God gee vooruitgang aan almal

2018-06-29
Spreuke 14:34 NLV

Die bekende ateïs Madalyn Murray O’Hair het eenmaal gesê, ‘Niks goeds het al ooit uit Christenskap gekom nie. As die Christendom dan niks goed gedoen het of iets goeds geproduseer het nie, moet ons dit verwerp.’ Selfs Christus het gesê, ‘Julle sal hulle aan hulle optrede uitken, net soos ‘n mens ‘n boom aan sy vrugte uitken…’ (Matteus 7:16 NLV). Met elke woord wat Christus egter gepreek het, is lewens verander en is daar wonderbaarlike dinge vir die samelewing gedoen. Neem die wetenskap as voorbeeld. Soos een kundige uitgewys het, kon die wetenskap in geen ander kultuur sy oorsprong gehad het nie. Dit kon nie uit die Moslemse kultuur ontstaan het nie as gevolg van hulle fatalistiese geloof, wat enige konsep van wetenskaplike vooruitgang verhoed. Dit kon ook nie vanuit die Boeddhiste of die Hindoes ontstaan het nie, omdat hulle glo dat die fisiese wêreld nie bestaan nie, dat niks behalwe God bestaan nie en dat hierdie alles net verbeelding is. Net deur Christenskap kon die wetenskap tot stand gekom het! Dink ook aan organisasies en mense wat die krotbuurte binnegaan om die verlatenes te red. Christene gee hulself aan hierdie mense. Vandag, met die verwydering van die Skrif uit groot dele van ons kultuur, sien ons hoe verval en korrupsie aan die orde van die dag is. Wat is dus die antwoord? Jesus het gesê, ‘Julle is die sout wat die aarde ‘n beter plek moet maak…’ (Matteus 5:13 NLV). Kry dus jou soutpot uit en begin om die lewensveranderende waarheid van God se Woord te versprei! Jesus het ook gesê, ‘Julle is die lig wat die wêreld moet verlig…’ (vers 14 NLV). Daar is nie genoeg duisternis in die wêreld om die lig van een klein kersie uit te doof nie. Laat jou lig dus skyn.

Sielskos: 1 Sam 1-3; Luk 3:1-10; Ps 59:1-8; Spr 16:20-22

Wat is jou drywerstok?

2018-06-28
Rigters 3:31 NLV

Omdat die Israeliete ongehoorsaam aan God was, was hulle slawe vir die Filistyne wat met vrees en intimidasie oor hulle geregeer het. Samgar het egter geweier om geïntimideer te wees. Hy het besluit om die status quo omver te gooi en hy het dit met ‘n drywerstok gedoen – ‘n lang stok wat boere gebruik om diere mee aan te por. Hy het geweier dat dit wat hy nie kon doen nie, hom daarvan weerhou om te doen wat hy kon doen. God plus een is immers altyd die meerderheid. As God vir jou is, wie kan teen jou wees (sien Romeine 8:31). Samgar het dus sy drywerstok gegryp en op seshonderd Filistyne afgestorm. Die vyand het seker oor sy vreemde wapenkeuse gelag, totdat hy dit begin rondswaai het. Toe het die kyk in sy oë vrees in hulle harte ingeboesem. Moed beteken nie dat jy wag tot die situasie in jou guns draai nie, of tot die plan perfek is of tot mense se opinies verander nie. Moed wag vir net een ding: ‘n groen lig van God af. Dit gaan daaroor om die probleem aan te val met watter drywerstok God ook al vir jou gegee het. Dis ‘n aanval op die donker magte, deur te besluit om ‘sout en lig’ te wees waar God jou geplaas het. Dis meer as om net die probleme uit te wys, dis om jouself aan die oplossing te verbind. Dis meer as om ‘n hart vir Christus te hê, dis die besluit om aksie te neem en sy hande en voete te word. In plaas daarvan om op die kantlyn te sit omdat jy glo dat ander mense meer gekwalifiseerd is, gebruik dit wat God jou gegee het en vra Hom om dit te seën.

Sielskos: Hoog 5-8; Luk 2:41-52; Ps 21; Spr 16:16-19

Getrouheid, nie vernaamheid nie

2018-06-27
Kolossense 3:17 NLV

Wanneer jy God en ander mense dien, moet jy jou hart daarop sit om getrou te wees, eerder as om vernaam te wees. Die Bybel sê, ‘Dit is God wat oordeel. Hy wys vir party mense dat hulle nie belangrik is nie en Hy maak ander mense belangrik’ (Psalm 75:8 DB). Min dinge in die lewe is erger as om ‘n rol te vervul waarvoor jy nie toegerus is of voor geroepe is nie. Josh McDowell, wat al miljoene universiteitstudente wêreldwyd toegespreek het en verskeie boeke geskryf het, het sy lewensbediening aan Christus op ‘n nederiger manier begin. Sy eerste taak by die hoofkantoor van Campus Crusade for Christ was om die hoofingang se vloer skoon te maak. Josh se bekendstelling aan die bediening was soortgelyk aan die ou in die Ou Testament wat die tentpenne moes dra wanneer hulle die tabernakel van een plek na die volgende verskuif het. Nie eintlik ‘n hoë-profiel posisie nie! Sonder ‘n ordentlike perspektief oor ons motivering om te dien, is dit maklik om geaffronteerd te voel wanneer ons ‘n taak gegee word wat ons voel benede ons is. Hoe bly ons dus gemotiveerd om God te dien? Deur die belofte te onthou dat ons sal oes wat ons saai (sien Galasiërs 6:7). God het beloof dat Hy ons op die oordeelsdag vir ons getroue diens sal beloon. As Hy jou dus geroep het om Hom te dien deur ander mense te dien, hou jou hart op getrouheid gefokus – nie op trots of posisie nie. Lewe volgens hierdie Skrifgedeelte: ‘Verder, doen alles – of dit nou woorde of dade is – asof julle dit namens die Here Jesus doen. Só is julle besig om deur Hom dank aan God die Vader te bring’ (Kolossense 3:17 NLV).

Sielskos: Hoog 1-4; Luk 2:34-40; Ps 17; Spr 16:12-15

Vriendskap se beloning (2)

2018-06-26
Psalm 68:7 DB

‘n Vrou, pas geskei, het na ‘n dorp toe getrek waar sy niemand geken het nie. Toe sy eindelik haar moed bymekaar skraap om ‘n kerkdiens by te woon, het sy gebid, ‘Here, laat my inpas. Omring my met vriende.’ Sy het twee dames gevra of sy by hulle kon sit, en hulle het op die ou einde saam middagete gaan eet. Dit blyk toe dat al drie vrouens alleen woon en geïsoleerd voel. Hulle het toe ‘n Bybelstudie groep begin wat hulle G.A.L.S genoem het: God’s Amazing Love Sustains. Jare later gaan hierdie klein ‘familie’ nog sterk voort, deel hulle lief en leed, bid vir mekaar en kyk uit vir mekaar. Thomas Blackaby het opgemerk: ‘Een van die goeie dinge wat God voorsien is goddelike vriende. Dis een van sy maniere om vir ons aanmoediging, ondersteuning, raad en kameraadskap te gee. Paulus sou baie van sy beproewinge en vervolgings nie oorleef het nie, as dit nie vir vriende en kamerade was nie (sien 2 Korintiërs 7:6-7). Dis hartseer wanneer God se mense nie daaraan tyd spandeer om vriendskappe te ontwikkel nie en eerder op hulle eie in bediening voortgaan. Dis geen wonder dat hulle dikwels uitbrand of ontnugter of bitter terugkom, omdat hulle nie die aanmoediging en ondersteuning wat hulle bediening verëis het, ontvang het nie. Dank God vir diegene wat Hy gekies het om jou ondersteuners en aanmoedigers te wees. Vir wie is jy tans ‘n vriend? Wie het God jou op die hart gedruk om te versterk en die pad saam mee te loop? Vra Hom om jou te help om ‘n getroue vriend te wees, sodat julle julself kan verbly in wat Hy deur julle gekombineerde pogings vermag.’

Sielskos: 2 Kor 11:16-13:14; Luk 2:21-33; Ps 8; Spr 16:8-11

Vriendskap se beloning (1)

2018-06-25
Spreuke 18:24 DB

Die Bybel sê, ‘In tye van nood leer jy jou vriende ken. Sommige praat net, maar doen niks nie. Ander sal alles vir jou doen. Hulle is nader aan jou as ‘n broer.’ Gloria Gaither wys uit dat ware vriende besorg is oor wat jy besig is om te word. Hulle kyk verby die huidige en gee diep om oor jou as algehele persoon. Terwyl dit tyd en energie neem om hierdie tipe vriendskap te bou en te onderhou, is die voordele veel meer as die belegging daarin. Ware vriende: 1) Help jou op wanneer jy geval het. ‘Twee is beter as een… As een mens val, kan sy vriend hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie’ (Prediker 4:9-10 NLV). 2) Haal die druk van jou af. Maak nie saak hoe lief hulle vir jou is en wil help nie, soms is jou familie te naby aan die situasie om objektief te wees. Oor sulke gevalle, sê die Bybel, ‘Eerlike raad van ‘n vriend is so aangenaam soos parfuum…’ (Spreuke 27:9 NLV). 3) Laat jou lag. Wanneer ‘n goeie lagsessie presies is wat jy nodig het, sal vriende jou help om die humor in ‘n situasie te sien – gewoonlik omdat hulle al self daar was! Soos Hazel C. Lee sê, ‘Om vir onsself en saam met ander mense te lag, bring ‘n verrassende gevoel van samesyn mee.’ 4) Hou jou aanspreeklik. Het jy al agtergekom wanneer jy in teenstelling met God se Woord optree, dit maklik is om jouself te flous? Dis dan wanneer die teregwysing van ‘n vriend jou weer op die regte pad kan bring. Dank God dus vir goeie vriende wat jou lief genoeg het om eerlik met jou te wees, selfs wanneer dit seermaak.

Sielskos: 2 Kor 9:1-11:15; Luk 2:8-20; Ps 144:9-15; Spr 16:4-7

Jou persoonlike voorsiener

2018-06-24
Psalm 23:5 NLV

Toe die Psalmdigter gesê het, ‘Die Here is my herder…’ (vers 1 NLV), het hy bevestig dat hy ‘n baie persoonlike verhouding met God gehad het; een wat uniek was. God het vir elkeen van ons ‘n unieke persoonlikheid, gawes, doelwitte en roeping gegee. Hy wil met jou ‘n verhouding hê wat heeltemal anders is as die verhouding wat Hy met enigiemand anders het. Net soos jou vingerafdrukke uniek is, so is God se interaksie met jou uniek. Jy moet dus leer hoe om sy stem te hoor en te weet wanneer Hy spesifiek met jou praat. Die Psalmdigter gaan voort om te sê, ‘U berei vir my ‘n feesmaal voor…’ Dink so daaroor na. Wanneer jy by ‘n restaurant vir ‘n tafel wag en jou naam is op die waglys, gee die gasvrou soms vir jou ‘n toestel om vas te hou. Wanneer daar vir jou ‘n tafel oopgaan, sal hierdie toestel vibreer of ‘n liggie laat flikker. Intussen is jy seker dat hulle besig is om vir jou ‘n tafel voor te berei en as jy geduldig is, sal die toestel, wanneer die tafel gereed is, begin vibreer en jou laat weet. Kry jy die idee? As jy God se Woord lees en tyd met Hom in gebed spandeer, begin iets in jou gees vibreer en laat dit liggies flikker. Dis God se ‘toestel’ wat jou lei, rig en die omstandighede vir jou voorberei. Paulus skryf, ‘Omdat Christus Jesus dit verdien het, sal my God uit sy ontsaglike rykdom vir julle voorsien in elke behoefte wat julle het’ (Filippense 4:19 NLV). Hoeveel van jou persoonlike behoeftes sal God voorsien? Almal van hulle! Hou dus op om jouself so baie te bekommer en plaas jou vertroue in Hom!

Sielskos: Matt 5:5; Num 12:1-15; Ps 37:1-9; Fil 2:5-11