Vriendskap se beloning (2)

2018-06-26
Psalm 68:7 DB

‘n Vrou, pas geskei, het na ‘n dorp toe getrek waar sy niemand geken het nie. Toe sy eindelik haar moed bymekaar skraap om ‘n kerkdiens by te woon, het sy gebid, ‘Here, laat my inpas. Omring my met vriende.’ Sy het twee dames gevra of sy by hulle kon sit, en hulle het op die ou einde saam middagete gaan eet. Dit blyk toe dat al drie vrouens alleen woon en geïsoleerd voel. Hulle het toe ‘n Bybelstudie groep begin wat hulle G.A.L.S genoem het: God’s Amazing Love Sustains. Jare later gaan hierdie klein ‘familie’ nog sterk voort, deel hulle lief en leed, bid vir mekaar en kyk uit vir mekaar. Thomas Blackaby het opgemerk: ‘Een van die goeie dinge wat God voorsien is goddelike vriende. Dis een van sy maniere om vir ons aanmoediging, ondersteuning, raad en kameraadskap te gee. Paulus sou baie van sy beproewinge en vervolgings nie oorleef het nie, as dit nie vir vriende en kamerade was nie (sien 2 Korintiërs 7:6-7). Dis hartseer wanneer God se mense nie daaraan tyd spandeer om vriendskappe te ontwikkel nie en eerder op hulle eie in bediening voortgaan. Dis geen wonder dat hulle dikwels uitbrand of ontnugter of bitter terugkom, omdat hulle nie die aanmoediging en ondersteuning wat hulle bediening verëis het, ontvang het nie. Dank God vir diegene wat Hy gekies het om jou ondersteuners en aanmoedigers te wees. Vir wie is jy tans ‘n vriend? Wie het God jou op die hart gedruk om te versterk en die pad saam mee te loop? Vra Hom om jou te help om ‘n getroue vriend te wees, sodat julle julself kan verbly in wat Hy deur julle gekombineerde pogings vermag.’

Sielskos: 2 Kor 11:16-13:14; Luk 2:21-33; Ps 8; Spr 16:8-11