2018-07-11
1 Korintiërs 1:10 NLV
Daar is ‘n legende oor ‘n groep kwartels wat in ‘n woud gewoon het. Die voëls was gelukkig daar, behalwe vir hulle vyand, die kwartelvanger. Hy sou hulle roep naboots en wanneer hulle bymekaar kom, sou hy ‘n net oor hulle gooi en wegdra om by die mark te gaan verkoop. Eindelik het ‘n wyse ou kwartel gesê, ‘Broers en susters, ek het ‘n plan. Wanneer die kwartelvanger sy net oor ons gooi, moet ons almal ons koppe in ‘n gaatjie in die net druk en ons vlerke begin klap. Dan kan ons as een opstyg en daarmee wegvlieg.’ Die voëls het almal saamgestem en die volgende dag presies dit gedoen om suksesvol te ontsnap. Toe die kwartelvanger se vrou hom vra waar die kwartels is om na die mark toe te neem, het hy geantwoord, ‘Toe hulle almal saamstaan, was daar geen keer aan hulle nie!’ In ‘n brief aan die gemeente in Korinte het Paulus geskryf, ‘Lede van die huisgesin van Chloë het aan my vertel… dat daar allerlei struwelinge onder julle voorkom’ (vers 11 NLV). Paulus het ook gesê, ‘En nou… pleit ek by julle… om eendragtig saam te staan – één in julle oortuigings. Daar mag nie groepvorming onder julle wees nie. Julle moet van harte saamstem in julle denke en in julle visie.’ Sukses in enige onderneming verg die dood van individuele ego’s en selfbelang. Wanneer ‘n fout dus gemaak word, weier om blaam te verplaas. Wees vergewensgesind en moenie ‘n oortreding toelaat om in bitterheid te ontwikkel nie. Bied lof vir ander spanlede se sterkpunte en hulp in die areas waarin hulle swak is, aan. Wees pligsgetrou en betroubaar en bly op die groter doel gefokus. Wanneer ons leer om saam te werk, is daar geen keer aan ons nie!
Sielskos: Ef 1:1-4:16; Luk 6:17-26; Ps 137; Spr 17:22-23
2018-07-10
2 Korintiërs 5:17 NLV
Niks in die geskiedenis kan vergelyk word met dit wat Christelike sendelinge vermag het nie. Meer as eenhonderd jaar gelede, het ‘n skrywer van ‘n reis rondom die wêreld teruggekeer en ontdek dat sendings en sendelinge deur kritiek in die Londense koerante gebombardeer word. Hy het toe ‘n brief aan die koerante geskryf wat die sendinge verdedig het. Daarin het hy gesê dat die transformasie van die wilde barbare op die eilande in die Suid See iets was om te aanskou en om die sendings af te kraak ‘n gruwelike misdaad was: “‘n Reisiger wat per ongeluk op een van hierdie eilande gestrand word, moet hard bid dat die lesse van ‘n sendeling hom vooraf gegaan het.” Die skrywer van hierdie brief was niemand anders as Charles Darwin nie. Nadat hy van sy wêreldreis teruggekeer het, was hy getransformeer. Dink aan die Papoeane, een van die inboorlingstamme van Nieu-Guinee. Sendelinge van Holland het met hulle begin werk en in 1860 het die werk van die Nuwe Hollandse Sending vrugte afgewerp, toe ‘n man genaamd Nathaniel Pepper, een van die inboorlinge, homself tot Christus bekeer het. ‘n Paar jaar later, toe duisende inboorlinge bekeerlinge geword het, het die Papoeaanse skool eerste prys in ‘n akademiese kompetisies onder die twaalfhonderd koloniale skole in Nuwe Holland, verower. Voorwaar ‘n prestasie! Skeptici mag dalk ‘n paar inrigtings vir melaatses, hospitale en weeshuise gebou het, maar dit is verreweg die volgelinge van Jesus Christus wat die grootste impak op hierdie wêreld gemaak het.
Sielskos: 1 Sam 27-31; Luk 6:1-16; Ps 122; Spr 17:18-21
2018-07-09
Filemon 1:15-16 NLV
Wat het ‘n einde aan slawerny gebring? Die evangelie van Jesus Christus. Lees die brief wat Paulus aan Filemon geskryf het. ‘n Slaaf wat weggeloop het, is saam met Paulus in ‘n Romeinse tronk gegooi en daar het Paulus hom tot Christus bekeer. Toe die slaaf vrygelaat is, het Paulus hom na sy eienaar, Filemon, toe teruggestuur. Dit was die gebruik in daardie tyd om slawe wat ontsnap het, dood te maak wanneer hulle weer gevang word. Teen daardie tyd het Filemon egter ook ‘n bekeerde van die apostel Paulus geword, wat hom opdrag gegee het om die slaaf ‘nie langer as ‘n slaaf nie, nee, méér as ‘n slaaf, as ‘n broer vir wie ons lief is!..’ te ontvang. In hierdie broederskap is slawerny die doodskoot toegedien. Dink nou aan die dae van William Wilberforce, wat homself onder die prediking van John Wesley bekeer het. Wilberforce, ‘n klein, geboë mannetjie, het een van die magtigste lede van die parlement geword. Verteer deur die evangelie en die vryheid wat Christus aanbied, het Wilberforce al sy energie daarin gewerp om die slawehandel van Afrikane omver te werp. Sy sukses om dit dwarsdeur die Britse Ryk af te skaf het tot soortgelyke aksie in Amerika gelei. Dit was inderdaad proklamasies van preekstoele af wat gehelp het om slawerny vir eens en vir altyd te vernietig. Dit is dus deur die kerk wat slawerny afgeskaf is. Jesus het gekom ‘…om aan te kondig dat gevangenes vrygelaat sal word… dat onderdruktes bevry sal word van hulle verdrukkers’ (Lukas 4:18 NLV). Is jy ‘n lid van God se verloste kerk? Indien nie, kan jy vandag deel word daarvan!
Sielskos: 1 Sam 24-26; Luk 5:27-39; Ps 110; Spr 17:15-17
2018-07-08
Matteus 16:18 NLV
Die Christelike kerk is twee keer so groot soos sy naaste mededinger. Dit sal bitter moeilik wees om so ‘n groot kerk se invloed omver te gooi. Veronderstel dat daar vandag ‘n groep sendelinge in jou dorp opdaag en vir jou vertel dat ‘n landbewoner wat tereggestel is, uit die dood uit opgestaan het. Hy is ook niemand anders as die Skepper van die heelal nie. Sal jy dit glo? Die apostels in die heidense Romeinse Ryk het dit geglo. In die aangesig van verskriklike vervolging, het die Christendom aanhou floreer. Selfs die pogings van Julian die Afvallige om die Christendom omver te werp en die heidense Ryk weer te vestig, was nie suksesvol nie. Toe Julian se aanslag teen die Christene op sy ergste was, het een van die keiser se volgelinge ‘n Christen gevra, ‘Wat doen jou timmerman se seun nou?’ Die Christen het geantwoord, ‘Hy is besig om ‘n kis vir jou keiser te bou!’ Nie lank hierna nie is Julian noodlottig tydens ‘n geveg gewond. Hy het grond toe geval, ‘n handvol sand gemeng met sy bloed in die lug gegooi en verklaar, ‘U het oorwin, Galileër.’ Nee, die kerk is nie perfek nie; dis hoekom mense soos ons welkom is daar! Nietemin is daar baie geldige redes hoekom die kerk van Jesus Christus aanhou seëvier. Dis ‘n hospitaal vir die gewondes, dis ‘n familie vir die eensames en dis ‘n skool vir diegene wat in die beginsels van dissipelskap opgelei word. Uiteindelik is dit die enigste ding wat sal staande bly wanneer alles wat tydelik is, in rook opgaan (sien 2 Petrus 3:10-12). Wy dus jou lewe aan Jesus Christus en sluit by sy seëvierende kerk aan!
Sielskos: Matt 5:7; Matt 18:21-35; Ps 103:8-18; Klaag 3:22-24
2018-07-07
Genesis 50:20 NLV
Op sewentienjarige ouderdom het Josef se broers hom as slaaf verkoop. Op dertigjarige ouderdom, het farao hom as heerser oor Egipte aangestel. Gedurende daardie dertien jaar het Josef verskriklik gely. Nou het hy die mag van lewe en dood oor sy broers in sy hand gehou. Tog het hy nie net gekies om hulle te vergewe nie, maar ook om hulle in ‘n tyd van hongersnood van kos te voorsien. Soos hulle bewend voor hom gestaan het, het Josef gesê: “‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is. Hy het my gebring tot in hierdie hoë pos wat ek beklee sodat ek die lewens van baie mense kon red. Moenie bang wees nie. Wees verseker: Ek sal self vir julle en julle gesinne sorg.” So het hy vriendelik met hulle gepraat en hulle gerusgestel’ (verse 20-21 NLV). Let hierdie vier dinge op: 1) Net God verstaan mense se harte, dus is slegs Hy gekwalifiseerd om hulle te oordeel. 2) Soos jy meer volwasse word, sal jy in staat wees om die hand van God in sekere van die situasies wat jy deurgemaak het te sien; jy sal die ‘goeie’ eerder as die slegte in hulle sien. 3) Omdat jy geestelik gegroei het, sal jy erken dat ander ook in staat is om te groei en te verander. 4) As gevolg van die guns en seën wat God aan jou bewys het, sal jy nie net vriendelik met jou oortreder praat nie, maar ook vrygewig teenoor hulle wees. Jesus het gesê, ‘…julle moet julle vyande liefhê en bid vir dié wat julle vervolg’ (Matteus 5:44 NLV). Is jy gewillig om dit te doen? Is jy ten minste gewillig om te bid, ‘Here, maak my gewillig?’
Sielskos: 1 Sam 20:30-23:29; Luk 5:12-26; Ps 102:18-28; Spr 17:11-14
2018-07-06
Genesis 33:8 NLV
Hier is iets wat jy moet weet om vorentoe te kan beweeg. Die persoon wat jou seergemaak het, mag dalk nooit ‘n verskoning op die manier wat jy dit wil hê, aanbied nie. Na Jakob sy broer Esau uit sy geboortereg gekul het, het dinge tussen hulle so sleg geword dat Jakob by sy oom Laban in Haran gaan woon het. Later, toe albei broers ryk en suksesvol in hulle eie reg was, het Jakob probeer om met sy broer te versoen. Eers het Esau geweier om sy broer se geskenke te aanvaar, maar toe Jakob aangehou het, het ‘…Esau dit uiteindelik aanvaar…’ (vers 11 NLV). Let op, Jakob het nooit gesê, ‘Ek is jammer dat ek jou geboortereg gesteel het nie; vergewe my asseblief’ nie. Basies het hy gesê, ‘Ek sal graag wil vergoed vir my dade.’ Op hierdie punt het Esau ware volwassenheid bewys deur sy verhouding met sy broer hoër te ag as sy reg om weerwraak te neem. Daar is ‘n les hieruit te leer. God wil hê dat jy moet groot word en geestelike volwassenheid moet uitoefen. Jy kan nie beheer wat ander mense doen nie; jy kan net jou reaksie daarop beheer. As jy verder daarop aandring dat iemand jou op ‘n sekere manier verskoning moet vra, sal die verhouding dalk nooit herstel nie. Om aan ‘n wrok vas te hou is soos om aan ‘n brandende kool vas te hou; dit sal jou aanhou brand totdat jy dit laat gaan. Jy wil byvoorbeeld hê dat jou man vir sy gedrag moet om verskoning vra. As hy egter eerder vir jou ‘n geskenk koop of iets moois vir jou doen, reageer met grasie, eerder as om sy metodes en motiewe te oordeel. Sluit met ander woorde die rekening en beweeg vorentoe.
Sielskos: 1 Sam 18:1-20:29; Luk 5:1-11; Ps 102:12-17; Spr 17:7-10