‘n Gebed om God se wil te ken

2018-07-17
Psalm 139:16 NLV

Die Psalmdigter het geskryf: ‘U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was. Kosbaar is u gedagtes vir my, o God!..’ (verse 16-17 NLV). As jy wil weet wat God se wil vir jou lewe is, bid die volgende gebed: ‘Here, U het my geken voor ek gebore is, U het my gevorm en vir ‘n spesifieke doel geskep. Gee my asseblief ‘n duidelike visie van alles wat U in en deur my lewe wil doen. Ek het ‘n desperate behoefte daaraan om te verstaan wat die roeping waarvoor ek geskep is, is (sien Efesiërs 4:4), en ‘…hoe enorm groot die krag is wat God gebruik in ons wat glo…’ (Efesiërs 1:19) om my in staat te stel om u doel te vervul. Wys my die gawes wat U in my geplaas het en hoe ek hulle tot eer van U kan ontwikkel en gebruik (sien Romeine 12:6). Help my om met vrymoedigheid te bid (sien Efesiërs 3:20). Ek wil ontvanklik wees vir dit wat U vir my het en nie u seëninge verbeur nie. Help my om nie aan dinge en verhoudings vas te hou wat nie van U af kom nie. Ek wil u wil met my hele hart dien (sien Psalm 40:9). Help my om u stem te hoor en gee my die genade en moed om u leiding te volg wanneer ek bang is (sien Johannes 10:4). Mag die begeertes van u hart die begeertes van my hart word. Vergroot my kapasiteit om te glo dat U dit kan neem wat ek het en dit kan vermeerder bo enigiets wat ek aan kan dink. In Jesus se Naam bid ek dit, amen.’

Sielskos: 2 Sam 12:1-14:20; Luk 7:24-35; Ps 118:10-18; Spr 18:7-9

Jou skuilplek

2018-07-16
Psalm 32:7 NLV

Het jy al ooit daaroor gefantaseer om weg te hardloop van al die stres van vandag se gejaagde lewe? Daar moet tog ‘n plek op aarde wees waar die pas stadiger en die lewe maklik is. Hierdie droom het ‘n familie in 1940 gemotiveer om na ‘n eiland genaamd Gaudalcanal in die Koraalsee te verhuis. Twee jaar later het oorlog egter in die Stille Oseaan uitgebreek en was daar ‘n stryd op hulle voorstoep. Uit die aard van die saak het hulle die verkeerde plek gekies. Waar kan jy gaan om die geraas en gejaagdheid van die stadslewe te ontsnap? Wat van ‘n klein eiland in die Karibiese See genaamd Grand Cayman? Vakansiegangers by hierdie oord sê dat dit die naaste ding aan ‘n paradys op aarde is. Die inwoners betaal geen belasting nie. Die water rondom hulle is kalm en warm en daar is orgideë wat orals groei. Klink idillies, nie waar nie? Daar is egter ‘n vangplek. Mediese studies het bewys dat die twee hoofsiektes waaraan inwoners van Grand Cayman ly, hipertensie en angsneurose is. Lewe op ‘n tropiese eiland is nie altyd wat dit voorkom om te wees nie. Kan dit wees dat die stres en druk waarteen ons stry, eintlik van binne onsself kom? Ja. Hierdie stres en druk gaan ons pla, maak nie saak waar ons lewe nie, totdat ons leer om ons omstandighede soos dit is, te hanteer. Hier is hoe die Psalmdigter dit gedoen het: ‘U is vir my ‘n skuilplek. U beskerm my van teëspoed. U omring my met liedere van redding. Die Here sê: “Ek sal jou onderrig en die pad wys waarop jy moet gaan. Ek sal vir jou raad gee, my oog sal op jou wees'” (verse 7-8 NLV).

Sielskos: 2 Sam 7:18-11:27; Luk 7:11-23; Ps 118:1-9; Spr 18:4-6

Vermy die windstiltes in die huwelik

2018-07-15
Genesis 26:8 NLV

In die dae wat houtskepe van die wind afhanklik was om hulle voort te dryf, het matrose baie gehad om oor besorgd te wees: seerowers, storms en siektes. Hulle grootste vrees was egter dikwels die ‘windstilstreke’ – ‘n area naby aan die ewenaar wat deur kalm en min winde gekenmerk word. Dit kon die dood van die hele bemanning beteken het. Hulle kon vir dae of selfs weke rondgedobber het terwyl hulle vir ‘n wind gewag het om hulle weer op koers te kry. Ons praat van dinge wat ‘die wind uit ons seile neem,’ wanneer ons ons momentum verloor en van koers af gaan. Jou huwelik verloor nie sy momentum oornag nie, maar oor maande en jare van onsensitiwiteit en verwaarlosing. Dit hoef egter nie vir jou so te wees nie. Doug Fields skryf in sy boek, Creative Romance, die volgende: ‘Om jou eggenoot te romantiseer kan baie pret wees. Daar is natuurlik geen kitsoplossings vir ‘n huwelik wat stagnant is nie, maar jy kan die verskonings eenkant toe skuif en begin om jou geliefde weer die hof te maak.’ God het die kerk in Efese hiervan beskuldig: ‘Maar Ek het hierdie klag teen jou: dat jy jou eerste liefde versaak het’ (Openbaring 2:4 NLV). Toe het Hy vir hulle gesê hoe om dit reg te stel: ‘…kom tot inkeer, en doen weer wat jy aan die heel begin gedoen het…’ (vers 5 NLV). Isak was bang dat koning Abimelek hom sou doodmaak en sy vrou Rebekka vir homself sou vat, en het toe gejok en gesê dat sy sy suster is. Wat het hom weggegee? ‘Na ‘n tyd kyk Abimelek… eendag deur ‘n venster en sien hoe Isak vir Rebekka liefkoos.’ Romanse het sy lewe en sy huwelik gered. Dit kan dieselfde vir jou doen.

Sielskos: Matt 5:8; Ps 24:3-6; Ps 18:17-26; 1 Joh 3:1-3

Jou terugslag kan tot ‘n terugkeer lei

2018-07-14
1 Korintiërs 15:57 NLV

Wat soos ‘n terugslag lyk, is dikwels die grondslag vir ‘n terugkeer! Daar is geen groter illustrasie hiervan as Goeie Vrydag nie. Op die Saterdag tussen Goeie Vrydag en Opstanding Sondag, het dit gelyk of alles verlore was. Dis egter nie verby totdat God sê dis verby nie! Die grootste geestelike oorwinning is behaal op die hakke van wat na die grootste nederlaag gelyk het. Alles was verlore, maar nie vir lank nie. Drie dae na sy kruisiging, het Jesus uit sy grafkelder uitgeloop. As ‘n verloste kind van God, lê dieselfde krag vandag in jou. ‘Omdat die Gees van die God wat Jesus uit die dood opgewek het in julle woon, sal Hy wat die dooie Jesus opgewek het, ook julle dooie liggame weer lewendig maak deur dieselfde Gees wat in julle woon’ (Romeine 8:11 NLV). In God se koninkryk is mislukking nooit finaal nie. Nie as jy in die opstanding glo nie! Jy sal nie elke geestelike geveg wen nie, maar die oorlog is beslis gewen. Die oorwinning is tweeduisend jaar terug reeds behaal toe Jesus sy grafkelder se seël gebreek het. Dit was die doodslag vir die dood self. Paulus skryf, ‘Tog is ons ten spyte van al hierdie dinge besig om ‘n superoorwinning te behaal – oorwinnaars deur Christus wat sy liefde so duidelik aan ons bewys het’ (vers 37 NLV). Vandag is jy meer as ‘n oorwinnaar (in al hierdie dinge) as gevolg van dit wat Christus vir jou bereik het. Ja, jy sal terugslae beleef. Onthou egter die volgende: sonder die kruisiging kan daar nie ‘n opstanding wees nie. Wanneer jy dus ‘n terugslag beleef, moenie ‘n tree terug neem nie, want God berei jou vir jou terugkeer voor.

Sielskos: 2 Sam 3:22-7:17; Luk 7:1-10; Ps 109:16-31; Spr 18:1-3

Hoe om mense te kry om na jou te luister (2)

2018-07-13
Genesis 39:3 NLV

Die tweede bewys wat jy nodig het om mense te kry om na jou te luister, is sukses. Geloofwaardigheid kom nie net van kennis alleenlik nie; dit kom van resultate. Wanneer mense sukses wil behaal, soek hulle raad by diegene wat al iets bereik het. Wanneer jy suksesvol is, sal daar altyd diegene wees wat na jou wil luister. As jy sukses bereik het in ‘n veld waarin hulle ook wil presteer, neem jou geloofwaardigheid baie toe. Wat verg dit dus om ‘n sukses te wees? Baie verskillende dinge. Hier is ‘n paar: 1) Gewoontes. Almal wil suksesvol wees, maar min mense is bereid om die prys daarvoor te betaal. Jy bepaal nie jou toekoms nie; jy bepaal jou gewoontes en jou gewoontes bepaal jou toekoms. Die geheim lê in jou daaglikse roetine. Om sukses te bereik, moet jy ‘n gewoonte daarvan maak om dit te doen wat ander onsuksesvolle mense nie doen nie. 2) Geleenthede. ‘n Suksesvolle persoon maak hooi van die gras wat onder ‘n ander persoon se voete groei! Hulle beperk hulle take nie tot die ure wat die son skyn nie. Hulle verstaan dat sukses aspirasie, inspirasie en perspirasie verg. 3) Volharding. Sukses beteken dat jy elke keer opstaan wanneer jy val. Die wetenskaplike en uitvinder, Louis Pasteur, het gesê, ‘Laat my toe om jou die geheim te vertel wat my gehelp het om my doelwit te behaal. My sterkpunte lê alleenlik in my deursettingsvermoë.’ 4) God. Abraham Lincoln het gesê, ‘I believe the will of God prevails; without Him all human reliance is vain; without the assistance of that divine being I cannot succeed; with that assistance I cannot fail.’ God het vir Josef sukses gegee in alles wat hy gedoen het; en Hy wil dieselfde vir jou doen!

Sielskos: 2 Sam 1:1-3:21; Luk 6:37-49; Ps 109:1-15; Spr 17:27-28

Hoe om mense te kry om na jou te luister (1)

2018-07-12
Markus 12:37 NLV

Die Bybel sê rakende Jesus: ‘…Die groot skare het dit geniet om na Hom te luister.’ Hoekom? Omdat sy woorde deur sy karakter, sy optrede en sy besorgdheid oor ander mense onderstreep is. In kort, Jesus het die reg verdien om te kan praat. Het jy? Mense luister na jou wanneer jy insig het. Wanneer dit wat jy sê iemand waarlik help, vorm julle ‘n konneksie. Benjamin Franklin, een van die mees bewonderenswaardige figure in die Amerikaanse geskiedenis, het ‘n merkwaardige loopbaan gehad. Hy het vir net twee jaar skool bygewoon en tog was hy hoogs gerespekteerd as gevolg van sy kennis en skerp insig. As ‘n vurige leser en ‘n nuuskierige man, het hy ‘n kundige in ‘n opmerklike aantal areas geword: drukwerk en publisering, politiek, burgerlike aktivisme, die wetenskappe en diplomasie. Hy was ‘n innoverende uitvinder wat die ondersteuning van Frankryk tydens die Revolusionêre Oorlog verseker het, die eerste publieke biblioteek in Amerika gestig het, as die eerste president van die Amerikaanse Filiosofiese Gemeenskap gedien het en gehelp het om die Verklaring van Onafhanklikheid op te stel. Die biograaf Walter Isaacson het Franklin die talentvolste Amerikaner van sy tyd en die invloedrykste in die uitvinding van die tipe samelewing wat Amerika sou word, genoem. Mense het ‘n verbinding met Franklin gevoel wanneer hy sy wysheid gedeel het. Hier is hoe dit op jou van toepassing is. Wanneer jy lief is vir mense, hard werk, studeer, groei en jou kundigheid in ‘n gegewe area deel, sal mense leer om jou te respekteer en vir jou te luister. Wanneer dit by luister kom, kry jy nie wat jy vereis nie, jy kry wat jy verdien.

Sielskos: Ef 4:17-6:24; Luk 6:27-36; Ps 79; Spr 17:24-26