Jaïrus (3)

2018-07-20
Lukas 8:55-56 NLV

Jy kan jou heel beste vir jou kinders doen en steeds staan waar Jaïrus gestaan het. Jy kan vir hulle lief wees, hulle beskerm en vir hulle bid, en steeds jouself om middernag in ongevalle of by die rehabiliteitskliniek tydens besoekure bevind, waar jy tussen twee stemme kies: wanhoop en geloof. Wie sou Jaïrus kwalik geneem het as hy opgegee het? Toe hy die eerste keer na Jesus toe gegaan het, was sy dogter kritiek, maar steeds lewendig. Terwyl hy egter met Jesus gepraat het, het die boodskap gekom: ‘…Jou dogter is dood…’ (vers 49 NLV). In daardie oomblik het Jesus na Jaïrus gekyk en gesê, ‘Moenie jou ontstel nie. Vertrou My net en dit sal goed gaan met haar’ (vers 50 NLV). Of dit nou is om die kind se siekte in sy spore te stuit of haar uit die dood uit op te wek, Jesus was die antwoord op Jaïrus se probleem. Hy is ook die antwoord op jou familie se probleem. Let twee dinge op wat Jesus gedoen het: 1) Hy het die mense weggestuur wat getreur het, maar geen geloof gehad het nie (sien Lukas 8:52). Wees versigtig wie jy naby aan jou toelaat, veral in tye van krisis. 2) Hy het die ouers in geloof verenig. ‘Toe hulle by die huis aankom, wou Jesus niemand saam met Hom laat ingaan nie, behalwe Petrus, Jakobus en Johannes, en die dogtertjie se pa en ma (vers 51 NLV). ‘Jesus vat haar toe aan die hand en sê hardop: ‘Staan op, my kind!’ En op daardie oomblik het die lewe in haar teruggekom, en sy het onmiddellik opgestaan!.. Haar ouers was oorstelp…’ (verse 54-56 NLV). Wanneer jy bid en jou geloof in Christus plaas, kan Hy dinge in jou familie doen wat jou sal verstom!

Sielskos: 2 Sam 20:1-22:30; Luk 8:16-25; Ps 133; Spr 18:17-20