Vriendskap se beloning (1)
2018-06-25Spreuke 18:24 DB
Die Bybel sê, ‘In tye van nood leer jy jou vriende ken. Sommige praat net, maar doen niks nie. Ander sal alles vir jou doen. Hulle is nader aan jou as ‘n broer.’ Gloria Gaither wys uit dat ware vriende besorg is oor wat jy besig is om te word. Hulle kyk verby die huidige en gee diep om oor jou as algehele persoon. Terwyl dit tyd en energie neem om hierdie tipe vriendskap te bou en te onderhou, is die voordele veel meer as die belegging daarin. Ware vriende: 1) Help jou op wanneer jy geval het. ‘Twee is beter as een… As een mens val, kan sy vriend hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie’ (Prediker 4:9-10 NLV). 2) Haal die druk van jou af. Maak nie saak hoe lief hulle vir jou is en wil help nie, soms is jou familie te naby aan die situasie om objektief te wees. Oor sulke gevalle, sê die Bybel, ‘Eerlike raad van ‘n vriend is so aangenaam soos parfuum…’ (Spreuke 27:9 NLV). 3) Laat jou lag. Wanneer ‘n goeie lagsessie presies is wat jy nodig het, sal vriende jou help om die humor in ‘n situasie te sien – gewoonlik omdat hulle al self daar was! Soos Hazel C. Lee sê, ‘Om vir onsself en saam met ander mense te lag, bring ‘n verrassende gevoel van samesyn mee.’ 4) Hou jou aanspreeklik. Het jy al agtergekom wanneer jy in teenstelling met God se Woord optree, dit maklik is om jouself te flous? Dis dan wanneer die teregwysing van ‘n vriend jou weer op die regte pad kan bring. Dank God dus vir goeie vriende wat jou lief genoeg het om eerlik met jou te wees, selfs wanneer dit seermaak.
Sielskos: 2 Kor 9:1-11:15; Luk 2:8-20; Ps 144:9-15; Spr 16:4-7