Jou skuilplek

2018-07-16
Psalm 32:7 NLV

Het jy al ooit daaroor gefantaseer om weg te hardloop van al die stres van vandag se gejaagde lewe? Daar moet tog ‘n plek op aarde wees waar die pas stadiger en die lewe maklik is. Hierdie droom het ‘n familie in 1940 gemotiveer om na ‘n eiland genaamd Gaudalcanal in die Koraalsee te verhuis. Twee jaar later het oorlog egter in die Stille Oseaan uitgebreek en was daar ‘n stryd op hulle voorstoep. Uit die aard van die saak het hulle die verkeerde plek gekies. Waar kan jy gaan om die geraas en gejaagdheid van die stadslewe te ontsnap? Wat van ‘n klein eiland in die Karibiese See genaamd Grand Cayman? Vakansiegangers by hierdie oord sê dat dit die naaste ding aan ‘n paradys op aarde is. Die inwoners betaal geen belasting nie. Die water rondom hulle is kalm en warm en daar is orgideë wat orals groei. Klink idillies, nie waar nie? Daar is egter ‘n vangplek. Mediese studies het bewys dat die twee hoofsiektes waaraan inwoners van Grand Cayman ly, hipertensie en angsneurose is. Lewe op ‘n tropiese eiland is nie altyd wat dit voorkom om te wees nie. Kan dit wees dat die stres en druk waarteen ons stry, eintlik van binne onsself kom? Ja. Hierdie stres en druk gaan ons pla, maak nie saak waar ons lewe nie, totdat ons leer om ons omstandighede soos dit is, te hanteer. Hier is hoe die Psalmdigter dit gedoen het: ‘U is vir my ‘n skuilplek. U beskerm my van teëspoed. U omring my met liedere van redding. Die Here sê: “Ek sal jou onderrig en die pad wys waarop jy moet gaan. Ek sal vir jou raad gee, my oog sal op jou wees'” (verse 7-8 NLV).

Sielskos: 2 Sam 7:18-11:27; Luk 7:11-23; Ps 118:1-9; Spr 18:4-6