Jaïrus (2)

2018-07-19
Klaagliedere 2:19 NLV

Die verhaal van Jaïrus is die storie van ‘n pleitende ouer en ‘n alomteenwoordige Redder. Dus, ‘Staan op… om jou hart soos water voor die Here uit te stort. Steek jou hande uit na Hom om te pleit vir jou kinders…’ Ouer, jy kan dit doen. Jy kan ‘n lojale voorstaander en ‘n getroue bemiddelaar wees. Jy kan jou vrese oor ouerskap na Jesus toe bring. As jy dit nie doen nie, mag jy dalk selfs jou vrese op jou kinders uithaal. Vrees verander sommige ouers in tronkbewaarders wat elke minuut monitor en die agtergrond van elke vriend ondersoek. Hulle onderdruk groei en kommunikeer wantroue. ‘n Familie met geen spasie vir asemskep nie, versmoor ‘n kind. Aan die ander kant, kan vrees ook permissiewe ouers kweek. Uit vrees dat hulle kind te ingehok sal voel, verlaag hulle hulle grense. Hoog op drukkies en laag op dissipline, besef hulle nie dat toepaslike dissipline ‘n uitdrukking van liefde is nie. Permissiewe ouers of paranoïese ouers – hoe kan jy hierdie uiterstes vermy? Deur te bid! Jesus het min oor ouerskap gesê, maar sy aksies spreek volumes oor gebed. Elke keer wat ‘n ouer bid, reageer Christus. Die groot boodskap van hierdie dagstukkie is: Wanneer jou kind ‘n krisis beleef, draai na Jesus toe. Moet egter nie vir die krisis wag nie. Stuur hulle elke dag met ‘n seëngebed skool toe. Wanneer jy vir hulle goeienag sê, bedek hulle met gebed. Wanneer hulle met huiswerk sukkel, bid saam met hulle daaroor. Bid dat jou kinders ‘n diepgaande sin van hulle plek in hierdie wêreld sal hê, en ‘n hemelse plek in die volgende een.

Sielskos: 2 Sam 17:14-19:43; Luk 8:1-15; Ps 123; Spr 18:13-16