2018-07-05
Johannes 17:4 NLV
Die mier sterf letterlik terwyl hy besig is om te werk. Verstaan egter mooi, die Bybel moedig nie ‘n leefstyl waar jy aan werk verslaaf is, jou gesondheid in gevaar stel en jou familie verwaarloos, aan nie. Te veel huwelike val uitmekaar wanneer paartjies hierdie filosofie aanhang, en te veel kinders neem hulle ouers kwalik omdat hulle nooit vir hulle tyd gehad het nie. Met dit in gedagte, het die moderne konsep van aftrede nie in die Bybel bestaan nie. Ja, jy mag dalk van ‘n beroep aftree, maar jy tree nooit van werk af nie. Solank as wat jy lewe, sal daar altyd werk wees wat God wil hê jy moet doen. Harvard Universiteit het ‘n studie oor sommige van sy alumni gedoen. Een groep van eenhonderd deelnemers het op die ouderdom van vyf-en-sestig afgetree, terwyl die ander groep tot die ouderdom van vyf-en-sewentig aanhou werk het. In die eerste groep is sewe uit agt deelnemers teen die ouderdom van vyf-en-sewentig dood – terwyl net een uit agt van die tweede groep wat aanhou werk het, oorlede is. Navorsers het dus tot die gevolgtrekking gekom dat vroeë aftrede langslewendheid kan beïnvloed. Dink bietjie aan Jesus se bediening wat drie-en-‘n-half jaar geduur het. Aan die einde daarvan, het Hy gesê, ‘Ek het… die werk… voltooi wat U vir My gegee het om te doen.’ Besef jy dat verlossing beskikbaar is omdat Jesus ‘n getroue werker was wat aangehou het totdat sy werk voltooi was? Weereens, rus, ontspanning en aftrede is waardige belonings na ‘n lewe van harde werk. Die waarheid is egter, so lank as wat jy lewe sal God vir jou iets hê om te doen! Jy sal nie net vreugde en vervulling in jou taak vind nie, maar ook die mense rondom jou daarmee seën.
Sielskos: 1 Sam 16-17; Luk 4:31-44; Ps 102:1-11; Spr 17:4-6
2018-07-04
Spreuke 10:4 NLV
‘n Mier kan tot vyftig keer sy eie gewig ‘n honderd meter ver dra. Dis die ekwivalent van ‘n man van 90 kilogram wat vyf ton vir 27 kilometer op sy rug dra! In ‘n enkele somer, kan ‘n kolonie miere dertien tot agtien kilogram grond uitgrawe om ‘n nes te maak en 2200 kilogram kos na hulle nes toe dra. Hulle kan tot vier reise per dag na ‘n bron van kos onderneem wat meer as 100 meter van die nes af weg is. Dis rofweg die ekwivalent van ‘n mens wat honderd kilometer, teen rofweg 32 kilometer per uur, afgewissel met ‘n spoed van 104 kilometer per uur, loop. Een ding van ‘n mier waarop jy kan staatmaak is dat hy altyd sy beste sal lewer en sy deel van die werk sal doen. Leer jou kinders dat hulle reputasie nooit bo hulle werksetiek en hoe ander mense hulle as werkers sien, sal uitstyg nie. Die sukses van die Walt Disney ryk is op die filosofie van die stigter daarvan gebaseer: ‘Wat jy ookal doen, doen dit so goed dat wanneer mense jou dit sien doen, hulle sal terugkom om jou dit te sien doen en ander mense sal saambring om hulle te wys hoe goed jy dit doen wat jy doen.’ Leer jou kinders om hard te werk, altyd die werk klaar te maak en altyd hulle beste te lewer. As hulle hierdie les goed leer, sal jy hulle nie baie oor sukses hoef te leer nie – dit sal hulle konstante metgesel wees.
Sielskos: 1 Sam 14-15; Luk 4:14-30; Ps 98; Spr 17:1-3
2018-07-03
Spreuke 14:23 NLV
Die mier sien werk nooit as vuil of benede sy waardigheid nie. Of hy nou grond moet skuif of broodkrummels moet ronddra, hy doen dit sonder om te kla. Hoe anders is dit nie as baie mense vandag nie! Iemand het een keer gespot, ‘As jy jou tieners uit warm water wil hou, sit net ‘n paar vuil borde daarin!’ Alle werk kan en behoort tot die eer van God gedoen te word (sien 1 Korintiërs 10:31). Die som van al hierdie dele word in hierdie eenvoudige Bybelse stelling gevind: ‘Inspanning bring voorspoed…’ Leer jou kinders die outydse manier om geld te bekom – deur daarvoor te werk! Elke werk of roeping, maak nie saak wat dit is nie, is ‘n roeping van God. Dr Martin Luther King het tereg verklaar, ‘Nie alle mans word geroep om gespesialiseerde of professionele werke te doen nie; selfs minder word na die hoogtes van meesters in die kuns of wetenskap geroep. Baie word geroep om in fabrieke, velde en strate te werk. Geen werk is egter onbelangrik nie.’ Jy as ouer berei jou kinders vir hulle beroepslewe voor, berei hulle dus goed voor. As jy dit nie doen nie, sal hulle ‘n lewe van smart hê en ‘n lewe van smart vir ander mense skep. Hulle sal dalk ook weer op jou drumpel opeindig! Base betaal nie werkers wat nie werk nie. Voor jy dus vir jou kinders sakgeld gee, gee hulle take om te doen, soos om hulle bed op te maak, hulle kamers skoon te maak, die asblik uit te neem, goeie punte op skool te behaal en hulle huiswerk betyds te doen. Beloning sonder verantwoordelikheid is verwenning. As jy jou kind liefhet, sal jy hom of haar nie verwen nie!
Sielskos: 1 Sam 11-13; Luk 4:1-13; Ps 95; Spr 16:31-33
2018-07-02
Spreuke 6:6 NLV
Die Bybel sê: ‘Jou luiaard, gaan leer by die mier wat wysheid is. Kyk wat hy doen. Leer iets by hom. Hy het nie ‘n leier, of ‘n opsigter, of iemand wat agter hom staan nie. Hy kry reeds in die somer sy kosvoorraad reg. In die oestyd werk hy klaar voor die winter kom’ (verse 6-8 NLV). Terwyl die koningin die middelpunt van aandag in die kolonie is, is sy nie die hoof-regeerder nie. Die werk en oorlewing van die kolonie word deur die ‘soldaatmiere’ verseker. Hierdie dienskneg-leiers is ouer miere wat elke nuwe aktiwiteit in die kolonie begin deur die werk self te doen. Die jonger miere boots dan hierdie dienskneg-leiers na en val by die werk in. Daar is geen opsigters, hoofde of offisiere onder die miere nie. Wanneer Salomo dus sê dat die miere ‘nie ‘n leier, of ‘n opsigter, of iemand wat agter hom staan nie’ het nie, is dit ‘n prentjie van die ywerige persoon wat hy in Spreuke 10:4 beskryf: ‘Mense wat lui is, word gou arm. Hulle wat fluks is, word ryk’ (NLV). Wanneer jy ‘n mier sien wat ‘n stuk brood verskeie kere groter as hy by ‘n steil opdraande uitdra, is dit ‘n studie in ywerigheid! Maak nie saak hoeveel keer hy die brood laat val nie, hy gaan terug om dit op te tel en begin weer klim totdat hy dit gebring het waar dit hoort. Wat dryf hom om dit te doen? Honger – God se motiverende krag vir werk. “‘n Werker se honger motiveer hom om te werk, sy behoefte aan kos dryf hom” (Spreuke 16:26 NLV). Die maag van ‘n honger man of vrou wat grom, is dikwels God se manier om ons die waarde van gewilligheid om te werk te leer.
Sielskos: 1 Sam 8-10; Luk 3:21-38; Ps 64; Spr 16:26-30
2018-07-01
Matteus 5:9 NLV
Wanneer jy ‘n vredeliefhebber is, beteken dit oor die algemeen dat jy na jou eie belange omsien. Wanneer jy egter ‘n vredemaker is, beteken dit dat jy jouself blootstel om ander mense te help. Om vrede te maak is nie maklik nie. Wanneer jy besluit om die middeweg te soek, sal jy vind dat ‘hy wat in die middel van die pad staan, van beide kante getref word!’ Kom ons wees eerlik; soms is dit makliker wanneer jy na versoening werk om met die vrees en vyandigheid saam te lewe, as met die dreigement van verandering. ‘Sover dit vir julle moontlik is, moet julle goeie verhoudings handhaaf met alle mense’ (Romeine 12:18 NLV). Dit beteken dat jy met mense wat anders as jy dink moet leer praat en omgaan. Dit beteken nie dat jy jou siening of boodskap moet verander nie, maar dit beteken dat jy soms jou benadering moet verander. Wanneer jy die rol van vredemaker aanneem, beteken dit dat jy gewillig moet wees om by ‘n opregte dialoog tussen twee mense betrokke te raak. Die risiko van verwerping is nie maklik vir enigeen nie. Dis hoekom die teenwoordigheid van vredemakers so noodsaaklik vir konflikoplossing is. Ware vredemaking begin in die hart, nie die kop nie. Die Bybel sê, ‘Die liefde sal nooit vergaan nie…’ (1 Korintiërs 13:8 NLV). Wanneer ander mense geliefd voel en as jy moeite doen om hulle te verstaan, sal hulle begin om hulle skanse te laat sak en met ander mense te konnekteer. Wanneer dit gebeur, kan dit nie net die kwessie oplos nie, maar ook harte en gedagtes gesond maak. Dit is hoekom Jesus gesê het, “Gelukkig is die vredemakers, want God sal vir hulle sê: ‘Julle is mý kinders.'”
Sielskos: Matt 5:6; Jes 55:1-7; Ps 63:1-5; Joh 4:1-34
2018-06-30
Johannes 18:37 NLV
Wanneer jy weet wat jou God-gegewe taak in die lewe is en dat God aan jou kant is, word jy feitlik onstuitbaar. Sal jy foute maak? Ja, maar God het jou lief genoeg om jou te korrigeer en jou terug op jou pad te lei. ‘Hoe ontdek ek my taak?’ vra jy. Hier is veertien insiggewende vrae om jouself af te vra: 1) Watter begeertes lewe al die meeste van my lewe binne-in my? 2) Wat motiveer my om hard te werk en produktief te wees? 3) Wat laat my voortgaan wanneer ek moeg is? 4) Wat laat my weier om tou op te gooi selfs wanneer ek weerstand kry? 5) Wat doen ek wat nie soos werk voel nie? 6) Wat doen ek wat ‘n positiewe reaksie en ondersteuning by mense ontlok? 7) Wat doen ek of wat gebeur in my lewe wanneer dit voorkom of deure outomaties en moeiteloos vir my oopgaan? 8) Wat dink wyse leiers en goddelike raadgewers oor my werk? 9) Wat laat my goed voel oor wie ek is? 10) Wat laat my kreatiwiteit vloei? 11) Wat is ek bereid om op te offer om dit te bereik? 12) Wat doen ek wat ek trots sal wees om voor God vir sy goedkeuring te bring? 13) Wat sal ek sonder betaling doen as ek dit kon bekostig? 14) Waarvoor sal ek gewillig wees om Satan teen te staan om dit te bereik? Oorweeg met gebed hierdie veertien vrae, en hulle sal lig op jou God-gegewe lewenstaak werp.
Sielskos: 1 Sam 4-7; Luk 3:11-20; Ps 59:9-17; Spr 16:23-26