Miere (1)
2018-07-02Spreuke 6:6 NLV
Die Bybel sê: ‘Jou luiaard, gaan leer by die mier wat wysheid is. Kyk wat hy doen. Leer iets by hom. Hy het nie ‘n leier, of ‘n opsigter, of iemand wat agter hom staan nie. Hy kry reeds in die somer sy kosvoorraad reg. In die oestyd werk hy klaar voor die winter kom’ (verse 6-8 NLV). Terwyl die koningin die middelpunt van aandag in die kolonie is, is sy nie die hoof-regeerder nie. Die werk en oorlewing van die kolonie word deur die ‘soldaatmiere’ verseker. Hierdie dienskneg-leiers is ouer miere wat elke nuwe aktiwiteit in die kolonie begin deur die werk self te doen. Die jonger miere boots dan hierdie dienskneg-leiers na en val by die werk in. Daar is geen opsigters, hoofde of offisiere onder die miere nie. Wanneer Salomo dus sê dat die miere ‘nie ‘n leier, of ‘n opsigter, of iemand wat agter hom staan nie’ het nie, is dit ‘n prentjie van die ywerige persoon wat hy in Spreuke 10:4 beskryf: ‘Mense wat lui is, word gou arm. Hulle wat fluks is, word ryk’ (NLV). Wanneer jy ‘n mier sien wat ‘n stuk brood verskeie kere groter as hy by ‘n steil opdraande uitdra, is dit ‘n studie in ywerigheid! Maak nie saak hoeveel keer hy die brood laat val nie, hy gaan terug om dit op te tel en begin weer klim totdat hy dit gebring het waar dit hoort. Wat dryf hom om dit te doen? Honger – God se motiverende krag vir werk. “‘n Werker se honger motiveer hom om te werk, sy behoefte aan kos dryf hom” (Spreuke 16:26 NLV). Die maag van ‘n honger man of vrou wat grom, is dikwels God se manier om ons die waarde van gewilligheid om te werk te leer.
Sielskos: 1 Sam 8-10; Luk 3:21-38; Ps 64; Spr 16:26-30