Sluit by Christus se seëvierende kerk aan! (2)

2018-07-09
Filemon 1:15-16 NLV

Wat het ‘n einde aan slawerny gebring? Die evangelie van Jesus Christus. Lees die brief wat Paulus aan Filemon geskryf het. ‘n Slaaf wat weggeloop het, is saam met Paulus in ‘n Romeinse tronk gegooi en daar het Paulus hom tot Christus bekeer. Toe die slaaf vrygelaat is, het Paulus hom na sy eienaar, Filemon, toe teruggestuur. Dit was die gebruik in daardie tyd om slawe wat ontsnap het, dood te maak wanneer hulle weer gevang word. Teen daardie tyd het Filemon egter ook ‘n bekeerde van die apostel Paulus geword, wat hom opdrag gegee het om die slaaf ‘nie langer as ‘n slaaf nie, nee, méér as ‘n slaaf, as ‘n broer vir wie ons lief is!..’ te ontvang. In hierdie broederskap is slawerny die doodskoot toegedien. Dink nou aan die dae van William Wilberforce, wat homself onder die prediking van John Wesley bekeer het. Wilberforce, ‘n klein, geboë mannetjie, het een van die magtigste lede van die parlement geword. Verteer deur die evangelie en die vryheid wat Christus aanbied, het Wilberforce al sy energie daarin gewerp om die slawehandel van Afrikane omver te werp. Sy sukses om dit dwarsdeur die Britse Ryk af te skaf het tot soortgelyke aksie in Amerika gelei. Dit was inderdaad proklamasies van preekstoele af wat gehelp het om slawerny vir eens en vir altyd te vernietig. Dit is dus deur die kerk wat slawerny afgeskaf is. Jesus het gekom ‘…om aan te kondig dat gevangenes vrygelaat sal word… dat onderdruktes bevry sal word van hulle verdrukkers’ (Lukas 4:18 NLV). Is jy ‘n lid van God se verloste kerk? Indien nie, kan jy vandag deel word daarvan!

Sielskos: 1 Sam 24-26; Luk 5:27-39; Ps 110; Spr 17:15-17