe kyk nie. Dis wanneer jy terugkyk na hoe God jou gelei het, wat jy kan sê, ‘…Nie een woord van al die goeie beloftes wat Hy… gegee het, het onvervuld gebly nie’ (1 Konings 8:56 NLV).
Sielskos: 1 Kon 17:1-7; 1 Kon 18:41-46; Mark 4:35-41
2017-10-18
1 Johannes 5:14 NLV
Daar is ‘n verhaal van drie mans wat op ‘n eiland gestrand was; met min hoop om gered te word. Eendag het hulle op die eiland rondgeloop toe een van hulle ‘n ou, geroeste lamp optel. Toe hy dit vryf, het daar ‘n djin te voorskyn gekom wat aan elkeen van die mans een wens gegee het. Die eerste man het gesê, ‘Ek wens ek was terug in my kantoor in Boston.’ Poef! Hy was daar. Die tweede een het gesê, ‘Ek wens ek was tuis by my familie in Londen.’ Poef! Hy was daar. Die derde man het rondgekyk en gesê, ‘Dis so eensaam hier, ek wens my vriende was terug hier saam met my.’ Die probleem met wensdenkery is dat djinns en towerlampe nie bestaan nie. God bestaan egter! Omdat Hy in beheer van jou lewe is, is Hy magtiger as enige djin. Wanneer jou gebede in lyn met sy wil is, kan hulle ‘n realiteit word. ‘Leer die Bybel ons dit?’ vra jy. Ja; dit sê: ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, dan weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, sal toestaan’ (verse 14-15 NLV). Wanneer jou gebed in lyn met God se wil is, benodig jy nog een ding – geloof. Geloof doen twee dinge: a) Dit maak jou oë oop met die besef dat God se beloftes vir jou persoonlik bedoel is. b) Dit tree soos ‘n magneet op, wat die vervulling van sy belofte in jou lewe intrek. Waarvoor wens jy? As dit God se wil is – kan jy dit kry.
Sielskos: Eks 36-38; Joh 4:13-26; Ps 41; Spr 27:7-9
2017-09-30
Psalm 27:1 NLV
Wat se hoop of hulp het die ateïs of die agnostikus? Geen! Die skrywer en redakteur W.O. Saunders het in American Magazine gesê, ‘Ek wil jou graag aan die eensaamste en ongelukkigste individue op aarde voorstel… die man wat nie in God glo nie. Ek kan jou aan so ‘n man voorstel omdat ek self een is, en deur myself voor te stel, sal jy voorgestel word aan die nie-gelowige of skeptikus in jou woonbuurt, want hy is oral in die land. Jy sal verbaas wees om te weet dat die agnostikus jaloers is op jou verhouding met God, jou geloof in ‘n hemel na die dood en jou geseënde versekering dat jy eendag jou geliefdes in die hiernamaals sal ontmoet, waar daar geen hartseer of pyn is nie. Hy sal enigiets gee om in staat te wees om daardie geloof te hê en daardeur getroos te word, maar vir hom is daar net die graf. Na die graf weet hy slegs hoe die liggaam en siel eenvoudig net ontbind, maar in hierdie materialistiese sienswyse vind hy nie vreugde of vrede nie. Hy mag dalk ‘n brawe front voorhou, maar hy is nie gelukkig nie. Soms smag hy na iets om op te leun. Hy dra ook ‘n kruis. Vir hom, is die aarde ‘n klein, skommelende bootjie wat in die waters van die ewigheid ronddryf, sonder enige horison in sig. Sy hart pyn vir elke kosbare lewe op die bootjie, wat vir ewig dryf sonder dat hulle weet waarheen.’ Wanneer jy egter jou vertroue in Christus plaas, kan jy met oortuiging sê, ‘Die Here is my lig en my redding. Vir wie moet ek dan vrees?..’
Sielskos: Lev 16; Lev 23:26-32; Heb 9:1-14; Heb 13:11-16
2017-09-17
1 Korintiërs 9:25 NLV
Wanneer jy geestelik uitgedaag word, groei jou geloof in God. Wanneer jy in jou denkwyses uitgedaag word, word jou ou idees uitgedaag en met nuwe idees vervang. Wanneer jy in jou verhoudings uitgedaag word, verdwyn jou selfsug en groei die liefde. Word jy tans uitgedaag? God laat ons toe om uitdagende omstandighede te ervaar om ons voor te berei vir die wedloop wat Hy ons geroep het om in die lewe te hardloop – en elke nou en dan tref jou siel ‘n muur. Geen hoeveelheid krag of druk kan die probleem beweeg nie. Dit is oefening vir die siel! Dikwels is hierdie oomblikke nie die ware toets nie, dit is net opwarming wat ons vir uitdagings in die toekoms voorberei. Hulle is verwysingspunte wat ontwerp is om ons te keer om paniekerig te raak wanneer ons in die ware wedloop is. Onthou, God laat nooit ‘n persoon toe om vir Hom te hardloop, of saam met Hom te hardloop, wat nie in hulle denke, geloof en vermoë om te lewe en lief te hê uitgedaag is nie. Wanneer jy dus ‘n probleem teëkom wat nie wil beweeg nie, onthou om diep asem te haal en jouself daaraan te herinner dat God jou uitdaag. Dis die uitdaging van die siel wat dit vir ons moontlik maak om situasies en tye te hanteer waar dit voel of ons dit nie gaan maak nie. Vroeër of later sal ons almal moeilike tye en verhoudings teëkom, maar dit is net strekoefeninge van die lewe. As dit dus voel dat jy tot breekpunt gestrek word, moenie tou opgooi nie. Sien dit vir wat dit is – voorbereiding vir die wedloop in die lewe wat God vir jou gekies het.
Sielskos: 2 Kon 6:8-20; Ef 1:15-23
2017-09-08
Efesiërs 1:11 NLV
Die Bybel sê, ‘Die Here… sal die goeie nie weerhou van hulle wat doen wat reg is nie’ (Psalm 84:12 NLV). Soms bid ons vir ‘n sekere ding met die geloof dat dit goed is vir ons. God, wat ‘n plan vir jou lewe het, weet egter wat ‘goed’ is en wat nie sal wees nie. Billy Graham se vrou, Ruth, het gesê as God al haar gebede beantwoord het toe sy jonk was, sou sy met die verkeerde man getrou het – verskeie kere. Twee traandruppels het by die rivier van die lewe afgedryf. Een het vir die ander gevra, ‘Wie is jy?’ Die tweede het geantwoord, ‘Ek is die traandruppel van die meisie wat lief was vir ‘n man en hom verloor het. Wie is jy?’ Die eerste traandruppel het geantwoord, ‘Ek is die traandruppel van die meisie wat hom gekry het.’ Ons huil oor dinge wat ons nie het nie en besef nie dat ons dalk harder sou huil as God dit vir ons gegee het nie. Om in geloof te wandel beteken dat ons die plan wat God reeds vir ons uitgewerk het, vertrou. Paulus het gesê, ‘…Ek het regtig geleer om onder alle omstandighede reg te kom’ (Filippense 4:11 NLV). Paulus se tevredenheid het nie uit sy omstandighede gespruit nie, inteendeel, hy het amper sewe jaar van sy bediening in die tronk deurgebring. Nee, sy tevredenheid het gespruit uit die wete dat God ‘…alles laat uitwerk soos Hy dit beplan en wou gehad het.’ Beteken dit dat Paulus elke detail van God se plan verstaan het? Nee, maar wanneer hy nie die plan verstaan het nie, het hy die Beplanner daarvan vertrou! Dit is waar Paulus se vrede, vreugde en tevredenheid vandaan gekom het. Joune moet ook.
Sielskos: Kol 1-2; Mark 11:1-11; Ps 78:9-16; Spr 23:22-25