2018-07-23
1 Konings 19:21 NLV
Elisa se bediening begin met die volgende Skrifgedeelte: ‘Elisa het toe teruggegaan en twee osse geslag. Hy het die jukke opgekap vir brandhout en die vleis gebraai. Hy het die vleis gegee aan die ander wat geploeg het… Daarna het hy saam met Elia gegaan en sy volgeling geword.’ Hy kon nie na sy ou manier van lewe terugkeer nie, omdat hy die gereedskap daarvoor verbrand het. Dit was die einde van Elisa die boer en die begin van Elisa die profeet. Dit maak nie saak of jy probeer gewig verloor, verder wil leer, ‘n boek wil skryf, ‘n besigheid of bediening wil begin of uit die skuld wil kom nie, die eerste stap is altyd die langste en die moeilikste. Jy kan nie net ‘n tree in jou toekoms inneem nie; jy moet ook die moontlikheid om terug in die verlede in te beweeg, elimineer. Dis hoe jy jou doelwitte bereik. Dis hoe jy verslawings oorkom. Dis hoe jy verhoudings versoen. Dit was nie nodig vir Elisa om sy ploeggereedskap te verbrand om Elia te volg nie, maar dit het ‘n stelling gemaak. Meer spesifiek was dit ‘n stelling van geloof. Daar was nie omdraaikans nie. Nege uit die tien keer misluk mense wanneer hulle na Plan B oorgaan omdat Plan A te riskant, te duur of te moeilik is. Dis hoekom die meeste mense hulle Plan B uitlewe. Hulle het nie hulle brûe na die verlede afgebrand nie. Plan A mense het nie ‘n Plan B nie. Dis Plan A of niks. Hulle sal eerder verongeluk terwyl hulle hulle Goddelike drome nastreef, as om sukses met iets anders te behaal. Die woord vir jou vandag is: Brand die brûe na jou verlede af en beweeg vorentoe.
Sielskos: 2 Pet 1-3; Luk 8:40-56; Ps 146; Spr 18:23-24
2018-07-22
Efesiërs 5:33 NLV
‘n Vrou het een Maandagoggend skielik opgespring en ‘n werksvergadering verlaat. Bekommerd, het haar vriendin haar buitentoe gevolg om te hoor hoekom sy so skielik opgespring het. Sy het die vrou op haar selfoon buite die raadsaal aangetref. ‘Is alles reg?’ het sy dringend gevra toe die vrou die telefoon neersit. ‘O, ja,’ het die vrou skaam geantwoord. ‘Ek wou julle nie laat skrik nie, maar ek het skielik onthou dat die asblik op Maandae vir die vullisverwyderaars uitgesit moet word.’ ‘Maar is jou man dan nie by die huis om daarvoor te sorg nie?’ het die vriendin fronsend gevra. ‘Ja,’ het die vrou geantwoord, ‘maar dit verg twee van ons om die vullis uit te vat. Ek kan dit nie optel nie, en hy kan dit nie onthou nie!’ Die geheim van ‘n suksesvolle huwelik lê daarin om te leer hoe om saam te lewe en te werk. Hier is tien voorstelle om jou te help om hierdie doel te bereik: 1) Besluit om daagliks saam te bid. 2) Sê elke dag vir mekaar iets moois. 3) Moenie vergeet om lepel te lê nie. 4) Dink aan julle as ‘n span – nie net as ‘n paartjie nie. 5) Respekteer julle verskille. 6) Eet ten minste een maaltyd ‘n dag saam. 7) Gee julle argumente aan God oor. 8) Ontwikkel ‘n sterk sin vir humor. 9). Identifiseer julle ‘spesiale plek’ en ‘spesiale liedjie.’ 10) Wees nostalgies saam. Ironies genoeg, is die nommer een rede vir skeisake vandag ‘uiteenlopenheid van karakter.’ Wel, raai wat? Julle is veronderstel om verskillend te wees! Wanneer twee mense met verskillende gawes besluit om vir mekaar lief te wees en na mekaar te luister, word hulle verskille ‘n bron van krag, eerder as ‘n bron van swakheid. Die huwelik verg twee!
Sielskos: Matt 5:9; Rom 12:17-21; Jak 3:17-18; Matt 26:51-52
2018-07-21
2 Timoteus 1:10 NLV
Dis geen verrassing dat God ‘n hart het vir ouers wat seer het nie. God is immers self ‘n Vader. Mishandel iemand jou kind? Hulle het sy kind gespot en geboelie. Maak iemand misbruik van jou kind? Jesus is deur vals getuienis veroordeel en deur ‘n gierige volgeling verraai. Word jy geforseer om toe te kyk hoe jou kind ly? God het sy Seun op die kruis gesien. Vind jy dat jy jou kind van al die seer in die wêreld wil spaar? God het ook so gevoel, maar, ‘As God werklikwaar nie sy eie Seun gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons aan die dood oorgegee het, is daar tog geen manier waarop Hy nie ook alle ander goeie dinge aan ons sal skenk nie’ (Romeine 8:32 NLV). Daar is niks wat God nie in antwoord op gebed kan doen nie! Miskien het jy gebid, maar jou kind het gesterf. Daar is geen pyn wat met die verlies van ‘n kind vergelyk kan word nie. Miskien het jy gesê, ‘Jesus het Jaïrus se kind uit die dood gered, hoekom het Hy myne nie gered nie? God verstaan jou vraag. Hy het ook sy kind begrawe. Hy haat ook die dood. Dis hoekom Hy ‘…die mag van die dood verbreek het en aan ons… die weg gewys het na die onverganklike lewe.’ Vir diegene wat op Christus vertrou, is die dood niks meer as ‘n oorgang na die hemel toe nie. Jou kind mag dalk nie vandag in jou arms wees nie, maar is veilig in God se arms. Nadat hy sy seun by geboorte verloor het, het Dawid met hoop vorentoe gekyk en gesê, ‘…Eendag sal ek na hom toe gaan…’ (2 Samuel 12:23 NLV). Jy sal ook.
Sielskos: 2 Sam 22:31-24:25; Luk 8:26-39; Ps 140; Spr 18:21-22
2018-07-20
Lukas 8:55-56 NLV
Jy kan jou heel beste vir jou kinders doen en steeds staan waar Jaïrus gestaan het. Jy kan vir hulle lief wees, hulle beskerm en vir hulle bid, en steeds jouself om middernag in ongevalle of by die rehabiliteitskliniek tydens besoekure bevind, waar jy tussen twee stemme kies: wanhoop en geloof. Wie sou Jaïrus kwalik geneem het as hy opgegee het? Toe hy die eerste keer na Jesus toe gegaan het, was sy dogter kritiek, maar steeds lewendig. Terwyl hy egter met Jesus gepraat het, het die boodskap gekom: ‘…Jou dogter is dood…’ (vers 49 NLV). In daardie oomblik het Jesus na Jaïrus gekyk en gesê, ‘Moenie jou ontstel nie. Vertrou My net en dit sal goed gaan met haar’ (vers 50 NLV). Of dit nou is om die kind se siekte in sy spore te stuit of haar uit die dood uit op te wek, Jesus was die antwoord op Jaïrus se probleem. Hy is ook die antwoord op jou familie se probleem. Let twee dinge op wat Jesus gedoen het: 1) Hy het die mense weggestuur wat getreur het, maar geen geloof gehad het nie (sien Lukas 8:52). Wees versigtig wie jy naby aan jou toelaat, veral in tye van krisis. 2) Hy het die ouers in geloof verenig. ‘Toe hulle by die huis aankom, wou Jesus niemand saam met Hom laat ingaan nie, behalwe Petrus, Jakobus en Johannes, en die dogtertjie se pa en ma (vers 51 NLV). ‘Jesus vat haar toe aan die hand en sê hardop: ‘Staan op, my kind!’ En op daardie oomblik het die lewe in haar teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan!.. Haar ouers was oorstelp…’ (verse 54-56 NLV). Wanneer jy bid en jou geloof in Christus plaas, kan Hy dinge in jou familie doen wat jou sal verstom!
Sielskos: 2 Sam 20:1-22:30; Luk 8:16-25; Ps 133; Spr 18:17-20
2018-07-19
Klaagliedere 2:19 NLV
Die verhaal van Jaïrus is die storie van ‘n pleitende ouer en ‘n alomteenwoordige Redder. Dus, ‘Staan op… om jou hart soos water voor die Here uit te stort. Steek jou hande uit na Hom om te pleit vir jou kinders…’ Ouer, jy kan dit doen. Jy kan ‘n lojale voorstaander en ‘n getroue bemiddelaar wees. Jy kan jou vrese oor ouerskap na Jesus toe bring. As jy dit nie doen nie, mag jy dalk selfs jou vrese op jou kinders uithaal. Vrees verander sommige ouers in tronkbewaarders wat elke minuut monitor en die agtergrond van elke vriend ondersoek. Hulle onderdruk groei en kommunikeer wantroue. ‘n Familie met geen spasie vir asemskep nie, versmoor ‘n kind. Aan die ander kant, kan vrees ook permissiewe ouers kweek. Uit vrees dat hulle kind te ingehok sal voel, verlaag hulle hulle grense. Hoog op drukkies en laag op dissipline, besef hulle nie dat toepaslike dissipline ‘n uitdrukking van liefde is nie. Permissiewe ouers of paranoïese ouers – hoe kan jy hierdie uiterstes vermy? Deur te bid! Jesus het min oor ouerskap gesê, maar sy aksies spreek volumes oor gebed. Elke keer wat ‘n ouer bid, reageer Christus. Die groot boodskap van hierdie dagstukkie is: Wanneer jou kind ‘n krisis beleef, draai na Jesus toe. Moet egter nie vir die krisis wag nie. Stuur hulle elke dag met ‘n seëngebed skool toe. Wanneer jy vir hulle goeienag sê, bedek hulle met gebed. Wanneer hulle met huiswerk sukkel, bid saam met hulle daaroor. Bid dat jou kinders ‘n diepgaande sin van hulle plek in hierdie wêreld sal hê, en ‘n hemelse plek in die volgende een.
Sielskos: 2 Sam 17:14-19:43; Luk 8:1-15; Ps 123; Spr 18:13-16
2018-07-18
Lukas 8:41 NLV
Jaïrus het die sosiale status van ‘n burgemeester of biskop geniet. Wanneer jou kind egter in ‘n krisis is, sal al die status in die wêreld jou nie help nie. Jaïrus was ook nie die enigste ouer wat na Jesus toe gehardloop het toe moeilikheid aan sy deur kom klop het nie. ‘n Vrou het na Jesus gestorm en uitgeroep, ‘Here, Seun van Dawid, kry my tog jammer! My dogter is in die mag van ‘n duiwel en hy teister haar verskriklik’ (Matteus 15:22 NLV). Die vader van ‘n seun wat stuiptrekkings gekry het, het ook by die dissipels om hulp gesoek. Toe hulle hom nie kon help nie, het hy na Jesus toe gedraai en in trane gesê, ‘Ek glo!.. Help my tog om nie meer te twyfel nie!’ (Markus 9:24 NLV). In elke geval het Jesus gereageer. Hy het niemand weggewys nie. Hy sal jou ook nie wegwys nie! Jou kinders was immers eers sy kinders. Die Psalmdigter het gesê, ‘Kinders is ‘n gawe van die Here; ‘n vrug van die moederskoot’ (Psalm 127:3 NLV). Naas die gawe van verlossing, is kinders God se beste gawe aan jou. Selfs al is hulle joune, is hulle steeds syne. Dit wat syne is, beskerm en versorg Hy. Soos die Verlore Seun, mag hulle dalk elkeen van God se wette en jou hart gebreek het. Jou gebede is egter dit wat God ‘n uitnodiging en ingangspunt terug in hulle lewens gee. Die liefde van ‘n pa wat die Verlore Seun huis toe gedryf het, sal ook jou kind terugbring. Wat Jesus vir Jaïrus gesê het, sê Hy ook vandag vir jou: ‘…Moenie jou ontstel nie. Vertrou My net en dit sal goed gaan met haar’ (Lukas 8:50 NLV).
Sielskos: 2 Sam 14:21-17:13; Luk 7:36-50; Ps 118:19-29; Spr 18:10-12